Kobus deel skatte uit RSG se potgooi-skatkis vol luisterjuwele  


RSG se potgooie is ‘n skatkis gevul met tydlose juwele. Kobus Burger, RSG se programbestuurder, het in die potgooi-argief op rsg.co.za gaan rondsnuffel en deel ’n paar hoogtepunte.

Die beste vervolgverhaal ooit,” het Fiena Lieuwes van Brakpan destyds geskryf toe die slotepisode van Anton Treurnich se middagstorie Sonduiker op RSG uitgesaai is.

Hierdie aksiebelaaide spanningsverhaal met akteurs soos Frieda van den Heever en Chris van Niekerk as Wolfgang het luisteraars daagliks laat uitsien na die volgende episode. Wolfgang is ‘n eksentrieke karakter wat ‘n hiëna as troeteldier aanhou! Al sestig episodes is onder Middagvervolgverhaal beskikbaar en bied ’n heerlike naweek van stroomluisterpret. Dit is in 2021 uitgesaai.

Onder RSG Kunsfees potgooi is daar ’n vermaaklike poësieprogram, Lief-lief deur Afrikaans, met Johann Nel en Joanie Combrink. Die twee akteurs neem die luisteraar op ’n soomlose liefdesreis deur die heel oudste en stoutste liefdesverse in Afrikaans. Met die werk van sowat 28 digters neem hulle interessante afdraaipaadjies. Daar is verlore en verbode liefde en dan ook die sensueliteit van ’n tango! Die regisseur is Juanita Swanepoel.

Oud en jonk was (en is steeds!) versot op die kostelike avonture van Poen en Toekie. Op RSG se potgooi is daar meer as 170 episodes, wat deur die skeppers Renske Jacobs en Christelle Webb-Joubert opgeneem is. En as jy nog nie van hierdie twee karakters gehoor het nie – waar was jy al die jare?

Weens die kopiereg mag RSG geen van sy boekvoorlesings op potgooi plaas nie, maar as ’n spesiale vergunning is die gesogte skrywer Jeanne Goosen se laaste werk, Sneeu in die Karoo, op RSG voorgelees en ook op potgooi geplaas. Die aktrise en kabaretsangers Elzabé Zietsman is die voorleser van hierdie ware verhaal. Dit handel oor Jeanne se verblyf in Nieu-Bethesda in 1992 saam met haar huishulp, Agnes. Hemel & See Boeke het hierdie boek postuum gepubliseer en bederf luisteraars dus aanlyn met hierdie voorlesing.

Met die vermaarde digter Lina Spies se tagtigste verjaardag in 2019 het RSG se Johan Rademan saam met haar en haar goeie vriend, Nic de Jager, in Stellenbosch se Botaniese Tuin gaan kuier. (Nic de Jager ontvang later vanjaar ’n lewensprestasieprys van die SA Radio Awards en word hy in hulle Hall of Fame opgeneem). In Rademan se Majesteit die kat, ’n dokumentêr, gesels hy en Spies oor haar digwerk, persoonlike lewe en haar liefde vir katte. En De Jager lees van haar beste verse voor. Die dokkie is onder RSG Dokumentêr beskikbaar.

Vir heerlike lekkerlagvermaak en musiek, gaan soek onder Spesiale uitsending potgooi na Woordketting 2022 onder leiding van Ilse Salzwedel. Die digters Johan Myburg, Philip de Vos, Diana Ferrus en Andries Bezuidenhout sorg vir komiese woordpret. Hulle moet binne enkele minute nuwe versies skep en as luisteraar is ‘n mens verras waarmee hulle vorendag kom. Eloise Cupido is die voorlesings en die program bevat ook die toonsettings van geliefde gedigte.

Gaan na rsg.co.za en klik op POTGOOI vir hierdie luisterjuwele (https://www.rsg.co.za/rsg/page_id344/)