Klassieke, bekroonde ‘Uit die bloute’ in Radioteater


Die bekroonde regisseur Ilsé van Hemert se verhoogproduksie, Uit die bloute, het in die jare 90 landwyd opslae gemaak. Hierdie werk, saamgestel uit die skryfkuns van die digter en joernalis Eugène Marais. het so diep in kunstefeesgangers se harte gekruip dat dit selfs later herleef met ’n heel nuwe rolverdeling.

Anna-Mart van der Merwe

Op Donderdag 6 Mei om 20:00 in Radioteater kan luisteraars aansit vir die radioverwerking deur Van Hemert van haar oorspronklike produksie met Anna-Mart van der Merwe en Gys de Villiers. Die radio-verwerking, getiteld Rots van verskrikking, bevat ook die musiek, toonsettings en verwerkings van Marimba! (Abraham en Lizanne Helberg). Dit word uitgesaai ter viering van Marais wat vanjaar 150 jaar oud sou wees.)

Van Hemert het in 1996 die De Kat Herrie-prys tydens die tweede KKNK in Oudtshoorn ontvang vir hierdie produksie wat die grense van teater verskuif het.

Gys de Villiers

Twee kortverhale van Marais kry verbeeldingryk gestalte in hierdie musikale drama. “Die lied van die reën” vertel die storie van die soeke na water en in “Salas Y Gomez” word ’n jong boer vir maande vasgekeer op ’n rotslys en hy moet al sy kragte inspan om fisiek en emosioneel te oorleef. Die plaaswerf, die berge van Mamatola en die diepste emosies van die karakters word deur musiek en byklanke ingekleur.
Ilsé van Hemert is ’n bekende skrywer, regisseur en vervaardige in die teater- en TV-bedryf. Sy was reeksvervaardiger vir  “Scandal!” en hoofskrywer vir “Isidingo”. Sy was ook meer onlangs die skrywer en ontwikkelaar vir kykNET se “Spoorloos”.

DIE SKRYWER – EUGèNE NIELEN MARAIS

Eugene Marais

Eugène Marais is op 9 Januarie 1871 in Pretoria gebore en was onder andere bekend om die klassieke Afrikaanse gedig, “Winternag”. Dit word ook beskryf as die “eerste letterkundig betekenisvolle Afrikaanse gedig”.

Hy het as bioloog internasionale aansien geniet met werke soos Die siel van die mier, wat in Engels, Duits, Frans, Italiaans en Nederlands vertaal is. Vyftien kenners van die literatuur uit Afrika het dit later op hul lys van die tophonderd boeke van Afrika in die twintigste eeu ingesluit.
Marais se lewe en werk het Leon Rousseau genoop om sy bekroonde biografie, Die Groot Verlange, te skryf, terwyl wyle Reza de Wet haar drama, Verleiding, aan hom gewy het. Die regisseur Katinka Heyns en draaiboekskrywer Chris Barnard se rolprent Die Wonderwerker het ook oor Marais gehandel.