Luister weer na die wendrama Tweegesig


In die RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV se 2023 wenner, Tweegesig, verander ‘n doodgewone dag in ‘n dramatiese en hoogs plofbare situasie.

Die vonke spat 4 April op RSG in Tweegesit net hier op RSG.

Die storie
Tweegesig is ‘n spioenasieriller oor die hoof van ‘n tegnologiemaatskappy wat tydens ‘n fietsrit geskiet en beroof word. Die twee mense wat hom te hulp snel, word saam met hom meegesleur in ‘n wipwaentjierit propvol kinkels.

‘n Mens moet nooit te maklik vertrou nie. As dit blyk te goed om waar te wees, is dit gewoonlik so. Sake neem ‘n dramatiese wending wanneer Alexander Brink gewond word, en in die hospitaal wakker word. Skielik staan die pragtige Hanri van Wyk staan langs sy bed. Sy beweer dat hulle verloof is. Dis maar net die begin van die oëverblindery.

Die komplot ontvou toneel vir toneel as Hanri haar pad oopbeur deur ‘n web van raaisels tot ‘n skokkende gevolgtrekking. Hanri is nie van plan om net so met haar te laat mors nie. Eers ‘n skoot en toe ‘n wond wat wawyd oop gevlek moet word.

Die beoordelaars het gesê dis ‘n puik spanningsdrama met slim en weldeurdagte dialoog. Dit is beskryf as “heerlike radioteater uit die boonste rakke”.

Die spelers
Jy kan uitsien na ‘n spannende aksie op radio met die bedrewe Leon van Nierop in die regisseurstoel en ‘n sterk rolverdeling met Karen Wessels, Charlie Beuguenon, Antowan Nothling, Solomon Cupido, Shemane Harris, Ria Smit en Eddie de Jager.

 

Heel agter van links na regs: Charlie Beuguenon, Karen Wessels en Antowan Nothling, Agter van links na regs: Shemane Harris, Leon van Nierop, Solomon Cupido, en Eddie de Jager. Sittend voor: Ria Smit,

Die regisseur Leon van Nierop (middel) met die klank- en tegniese span.

Die skrywer
Lena Nel (42), ’n Pretorianer wat bladuitleg vir ’n farmaseutiese maatskappy doen, is die wenner van RSG se radiodramaskryfkompetisie met haar debuut-radiodrama, Tweegesig.

Die skryfkompetisie in samewerking met die ATKV is in 2023 vir die 27ste keer aangebied.

Nel ontvang R50 000 vir haar spioenasieriller wat handel oor die hoof van ‘n tegnologiemaatskappy wat tydens ‘n fietsrit geskiet en beroof word. Die twee mense wat hom te hulp snel, word saam met hom meegesleur in ‘n wipwaentjierit propvol kinkels.

“My grootste droom was nog altyd om te kan skryf,” sê Nel. “Ek lees minimum vier boeke ‘n maand en nadat ek die kortlys gehaal het, beplan ek om aan te hou skryf.”

Sy sê sy gaan met haar prysgeld vir haar ‘n “ordentlike rekenaar en honderde notaboekies” koop.

Lees meer oor al die ander dramas wat op jou wag:

https://www.rsgplus.org/rsg-lig-die-gordyn-vir-die-eerste-dramaseisoen-van-2024/