Luister weer na ‘Dag in, nag uit’


Ter voorbereiding van die viering van RSG se 85ste verjaarsdag, word Dag In, Nag Uit deur Vincent Pienaar op Donderdagaand 20 Oktober om 20h00 uitgesaai. Dit is ‘n produksie wat geweldige uitdagings aan tegnici, die akteur en regisseur gestel het.

‘n Luitenant-kolonel in die polisie kom voor ‘n keuse te staan. Of hy gaan voort met sy gewone lewe op ‘n doodgewone salaris, gelukkig gegtroud met ‘n vrou en baba-dogtertjie, of hy gee hom oor aan die verleidings van ‘n gevaarlike spul booswigte wat hom wil dwing om ‘n kollega te verraai. Hierdie drama vertel presies wat gebeur het, en dis op ‘n ware verhaal gebaseer.

Die drama kon net opgeneem word danksy die hulp van die SAUK se uitmuntende tegniese span, Bongi Thomas (spesiale akoestieke) en Frik Wallis (byklanke.) Die teks het reuse-uitdagings in hierdie verband gestel. Van die radio se beste spelers word in die hoofrolle gehoor, soos radio-veteraan-akteur Anton Dekker as Kolonel Butch, Charlie Bouguenon as sy kollega Ricky, André Stolz as die polisieman wat die regte paadjie probeer bewandel, Tops, en die gevaarlike booswig Joe, gespeel deur Stefan Vermaak.

Die regisseur is Leon van Nierop.

Die skrywer, Vincent Pienaar, beskryf sy teks só:

“Die is nie slegs die sluipmoord op Luitenant-Kolonel Charl Kinnear wat gelei net tot die drama van Dag in, Nag uit nie. Dit is die meëdoenloosheid daarvan wat so afstootlik is. Die “honest cop” wat suiwer net “uitgehaal” is. Dit is asof nie net Kinnear nie, maar ook sy familie, dit verwag het.

Maar Kinnear se geval is slegs ʼn nietige mikrokosmos van die kondisie in ons geliefde Mzansi. “Gee niemand meer om nie? Was Kinnear maar net nog ʼn platpoot wat in die pad van georganiseerde misdaad gekom het – en die prys betaal het?”

Luister Donderdagaand 20 Oktober om 8 uur na hierdie besondere en ontstellende verhaal.

Agter: Bongi Thomas, Frik Wallis, Estel de Beer, Anton Dekker, Donovan Pietersen, Charlie Bouguenon, Leon van Nierop.
Voor: Stefan Vermaak, Elma Potgieter, Andre Stoltz.