Luister weer: ‘Naand Josef’: donker komedie op sy beste


Albert Short het die tweede prys in RSG en Sanlam se Radiodramaskryfkompetisie in 2021 gewen met NAAND JOSEF. Dit word Donderdagaand, 20:00 in Radioteater op RSG uitgesaai.

Dis donker komedie op sy beste – ‘n spookstorie met ‘n kinkel – en die karakters is so kleurvol soos wat jy op ‘n uitgestrekte vlakte sal kry.

Die storie

‘n Man verdwyn soos ‘n groot speld terwyl hy oor die uitgestrekte vlakte reis. Die enigste mense wat op die vlakte bly is twee ou tannies in ‘n afgeleefde huisie. Beide in hulle 90’s. Maar hulle weet niks…of so sê hulle… wanneer die polisie bel om hulle daaroor te vra.

Hier is ‘n voorsmakie van wat Donderdagaand op jou wag:

Luister na die volledige drama:

Karakters en rolverdeling

 

Naand Josef se rolbesetting: van links na regs is Elsabe Zietsman, Rina Nienanber, Eloise Cupido en Charlie Bougeunon

Die rolle van die twee ou susters word vertolk deur Elzabe Zietsman en Rina Nienaber. Hulle speel al vir meer as ‘n dekade teenoor mekaar in een van die Afrikaanse TV sepies, en ken mekaar dus so goed soos sussies.

Charlie Bougeunon is Josef, en

Eloise Cupido is die sersant wat alles in haar vermoë doen om agter die kap van die byl te kom.

Tegniese bystand is deur Bongiwe Thomas gelewer.

Die regisseur is Renske Jacobs, en soos die twee hoofakteurs aan mekaar verbind is, bestaan daar ook ‘n verbintenis tussen die skrywer en die regisseur.

Albert Short vertel:

Albert Short

In 2009 het ek op ’n aand Renske Jacobs se spookprogram raakgeluister wat teen middernag op ’n Saterdagaand uitgesaai is. Ek was dadelik gretig om my hand aan spookstories te waag. Oor die daaropvolgende dae het ek ’n storie geskryf en aan Renske gestuur, wat dit teen my wildste verwagtinge aanvaar en sommer in die volgende program gebruik het. Dit was die eerste keer dat ek my skryfwerk met ander gedeel het. Hierdie ondervinding het my so geïnspireer dat ek vandag, ’n spookagtige dertien jaar later, my steeds in die spookwêreld begeef.

Nou, in 2022, het my nuutste drama, NAAND JOSEF, sy pad gevind na Renske se kantoor, nes daardie stories van 2009. ’n Mens kan sê ’n volle sirkel is voltooi, maar ek hoop dat dit nie die laaste sirkel is nie. Ek sou nooit kon droom van ’n meer perfekte sameloop van omstandighede nie. Renske het die drama dadelik verstaan en met die grootste respek hanteer. Sy het fyn gekyk en my verras met haar observasies. Ons geselsies oor NAAND JOSEF tel loshande onder die mees sinvolle gesprekke wat ek ooit gehad het.

NAAND JOSEF gaan vir my oor die verskuiwing van mag. Wie is regtig in beheer, en vir hoe lank? Soms vat dit net die geringste verandering om ’n situasie heeltemal om te dop. Soms is ’n mens slegs maar ’n haarbreedte weg van magteloosheid. Alhoewel die drama dalk vreemd en absurd mag oorkom, voel ek dit strook met hoe dinge in elk geval in die alledaagse lewe gebeur.

Tydens die skryf van NAAND JOSEF was ek self verras oor hoe die storie uitgedraai het. Ek het natuurlik ’n basiese idee gehad, maar die storie het ’n paar wilde draaie gegooi. En dit is wat die kreatiewe proses so wonderlik maak – dat jy, as skrywer, in beheer is, maar terselfdertyd ook maar net ’n hulpelose buitestaander en observeerder is.

Hierdie drama het my baie geleer omtrent die krag van klank. Dis een van die voordele wat radiodramas bo ander mediums het en dit maak sin om dit te gebruik sover jy kan. Kobus Burger het ook al genoem dat daar nog vele horisonne is om te verken sover dit klank betref. ’n Inspirerende gedagte met wonderlike moontlikhede wat wag om te gebeur!

Charlie Bougeunon (Josef)

Rina Nienaber (Liesbet) & Elzabe Zietsman (Koba)

Charlie Bougeunon (Josef), Eloise Cupido (Sersant Marie Greeff) & Rina Nienaber (Liesbet)

Charlie Bougeunon (Josef)

Eloise Cupido (Sersant Marie Greeff)

2022 se 1e dramaseisoen