“Epiese” wendrama met June van Merch in Radioteater


RSG sluit vanjaar se “Seisoen van die wenners” af met Makkie onthou deur Adelle van Wyk. Hierdie radiodrama was die algehele wenner in RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie van 2020.

June van Merch

June van Merch vertolk die hoofrol in hierdie sterk, karaktergedrewe drama wat op Donderdag 29 April om 20:00 in Radioteater debuteer.

Die regisseur is Joanie Combrink.

Adelle van Wyk (47) is ’n arbeidskonsultant van Malmesbury en haar radiodrama is uit ’n totaal van 385 inskrywings as die top-inskrywing aangewys.

Luister na die volledige drama:

STORIE

Makkie Ghall word deur die polisie ondervra nadat ‘n lyk in ‘n swembad ontdek is. Vyftien jaar later maak ‘n vreemdeling sy verskyning en kort daarna begin Makkie vreemd optree. Haar susterskind en jong vriend ontferm hulle oor haar en geleidelik ontvou die ware gebeure van daardie noodlottige dag. Die volle waarheid maak egter eers twintig jaar later sy verskyning.

Dit is ‘n karaktergedrewe misdaaddrama  wat ook dieper kwessies aanraak. Die hoofkarakter, Makkie, glo enigiemand is tot goed in staat wat jy nie sal glo nie. Sy wonder ook op watter punt iemand ‘n slegte mens raak.

SPELERS

June van Merch is Makkie Ghall,

Simone Benjamin

Simoné Benjamin is Katy met

Dann-Jacques Mouton

Dann- Jacques Mouton as Patat.

André Weideman

Andrè Weideman kan gehoor word as Marius Olivier

Marcel van Heerden

en Marcel van Heerden is die Speurder.

TEGNIESE EN AKOESTIESE VERSORGING

Joanie Combrink

Die  meeste van die byklanke in die drama is deur die spelers self gedoen en Cassi Lowers was verantwoordelik vir die tegniese en akoestiese versorging. Stemmingsmusiek  is gekies om die atmosfeer van ‘n misdaaddrama te probeer weergee.

Die drama is in Kaapstad opgevoer onder regie van Joanie Combrink.

DIE SKRYWER – ADELLE VAN WYK

Adelle van Wyk

“Ek skryf al jare vir myself, maar het begin 2019, op die rype ouderdom van 45, besluit om myself aan die “mark te toets”, deur aan RSG en Sanlam se skryfkompetisie deel te neem,” vertel Van Wyk. Sy het in Junie 2019 RSG en Sanlam se gratis radiodrama-slypskool in Seepunt bygewoon. Sy was later die jaar ‘n finalis in die radiodrama-skryfkompetisie. Makkie onthou is dus haar tweede radiodrama.

“My eerste verhaal was vir die Bloemfonteinse Skrywersvereniging, waar ek die kortverhaalwedstryd vir ongepubliseerde skrywers gewen het. Daarna was ek ‘n finalis in RSG en Sanlam se radiodramakompetisie, is ek opgeneem in die Toyota US Woordfees se gepubliseeerde kortverhaalbundel, en het ek die teksfase van kykNET se Silwerkskermfees gehaal.

Ek het intussen ook ‘n verhoogteks gelewer vir die KKNK se Teksmark.”

Die beoordelaars het Adelle van Wyk se Makkie onthou as ‘n waardige wenner en uitstekende teks beskryf – ’n “epiese” drama van begin tot einde.

Lees meer oor Adelle van Wyk: https://swartlandjoernaal.co.za/news/van-wyk-het-vars-uitkyk-op-die-lewe/