Luiste weer na die liefdesverhaal ‘Soete Drome’


Donderdagaand  blom die liefde in RSG se Radioteater, wanneer die dramaseisoen se enigste liefdesverhaal uitgesaai word.

SOETE DROME vertel die verhaal van twee mense, met bagasie uit die verlede, wat mekaar toevallig ontmoet en deur omstandighede deel word van mekaar se lewens. Klink dit bekend? Dan is dit omdat dit ‘n verhaal is wat al in soveel mense se lewens op een of ander manier afgespeel het. En daarom is dit ‘n drama waarmee talle mense sal kan identifiseer en aanklank by sal kan vind.

Die gesoute akteur en stemkunstenaar, Karen Wessels, maak haar debuut as skrywer met hierdie werk, en sy speel ook die hoofrol teenoor die ewe ervare kunstenaar, Robbie Wessels. Nee, hulle is nie familie van mekaar nie – die ooreenkoms in vanne is ook toevallig.

 

Onder: Karen Wessels (Judy) en Marina Coetzee (Liza)

Die ander akteurs is Altus Theart, Johny Klein, Renske Jacobs (ook die regisseur) en Marina Coetzee.

Dis nie net die storie waarby mense sal aanklank vind nie – die musiek is met die hand uitgesoek om nostalgie op te wek en aan te wakker. Jy gaan wil saamsing by elke musiekbrug, en luister fyn….in die agtergrond van ‘n paar tonele sal jy hoor hoe treffers funksioneel aangewend word om deel van die drama se musiekontwerp te word.

Ontsnap vir ‘n uur van die wereld se bekommernissee en geniet die storie van Ben en Judy en hoe hulle mekaar in ‘n bokskryt gevind het. Want soms is die liefde ‘n uitklophou!

Altus Theart (Coenraad), Renske Jacobs (Danielle) en Robbie Wessels (Ben)

Marina Coetzee (Liza) en Johny Klein (Jakes)

Skrywersnota

Karen Wessels

SOETE DROME is gebore uit my bederfde pad wat ek nou al vir meer as 20 jaar saam met die radiodrama-medium stap.

Die inspirasie daarvoor was nooit om as skrywer geklassifiseer te word nie, maar meer as ‘n selfsugtige daad om as akteur weer agter die RSG-mikrofoon te kan staan en te kan speel saam met kollegas wat al dekades deel van my loopbaan was en is.

Ek het as akteur die tegniek van radiospel by die beste geleer, daarom noem ek my pad “bederf”.

Regie onder die temperamentele en briljante, Evert en Mari Snyman, en organiese speltegniek van die formidabele en geduldige, Richard van der Westhuisen. Daarom koester ek nog altyd ‘n diepe liefde vir die radio-mileu.

SOETE DROME is nie groot kuns nie. Dit is nie Shakespeare of Kafka nie en probeer nie om te wees nie. Die storie gebruik die kragtige medium van radio om die luisteraar te laat verdwaal in soetsappige romanse.

En hoekom nie? Ons almal droom van ‘n romantiese ontmoeting, georkestreer deur die elemente wat geen aardse wese verstaan of kan beheer nie. Twee verlore soekende harte wat op die regte plek en tyd ontmoet, met die natuur se magte wat hulle onverwags op mekaar se pad plaas.

Wat ‘n eer om deel van RSG se dramaseisoen te kan wees. Om my naam op die gesogte lys te sien en hoor. Ek dink terug, met ‘n knop in my keel, aan die middae as tiener wat ek na skool op my fiets verwoed gejaag het om betyds te wees vir die middagdrama. Nooit vir ‘n oomblik sou ek kon dink dat ek 30 jaar later my naam as skrywer oor die radiogolwe sou hoor nie.

My hart giggel van opgewondenheid en verbasing. Dankie aan die RSG-span wat plek in die seisoen gemaak het vir ‘n romantiese verhaal. Dit is ‘n groot oomblik in hierdie kunstenaar se loopbaan en lewe.

Daarom: skink ‘n glasie wyn – dalk saam met ‘n eenvoudige maar smaaklike kaasbordjie – sit terug en geniet die taal van die liefde – onverstaanbaar, maar tog so eenvoudig.

Altus Theart (Coenraad) en Robbie Wessels (Ben)

Nanda Khoza – tegniese bystand