Luister weer in radioteater na ons ligte ‘whodunnit’


Donderdagaand (21 Desember) om 20:00 in RSG se Radioteater kan jy luister na Eleanor Lombard se ligte ‘whodunnit’, Die Skuldige Is Dus..

Die storie

‘n Raaisel is nou maar eenmaal ‘n ding wat opgelos wil word.  Oor die jare verkneukel ons ons in die slimgeit van ‘n Sherlock Holmes en ‘n Hercule Poirot.  En dan is daar adjudant-offisier Lokkie Homes en sy oor-ywerige assistant Jamie Watson.

Adjudant-offisier Lokkie Homes en sy assistent, sersant Jamie Watson, ontvang ‘n oproep: ‘Julle moet dadelik kom. Ek dink iemand is vermoor!’ Soos hulle ondersoek vorder blyk dit dat die slagoffer se hele huishouding elkeen ‘n motief het om hom vankant te maak.

Wie is die skuldige? Dit mag jou verras!

Eleanor Lombard se drama, Die Skuldige Is Dus.. is ligte tong-in- die-kies vermaak vir (oplettende ) nuuskierige agies. Kyk of jy die raaisel kan oplos voor Lokkie en Jamie dit doen!

Die rolverdeling

André Samuels

Die op-en-wakker adjudant-offisier Lokkie Homes word vertolk deur die ervare akteur André Samuels.

Cole Wessels

Sersant Jamie Watson, die op-en-wakker speurder se soms oor-entoesiastiese assistent, word vertolk deur Cole Wessels.

Ronel Geldenhuys

Ronel Geldenhuys kan gehoor word as die onbedroefde weduwee, Sandy Vermeulen.

Adriaan Havenga

Adriaan Havenga is die oorledene en die weduwee se kansvatter stiefseun, Nico Vermeulen.

Johann Nel

Johann Nel vertolk die rol van Koos Vermeulen, pa van die oorledene, en oupa van Nico. Hy is oud, maar nog nie koud nie!

Karli Heine

Karli Heine kan gehoor word as Koekie, die huishoudster, ‘n meisie met geheimpies.

Die regie is behartig deur Amor Tredoux.

Die tegniese en akoestiese versorging is deur Cassi Lowers.

Voor van links na regs: André Samuels en Karli Heine
Agter: Johann Nel, Adriaan Havenga, Cole Wessels, Ronel Geldenhuys en Amor Tredoux, die regisseur.