Luister weer na ‘Geldjie Asseblief’


Op 30 November word GELDJIE ASSEBLIEF uitgesaai. Dit is ‘n verhoogteks wat in 2018 as die wenner van die NWU Kampustoneel bekroon is en het deurgedring na die Pronk Podium finaal.

Die hartroerende storie plaas die kollig op ‘n groepie mans wat op straat leef. Die skrywers is Casper Lourens en Henry Jacobs. Luisteraars sal Casper onthou as een van die akteurs wat destyds in Ratels gespeel het.

Die spelers is Leon van Nierop, Kaz McFadden, Johny Klein, Casper Lourens, Henry Jacobs en Pietie Beyers.

Die regisseur is Luan Jacobs.

Tegniese versorging is deur Frikkie Wallis en Thato Maphoromo.

Die span aan die werk. Van links kloksgewys is Luan Jacobs, Leon van Nierop, Casper Lourens, Pietie Beyers, Johny Klein en Kaz McFadden.

Regisseursvisie

Luan Jacobs skryf:
“Die eerste keer toe ek die teks van Geldjie Asseblief kon vashou, het ek dadelik ’n prentjie van ’n bierbottel in my kop gekry. Somtyds gebruik regisseurs prentjies in teater om ’n visie in te kleur en die produksie se hart te laat klop. Wyle Augusto Boal het hierdie konsep verfyn in sy Forum Theatre beweging wat mens teëkom in dramateorie.

Dié prentjie het my wakker gemaak vir die idee dat die storie baie groot kan begin, met groot karakterisering soos ons ons helde ontmoet. Later het die storie begin bottelnek met ’n gemoedelike, ge-ankerde, holistiese hartklop wanneer die karakters hul belydenisse aflê en hulle MENSCH(e) word.

Ek wou ’n deurleefde wêreld skep, waar ons hierdie mense ontmoet in ’n dag in hul lewens.

Die karakters is gesement in hul wesens. Ek het met Frikkie Wallis en Thato Maphoromo in diepte gesels oor maniere om hierdie gevoel teweeg te bring. Ons het besluit om van die skerms nader aan die mikrofoon te skuif om sodoende die gevoel van beknoptheid te skep wanneer die karakters hul dag aan- en afskakel. Dit skep ’n gevoel van bekendheid waar hul kwesbaarheid kon seëvier. Ek wil die gehoor nader bring aan die mense agter die omstandighede.

Leon van Nierop

Om ’n verdere tegniese visie van hierdie deurleefdheid te vestig, moes ek en die span die vloer besaai met rommel, blikkies en kartonbokse waarop die akteurs kon beweeg. Daar is ’n toneelspeltegniek genaamd Method Acting wat die akteur kan gebruik om homself te oorreed dat hy die karakter is. Ek het die akteurs bewus gemaak van ’n element van hierdie tegniek wat ons gebruik het in byklanke. Die resultaat is letterlik dat die akteurs sonder om te fokus op byklanke, natuurlike byklanke skep net deur hul bewegings tussen dialoog en tonele in ’n semi-natuurlike omgewing.

Die geselskap van akteurs is ook van so ’n hoë gehalte dat mens jouself in die regisseurstoel vang dat jy net luister en geniet.

Leon van Nierop bring hart en siel na hierdie verhaal met sy deurnis met die karakter Dries.

Kaz McFadden

Kaz Mcfadden en Johny Klein laat jou een oomblik van jou stoel af voeter soos mens lag vir Koos en Fridge en dan slaan hulle vir jou met ’n ses met die meer emosionele tonele.

Johny Klein

Casper Lourens as Ben is een van die grootste aanwinste waarvoor mens kon vra, nie net as regisseur nie, maar ook as ’n nuwe opwindende stem in die industrie.

Casper Lourens en Henry Jacobs is die twee ongelooflike jong skrywers van Geldjie Asseblief; dus kon Lourens baie

Casper Lourens

fyn nuanses in sy spel inbring wat ek as regisseur net kon koester en in ’n rigting saam met my visie stuur.

Pietie Beyers as die dominee bring ’n verstandhouding na die karakter wat hom beide geliefd en soms intimiderend kon maak.

Pietie Beyers

Die lae van respek, liefde en verstandhouding vir die karakters wat hierdie akteurs na die ateljee gebring het, was meer as wat ek ooit voor kon vra.

Ek is nie bang om hierdie storie te vertel nie, want helaas bring hierdie verhaal genesing na die nasie toe. Geldjie Asseblief het my nader gebring aan ’n nalatenskap waarop ek trots kan wees.

Ek hoop jy geniet Geldjie Asseblief en leer dalk iets omtrent jou eie “Goue Uur”.

In die atlejee. Frikkie Wallis is heel links, met Luan Jacobs in die middel.