Akademie vereer Johan Rademan (weer)


Johan Rademan

Johan Rademan, veelsydige en bekende radio-omroeper, sportkommentator, radiodrama-regisseur, reisprogram-aanbieder en samesteller van dokumentêre programme, word (vir die tweede keer) met ‘n erepenning vir radiohoorbeelde deur die Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer, en wel dié slag vir sy hoorbeeld oor Breyten Breytenbach, ‘Breyten Breytenbach – ‘n Ander skakering“.

Die erepenning word vanaand by die SA Akademie vir Wetenkskap en Kuns se suidelike bekroningsgeleentheid aan Johan oorhandig.

Die Hertzogprys word vanjaar toegeken aan die dramaturg Nicola Hanekom vir In Glas. Dié vernaamste prestigeprys in Afrikaans word jaarliks om die beurt toegeken vir prosa, poësie en drama. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het vanjaar se toekennings pas bekend gemaak. Die bekende akteur Marius Weyers is bekroon met ‘n besondere Erepenning vir sy uitsonderlike bydrae tot rolprent en TV-kuns. Die digter, Jolyn Phillips ontvang die Eugene Maraisprys vir haar bundel Bientang. Die bekende taalkundige, professor Wannie Carstens ontvang vanjaar die CJ Langenhovenprys vir Taalwetenskap. Die dirigent van die Tygerbergkinderkoor, Hennie Loock is bekroon met die Huberte Rupertprys vir klassieke musiek.

Johan se dokumentêr

Johan het in die dokumentêr saamgestel ter viering van die bekende Suid-Afrikaner, Breyten Breytenbach se 80ste verjaarsdag in September 2. Die spesiale program is saamgestel wat die fokus verplaas van sy skrywerskap, waarvoor hy alom bekend is in Suid-Afrika, na sy skilderkuns, drama en musikaliteit. In ‘n eksklusiewe onderhoud met Breyten brei hy uit oor sy ondergewaardeerde sy in Suid-Afrika, en hoe dit eintlik ‘n onontbeerlike komponent vorm van sy kunstenaarskap. Renaissance-kunstenaars het dikwels as filosowe, digters, beeldhouers, skilders en skrywers alle genres oorskry. Breytenbach is een van die enkele Suid-Afrikaners wat so ‘n Renaissance-kunstenaar is. Die program is in September 2019 op RSG uitgesaai. Luisteraars is voorgestel aan die kunsinnige sagte Breyten en die geharde rebel en heethoof, wat in een program saamgesmelt het en wat toegelig word met vriende en kenners, wat die genres saam met hom verken het.

Johan het gesê hy voel geëerd en dankbaar teenoor die Akademie vir die erkenning.

Johan Rademan gesels oor die erepenning waarmee die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns hom vereer het vir sy hoorbeeld, Breyten Breytenbach – ‘n Ander skakering. Luister na die onderhoud: