Een uit 8 vroue gaan borskanker kry


Dit is van groot belang dat pasiënte wat met borskanker gediagnoseer word, diep asemhaal en nie onmiddelik in ’n radikale mastektomie injaag nie. Daar is tyd.

Goeie en deeglike ondersoeke en toetse kan die soort borskanker, die stadium en die behandeling bepaal, jou moontlik chemoterapie spaar, en jou kans op 10 jaar oorlewing verbeter.

Maar alles begin met gereelde mammogramme, want een uit agt vroue sal borskanker ontwikkel.

Marí Hudson gesels met dr Lizanne Langenhoven, ’n onkoloog by die Panorama Sentrum vir Chirurgiese Onkologie, oor die diagnose, klassifikasie en behandeling van borskanker.

Agtergrond-inligting

Lees en luister meer oor mastektomie en rekonstruksie hier: https://www.rsgplus.org/die-nuutste-feite-oor-n-mastektomie/

  • Daar is vier hoofgroepe borskanker volgens hul molekulêre struktuur, naamlik
    Twee soorte hormoongedrewe borskanker bekend as Luminale A en Luminale B.
    – A benodig n mastektomie en rekonstruksie, en hormoonbehandeling om estrogeenvlakke te verlaag,
    – terwyl B beide hormoonbehandeling en chemoterapie benodig.
    – Her2 positiewe borskanker benodig spesifieke terapie soos Herceptin of soortgelyke behandeling ná ‘n mastektomie/rekonstruksie.
    – Trippel negatiewe borskanker benodig chemoterapie na mastektomie/rekonstruksie.
  • Die soort borskanker en die stadium waarin dit gediagnoseer is, bepaal die oorlewing.
  • ‘n Mammogram is die enigste manier om borskanker vroeg op te spoor. Vroue tussen 40 en 55 behoort jaarliks ‘n mammogram te kry, en vroue ouer as 55 elke twee jaar.
  • Moderne mammograafmasjiene druk nie meer die bors so plat dat dit pynlik is nie.
  • Genetiese toetse op die kankerbiopsie om die soort borskanker te bepaal, word deur Mammaprint-toetse gedoen, wat dan aandui watter behandeling die beste is. Dié toetse dui ook aan of die kanker lae- of hoë risiko is, waar lae risiko beteken dat die kans dat die kanker maklik versprei, laag is.
  • 90% van vroue wat borskanker kry, het geen familiegeskiedenis van borskanker nie.
  • Genetiese toetse op die pasiënte wat wel ‘n familiegeskiedenis van borskanker het – ‘n ma, ouma, suster ens, kan bepaal of jy een van die mense is wat die BRCa1- of BRCa2-gene dra, of ander gene of mutasies wat jou en ou nageslag se kanse of borskanker verhoog is. Tans kan vir byna 100 gene wat met borskanker te doen het, getoets word. Dit kos sowat R5000.
  • As die knop groot is, word bestraling eerste gedoen om die gewas te laat krimp. As die knop klein is, kan die bestraling wel ná ‘n mastektomie/rekonstruksie gedoen word.

Besoek https://pacso.co.za/breast-cancer/ vir meer inligting.

Die grafika wys die gerottes van die knop . 1 duim = 2.5 cm, 2 cm = 5 cm ens.

 

Hoe groot is ‘n knop van 1 cm ens?

 

 

Lees en luister ook:

Die jongste oor borskanker

Borskanker: wat jy móét weet

Nog feite

Hier is enkele belangrike aspekte oor die Mammaprint toetse:
1. Ons gesels hier oor die DNS en gene in die kankerselle van borskanker.
Ons praat nie hier van borskankergene BRCA1 en BRCA2 soos wat Angelina Jolie dra, en haar risiko vir borskanker só hoog maak dat ‘n totale mastektomie ‘n goeie opsie is.

2. Die gene binne-in jou borskankerselle is anders as die gene in die normale selle in jou liggaam.
Sekere gene kan aangeskakel wees wat die gedrag van kankerselle verander sodat hulle vinniger verdeel. ‘n Normale borssel sal deur teenliggame in jou bloedstroom vernietig word sodra dit in die bloedstroom beland. Maar sekere borskankers word nie deur die teenliggame in jou bloedstroom herken as ‘vreemd’ nie, omdat die gene wat die herkenning moontlik maak, afgeskakel word, en ander gene wat afgeskakel moet wees, is weer aangeskakel, tot jou liggaam se nadeel. Sowat 50% van borskankers het nie die vermoë om te versprei nie. Dié wat wel kan versprei, kan jare lank dormant in dele van liggaam soos die koppe van lang skeletbene te gaan lê, net om sowat 5 – 10 jaar later wakker te word en na die kliere, skeletbene, longe of lewer te versprei. Maar die DNS toetse op die borskankerselle kan juis aandui watter selle die vermoë het om te versprei sodat die regte behandeling gekies kan word.

