RSG se eerste dramaseisoen van 2024


Die nuwe drama seisoen is belaai met opwindende dramas vir elke oor. Die sukses van die vorige seisoen kan duidelik gemeet word aan die hoeveelheid potgooi luisteraars en reaksie op ons digitale platforms. Hierdie komende seisoen is ‘n voortbou op die fondasies wat reeds gelê is in die lang geskiedenis van radio teater by RSG. Die komende seisoen verskuif grense met nuwe skrywers en uitdagende temas.

Die seisoen open op 29 Maart op 14:00 met die paasdrama, waarna Luisteraars elke Donderdag om 20:00 kan inskakel vir radiotetater.

Jy kan na hierdie dramas wat reeds uitgesaai is, op potgooi luister (Klik op die skakel)

Die seisoen begin amptelik met ‘n paasdrama, Lam vir die Pase, op Goeie Vrydag. Die verhoogteks is deur Nico Luwes geskryf en verwerk vir radio. Lam vir die Pase gee ‘n blik op die feilbaarheid van die mens. Met Duncan Johnson, Elzabé Zietsman en Henriëtta Greyfenberg Plattner as deel van die rolverdeling kan luisteraars uitsien na ‘n hartroerende luister ervaring. Eddie de Jager maak sy buiging as regisseur.
Die RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die AKTV se wendramas en spesiale toekennings vermaak die seisoen gedurende April. Uit die pen van die 2023 wenner, Lena Nel, kom Tweegesig wat handel oor ‘n komplot wat toneel vir toneel ontvou as Hanri haar pad oopbeur deur ‘n web van raaisels tot ‘n skokkende gevolgtrekking. Jy kan uitsien na ‘n spannende aksie op radio met die bedrewe Leon van Nierop in die regisseurs stoel en ‘n sterk rolverdeling met Karen Wessels, Charlie Bouguenon, Solomon Cupido en Ria Smit.

Anneli du Preez het die tweede plek losgeslaan met haar teks, Verraad, wat die titel gestand doen. Phillip en Jaco is ‘n getroude paartjie wat alles met mekaar deel tot die dag wat die damwal breek. Luan Jacobs behartig die regie met Botha Enslin, Philru van Achterberg, Christo Compion en Mandi du Plooy in die rolverdeling. Luister komende Donderdag!

Waarna jy nog kan uitsien

Taaispul deur Madeleine Venter in die derde plek werp ‘n komiese blik op die intrige om ou liefde weer terug te wen. Ons moet die karakters in verskillende fases van hul lewens. Dit word kundig afgewissel deur Mari Snyman as regisseur met Elma Potgieter, Izel Bezuidenhout, Anton Dekker en David Louw.

Almé Swart is as jong skrywer aangewys met haar teks, Blommekroon vir Belinda. Pogings om Belinda se toestand te ontrafel ontbloot net meer geheime. Amor Tredoux versorg die drama as regisseur met Anna-Mart van der Merwe as Belinda, en ander sterk spelers soos Elanza Swart, Ronel Geldenhuys, Stefan Vermaak en Chloë van Rooyen in die rolverdeling.

Die tentoonstelling van 2023 se wendramas word afgesluit met die merieteprys wenner, Shirley se Skuld, deur Anene Loots. Die wêreld van ‘n tehuis vir bejaardes word in die fynste besonderhede geskep in hierdie drama. ‘n Komiese weergawe van oor en weer beskuldigings loop uit op ‘n onverwagse liefde en ‘n dure les. Joanie Combrink as regisseur met Susanne Beyers, ma en dogter Elsabe en Roeline Daneel, Zenobia Kloppers, Dean Balie en Nic de Jager. RSG bedank die ATKV vir hulle volgehoue samewerking met die radiodramaskryfkompetisie.

Jakarta Mamma, is op 9 Mei die Moedersdag aflewering van ‘n ma wat haar dogter uit ongewenste omstandighede gaan red. Lee Doubell skryf oor taal-en kultuurgrense ‘n roerende drama oor die onvoorwaardelike hart van ‘n moeder. Frieda van den Heever het gesorg vir die regie met June van Merch, Miché van Wyk, Joanie Combrink en De Klerk Oelofse.

Francois Bloemhof sorg weereens vir ‘n spanningsvolle drama met Dink jy darem nog aan my. Sy liefde vir verhale wat op klein dorpies afspeel, was die inspirasie vir hierdie drama. Om te vlug laat jou soms hardloop na groter moeilikheid. Christelle Webb-Joubert pak hierdie drama aan saam met Nadia Valvekens, Rika Sennet, David Louw, Claudia Jones en Botha Enslin.

Pietie Beyers

Radio debuut skrywers Almero Welgemoed en Pietie Beyers het min bekendstelling nodig. Almero se werk kan meesterlik gehoor word in sy musiek, maar die keer sit hy sy pen op papier vir ‘n radio drama. Pietie Beyers is alombekend as gereelde speler in RSG radiodramas. Die Spreekkamer, gelyknamig aan die teaterteks, is deur Almero en Pietie verwerk en volgens hulle het beide“’n volgehoue waardering vir die proses van terapie asook die voordele wat dit inhou..”  Almero het self sielkunde studeer. Die kompleksiteit van mense se verhale wat in ‘n sielkundige se spreekkamer ontvou is baie keer besonders unieke verhale wat tog ‘n universele tema bevat – om te behoort, om veilig te wil wees, om lief te hê, om seer te kry. Pietie Beyers debuteer as regisseur met oorspronklike musiek deur Almero Welgemoed in Die Spreekkamer..

Fanie Viljoen het ‘n pittige, komedie, Die Wegraping van Tannie Kleintjie de Preez, geskryf. Tannie Kleintjie glo vas die wegraping is op haar en sy is vasberade om haar seun, skoondogter, hulp en die se kleinkind te oortuig van haar saak. Die dominee probeer nog paai en vermaan, maar dit sterk haar verder in haar oortuiging.

RSG stof twee spog dramas uit die argief af, Plaston: DNS -kind deur PG du Plessis en ‘n verwerking van Shakespeare se Hamlet. Plaston (Grieks vir ‘hy wat gemaak is’) is ‘n 19-jarige, beeldskone jong man wat kunsmatig deur wetenskaplikes geskep is. Hy kom op die afgeleë dorpie Aardendal aan waar hy in die gemeenskap geïntegreer word en terselfdertyd fyn dopgehou word. Hier ontmoet hy vir die eerste keer ander mense, soos die dorpsidioot, die mooi jong meisie Kotie en die predikant Genopen. Plaston word vertolk deur Richard van der Westhuizen.

Hamlet Is deur Alwyn Lee verwerk, en die rol van Hamlet word vertolk deur Chris van Niekerk

Hein Poole is bekend as speler in RSG radiodramas. In die seisoen hou hy sy lyf ook skrywer met sy debuut drama, Wringkrag Kinners. Hein vertel dat die stories van ouers, groot ouers, vriende en familie wat naastes aan geweld, dwelms en misdaad afstaan hom na aan die hart lê. Hy skets ‘n volledige beeld van die lewe in gemeenskappe waar rasende motors en polsende musiek die pas aangee. Die drama vind plaas onder spelleiding van Denver Vraagom.

Die eerste drama seisoen vir 2024 sluit af met nog ‘n debuut skrywer. Die lekkerste lag word gelos vir laaste met Pietman Geldenhuys se O, die donkie. Pietman se ore is altyd gespits vir staaltjies en grappies.. In hierdie komedie ontmoet stad en platteland mekaar in interessante penaries soos net Pietman dit kan vertel. Die storie neem jou na ‘n padstal in die Tankwa Karoo. Johan Rademan is net die regte keuse om die regie te behartig vir die storie.

Ons sien uit na lekker luister genot saam met ons luisteraars. Indien jy ‘n drama misgeloop het is dit altyd beskikbaar as potgooi by www.rsg.co.za

Hier is die seisoen in ‘n neutedop:

TEKS SKRYWER REGISSEUR
29 Maart Lam vir die Pase

Nico Luwes Eddie de Jager
4 April Tweegesig (Wenner)

Lena Nel Leon van Nierop
11 April Verraad (Naaswenner) Anneli du Preez Luan Jacobs
18 April Taaispul
(Derde)
Madeleine Venter Mari Snyman
25 April Blommekroon vir Belinda
(Jong skrywer)
Almé Swart Amor Tredoux
2 Mei Shirley se Skuld (Merieteprys) Anene Loots Joanie Combrink
9 Mei Jakarta Mamma (Moedersdag tema) Lee Doubell Frieda van den Heever
16 Mei Plaston: DNS-kind
PG du Plessis Argiefdrama
23 Mei Dink jy darem nog aan my Francois Bloemhof Christell Webb-Joubert
30 Mei Hamlet
Shakespeare Argiefdrama
6 Junie Die Spreekkamer (gelyknamig aan die teaterteks) Almero Welgemoed en Pietie Beyers Pietie Beyers

 

13 Junie Die Wegraping van Tannie Kleintjie du Preez Fanie Viljoen Anrich Herbst
20 Junie Wringkrag Kinners

Hein Poole Denver Vraagom
27 Junie O, die donkie

Pietman Geldenhuyus Johan Rademan