Luister weer na ‘Taaispul’, nog ‘n wendrama


Luister Donderdagaand net agtuur na Taaispul deur Madeleine Venter.  Taaispul is die derde prys wenner van RSG se radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV.

Die rolle word vertolk deur Anton Dekker, Anton Schmidt en Elma Potgieter. Die jonger weergawes van die karakters is vertolk deur Charlie Bourguenon, Izel Bezuidenthout en David Louw. Regie is behartig deur Mari Snyman.

 

Die storie

Ou liefde roes nie – so lui die spreekwoord. As dit jou het, het dit jou. Daar is nie wegkomkans nie. Vir Dirk is die liefde ‘n taaispul. As dit jou eers vat, is dit klaarpraat. Dit los jou nie weer nie. Selfs nie na amper vier dekades nie, Ja, Dirk kry op sy oudag spyt oor die skoolliefde wat hy veertig jaar gelede deur sy vingers laat glip het. Hy glo vas dat die glibberige Eben destyds vir Lea van hom afgerokkel het, en besluit dat dit nou die tyd is om haar terug te wen.

Hy probeer alles in sy vermoë om sy jeugliefde terug te wen. En die eksentrieke Katrien, ‘n Help-‘n-senior-vrywillige, help hom – teen betaling natuurlik. Maar die vraag is, gaan Lea haar man, Eben, los vir Dirk. Haar eerste en eintlike liefde. Dirk glo die inligting wat hy oor Eben het, gaan Lea oortuig.

Die skrywer

Madeleine Venter (46), ‘n gekwalifiseerde grondslagfase-onderwyseres van Krugersdorp, het die derde prys ontvang vir Taaispul. Venter was in 2022 ‘n finalis in die RSG radiodrama-skryfkompetisie met haar teks, Tyd vir ‘n wonderwerk.

Die akteurs

Bekende, gevestigde akteurs vertolk die rolle van Dirk, Eben en Lea – Anton Dekker, Anton Schmidt en  Elma Potgieter. En die entoesiasme met die opname van die drama was aansteeklik. Maar dis wat radio aan akteurs doen. Hulle leuse is gereeld – dit voel nie regtig soos werk nie – daarvoor geniet ons dit te veel.

En as die jonger weergawes is daar Charlie Bourguenon as Eben, Izel Bezuidenthout as Lea en David Louw – wat van sy plaas in die Vrystaat af Johannesburg toe gery het vir die opname – as Dirk. Katrien is Christine Voorendyk.

Van links is Izel Bezuidenhout, Christine Voorendyk, Charlie Bouguenon (agter), Anton Schmidt, David Louw, Elma Potgieter en Anton Dekker.

Van links kloksgewys om die tafel: Anton Dekker, (met sy rug na kamera), Mari Snyman, Christine Voorendyk, Charlie Bouguenon, Izel Bezuidenhout, David Louw, Elma Potgieter en Anton Schmidt.

RSG se eerste dramaseisoen van 2024