3. Daar is 4 soorte borskankers volgens hul genetiese of molekulêre gedrag, want dokters kyk nie meer soseer hoe die kanker van buite lyk nie of hoe groot die knop is nie, en of die kanker in ‘n melkbuis is nie – maar wel hoe sy DNS en dus sy programmering lyk. Sowat 50% van borskankerselle het nie die vermoë het om te versprei nie.
– Luminale A borskanker: sowat 37 – 38 verskillende mutasies en word hoofsaaklik gedryf deur estrogeen. Deur estrogeen te blokkeer met middels soos Tamoxifen en aromatase inhibitore, kan die kanker goed in bedwang gehou word. Sowat 66% van estrogeensenstiewe kankers is Luminale A borskanker. Luminale A kankerpasiënte kan dus bloot ‘n pilletjie sluk sonder chemoterapie en het ‘n goeie oorlewingsyfer.
– Luminale B borskanker: word ook gedryf deur estrogeen, maar ook deur ander faktore. Die behandeling met estrogeenblokkers soos Tamoxifen moet dus aangevul word met spesifieke chemoterapie wat 25% addisionele voordeeel bied
– Basale tipe borskanker – die kanker is weerstandig teen estrogeenblokkers, en die enigste behandeling is chemoterapie. Hulle is gelukkig ook meer gevoelig vir chemoterapie as die ander kankersoorte.
– Her2Neu-verrykte borskanker: dié soort borskanker word gedryf deur die Her2Neu-geen, en ‘n groep pasiënte (wat ook met die DNA toets geïdentifiseer word) reageer baie goed op die behandeling met Herceptin. Dié middels is baie duur, maar baie effektief vir die regte pasiënte. Dis nie effektief in die behandeling van enige van die ander drie groepe pasiënte nie.

4. Elkeen van dié vier soorte het verskillende meganismes wat hulle dryf, en geteikende behandeling om dié meganismes te neutraliseer, word vir elk van die vier groepe ontwerp en toegepas.
Vir drie van die vier groepe is geteikende behandeling beskikbaar, terwyl een groep wel baat kan vind by chemoterapie. Chemoterapie word dus tans onnodiglik aan byna 50% van borskankerpasiënte gegee; dit lei in só baie pasiënte nie tot beter oorlewingsyfers nie.

5. As jy pas met borskanker gediagnoseer is, sal jou behandelingspan bestaande uit ‘n kankerchirurg, ‘n onkoloog en ‘n radioterapeut verskillende toetse doen om te bepaal watter soort borskanker jy het, en hoe ver dit gevorder of versprei het.
Op grond van dié inligting, sal die chirurg die knop chirurgies verwyder indien dit nog nie versprei het nie. ‘n Borsrekonstruksie word in die meeste gevalle onmiddellik ná die knopverwydering gedoen – die kankerchirurg tree letterlik terug in die teater en ‘n span plastiese chirurge neem oor. Die resultate wat vandag moontlik is, is baie beter as selfs 10 jaar gelede. In soveel gevalle as die moontlik, word die tepel gespaar. Maar die resultaat en uitkoms hang BAIE af van die span chirurge – of die kankerchirurg die volle knop verwyder het, hoe die snitte gemaak word en hoe goed die plastiese chirurg is. Kies dus te alle tye die beste chirurge.
Die meeste pasiënte ontvang bestraling, wat deur die radioterapeut (‘n mediese spesialis wat in bestralingsbehandeling gespesialiseer het) gereël word.
Die chemoterapie of geteikende behandeling word bepaal deur die DNA van die kankerselle en hoe vroeg die kanker opgespoor is. Voorheen is chemoterapie vir alle borskankerpasiënte gegee, maar nou het dit duidelik geword dat net 50% van pasiënte daarby baat. Vir die ander 50% van pasiënte is ander, geteikende behandeling beter. As mens vir alle pasiënte chemoterapie gee, sal kans op sterfte met sowat 15% verminder, en 15% sal sterf ondanks die chemoterapie.