Luister weer na ons wendrama ‘Kinders’


Die wenner in die 2021 RSG Sanlam Radiodramaskryfkompetisie, Kinders, deur Erica Harris, word op Donderdag 5 Mei uitgesaai. uitgesaai.  Die sensitiewe, volwasse drama handel oor ‘n eietydse gesin en die uitdagings wat daarmee saamhang.  Natasha, gespeel deur Nadia Valvekens, kry onverwags toesig oor haar tienerseun, Tiaan.  Nie sy of haar lewensmaat Bella is egter gereed vir die verantwoordelikheid nie.  Die regisseur, Anrich Herbst sê “…Die byderwetse teks is weerspieëlend van vandag se uitdagings in ons moderne samelewing… ons is soms ook “kinders” waar ons eintlik “ouers” moes wees.”

Eloff Snyman, in die rol van Tiaan.

Ander karakters wat ‘n invloed op die gesin het is die kroegeienaar Joanie, wat ook ‘n vriendin van Bella is, die kroegman en die skoolhoof. Volgens Herbst laat die vinnige kykie na die lewens van ‘n groep mense wat skouers skuur, ‘n mens met ‘n glimlag en ‘n tikkie weemoed.

Regisseursvisie

“Ek het gepoog om die byderwetsheid te ondersteun met die klankbaan (en gelukkig het ek twee jong seuns wat my blootstelling gee aan die nuwer musiek op die mark). Die teks is uitnemend en verfrissend met oorgange tussen tonele wat logies aaneen vloei, wat my werk as regisseur vergemaklik. Die akteurs was fenomenaal, en ek is veral opgewonde om nuwe jong spelers agter die mikrofoon te sien. Erica Harris is ‘n welkome toevoeging tot die skrywerskorps van Afrikaanse radioteater.”

Die skrywer

Erica Harris sê:  “As ‘n gay vrou en ‘n mediastudiesstudent, is kwessies van queer-mediaverteenwoordiging vir my baie belangrik. Ek dink mense onderskat dikwels net hoe noodsaaklik mediasigbaarheid vir gemarginaliseerde gemeenskappe is. En nie net moet queer stories vertel word nie, maar daar moet diversiteit wees in die tipe queer stories wat ons wel vertel. Elke storie kan nie gaan oor ‘n gay persoon wat hul seksualiteit verwerk of uit die kas uit kom nie. Ek sê nie daardie stories is nie belangrik nie, hulle is ontsettend belangrik. Maar ons het ook stories oor queer mense nodig waar die storielyn nie spesifiek oor hul queerheid gaan nie. Bella en Natasha is queer vrouens, en hul seksualiteit is ‘n belangrike, definieërende deel van wie hulle is, maar dit is nie al wat hulle is nie.  Kinders gaan, onder andere, oor die dinge wat ons onsself vertel oor wie ons is. Dis ‘n storie oor mense wat hulself probeer oortuig dat hul tot minder in staat is as wat hul werklik is – hetsy of dit nou hul emosionele, intellektuele, of inkopies-doen-vermoëns is – omdat hulle glo dat dit die lewe dalk makliker en meer draaglik sal maak.

Die spelers

Die spelers is Cintaine Schutte, Eloff Snyman, Nadia Valvekens, Roelien Daneel, Dan-Jacques Mouton en Charl van Heyningen.

Regie deur Anrich Herbst.