Magdaleen groet, verwelkom Louise


Magdaleen Kruger

In haar laaste skrywe in RSG se nuusbrief, groet Magdaleen Kruger na 32 jaar by die SAUK. Sy tree af. Sy skryf:

“Die SAUK se 189-afleggingsproses is verby en nou lê skouer aan die wiel voor vir die opwindende uitdagings van die nuwe bedryfsmodel van die SAUK. Daar is nog heelwat vakante poste in die SAUK en dit word tans geadverteer, ook vir belangstellendes van buite die SAUK. RSG se nuwe bedryfsmodel maak voorsiening vir 12 vaste poste, waarvan 5 gevul is. Die ander 7 poste word tans en in die komende weke geadverteer.

Een van die poste wat reeds gevul is, is die van RSG Besigheidsbestuurder, die nuwe benaming vir Stasiebestuurder. RSG se Bemarkingsbestuurder van die afgelope 14 jaar, Louise Jooste is aangestel as die nuwe Besigheidsbestuurder en volg vir my op wat einde April, na 32 jaar diens, die SAUK se uittrede-ouderdom bereik. Louise het ook die afgelope jaar waargeneem as Programbestuurder, tesame met haar pligte as Bemarkingsbestuurder. Sy is dus deeglik bewus van wat RSG se uitsaai en uitdagings behels en gaan ook die taak hê om RSG se digitale aanbod uit te brei. Louise sê dis haar man en twee seuns se ondersteuning wat dit vir haar moontlik maak om haar beroepslewe met ‘n passie te kan aanpak. In hulle huis, sê Louise, is dié manne in haar lewe net so bedrewe agter die kospotte en voor die opwasbak.

RSG se nuwe sakebestuurder, Louise Jooste, by haar gesin. Van links na regs is Reece, Lawrence, Louise en Dylan Jooste.

Hierdie is dan ook my laaste gesels met jou en van Mei af sal Louise die nuusbriewe inlei. Die SAUK het vir my die afgelope 32 jaar ongelooflike geleenthede gebied as verslaggewer, regisseur, redakteur, omroeper en Stasiebestuurder. Vanweë my werk kon ek geskiedkundige mylpale in ons land meemaak; die vrylating van mnr Mandela, die val van die Berlynse muur, die eerste demokratiese verkiesing, Kodesa 1 & 2 en die oorlog in die Midde-Ooste, om net enkele hoogtepunte te noem. Ek kon my liefde vir alle soorte musiek en die letterkunde uitleef in programme wat ek gemaak het; ek kon my belangstelling in politiek, regsdinge en aktualiteit uitleef in radioprogramme wat aan my toegeken is. Dis maar net ‘n fraksie van die wonderlike deel van my werk.

Die minder lekker deel was ongetwyfeld die burokrasie, die verslae, die reëls en regulasies. My kollegas het geweet dat ek allergies is vir die woorde ‘template’ of ‘summit’. Soos Amanda Strydom sing ‘skielik is ek vry’ en ek sien daarna uit. Wat gaan jy doen met jou aftrede, vra jy? Ek gaan vir die eerste keer in my lewe ‘n trui brei, leer tik sonder om op die toetsbord te kyk en bekfluitjie bemeester.

Dankie en groete aan almal.”

Lees meer oor die Jooste-gesin se troeteldiere

https://www.rsgplus.org/die-troeteldiere-van-mostert-16/