Luister 17 Junie: Boeretroos


Boeretroos is die talentvolle 26-jarige Meestersgraadstudent Erica Harris se 3de radiodrama. Dit word uitgesaai op RSG Radioteater Donderdagaand 17 Junie om 20:00
In haar eie woorde: “Wel, tegnies is dit eintlik my 4de radiodrama as jy die mislukte een by tel.” Nietemin in 2015 en 2017 het sy die pryse vir Jong Skrywer in die RSG/Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie ingepalm met die radiodramas Die Eksentriekes en Oorlewing: C-Blok, onderskeidelik. Oorlewing: C-blok is ook in 2018 verwerk in ‘n televisiefilm deur Deon Opperman vir Kyknet.
Boeretroos handel oor mense wat hulle plek in die samelewing asook hulle identiteit soek. Die hoofkarakter is ‘n briljante, oorwerkte en onderbetaalde, siniese joernalis wat teesinnig ‘n storie opvolg oor die tergende geheim en identiteit van kwaaijongens wat amok maak en verwoesting saai. Gaan sy volhard om agter die kap van die byl te kom om die skuldiges aan die pen te laat ry en sodoende dalk ook help om ‘n moord op te los of gaan sy die handdoek ingooi op alles?

Boeretroos spog met ervare radiospelers in die rolverdeling soos Rina Nienaber, Andre Stolz, Johny Klein, Denver Vraagom en Kaz McFadden. Karen Wessels vertolk die hoofrol.

Die regisseur is Duncan Johnson.

Duncan Johnson

Regisseursvisie (Duncan Johnson)

Op die oppervlak blyk dit dat die radiodrama Boeretroos, geskryf deur Erica Harris, ‘n storie is oor ‘n briljante, siniese, oorwerkte en onderbetaalde joernalis wat teesinnig moet help om ‘n storie oor aanhoudende kwaaijongstreke wat meer en meer in ernstige misdaad ontaard moet probeer ontrafel.

Maar as mens bietjie dieper delf tydens die moord storie, ontdek jy dat die drama ook gaan oor die karakters se individuele soeke na identiteit; waar hulle in die samelewing inpas; en die bevraagteken van die sin van die lewe en hulle eie hartseer eksistensie.

In hulle verskeie rolle het die ervare radiospelers soos Rina Nienaber, Andre Stolz, Denver Vraagom, Kaz McFadden en Johny Klein hulle uitstekend van hulle take gekwyt. Dit was veral lekker om Karen Wessels in die hoofrol te kon he na haar lang afwesigheid in radiodramas.

Spelers van links na regs: André Stolz, Rina Nienaber, Johny Klein, Denver Vraagom, Kaz McFadden en Karen Wessels.