Kan ons aardverwarming omkeer?


Dié gewilde program word voortgesit. Jy kan uitsien na nóg insiggewende insetsels oor klimaatsveranderings en hoe dit boerdery-metodes en ons lewens raak.

Hier is enkele van die jongste programme:

Kan ons nog klimaatsverandering omkeer?
Die mens het nog die vermoë om verdere aardverwarming te voorkom, maar dit gaan ‘n drastiese omwenteling vereis wat betref energiebronne. Só sê prof. Francois Engelbrecht, ‘n wêreldkenner op die gebied van klimaatsverandering. Lizma van Zyl sit die gesprek met prof. Engelbrecht voort oor wat op Suidelike Afrika wag met die temperatuur wat oor die volgende paar dekades met tot agt grade Celcius kan styg. Die fokus val op die landbou en die regering se rol in die bekamping van klimaatsverandering.

Luister ook:

Koolstofdioksiedvrystellings moet binne die volgende elf jaar met 45% verlaag word as ‘n ramp afgeweer wil word. Só sê klimaatsveranderingkenner prof. Francois Engelbrecht. Lizma van Zyl gesels met hom oor die bevindings van hulle interregeringspaneel-verslag, en veral wat vir Suidelike Afrika voorlê gegewe die verwagte skerp temperatuurstygings oor die volgende paar dekades.

Verskeie plaaslike dierspesies staar uitwissing in die gesig weens stygende temperature. Lizma van Zyl gesels met dr. Ernst Baard van Cape Nature oor die uitwerking van klimaatsverandering op veral kleiner diere, en ‘n langtermynplan om deur middel van bewaringsgebiede groter beweegruimte vir plant- en dierbevolkings te skep.

Soos ons al op Die Kwik Styg gehoor het, beïnvloed stygende temperature die varsvrugtebedryf beduidend, en dus word droëvrugte ook geraak. Soos die hoofbestuurder van Droëvrugte Tegniese Dienste, Dappie Smit, verduidelik, word klimaatsverandering gevoel, maar is dit nie ‘n eenvormige aanpassing nie, wat beplanning moeilik maak. Hy vertel wat die toekoms is van soveel mense se gunstelingpeuselhappie.

Professor Michiel Scholtz verduidelik waarom dit al hoe belangriker word dat beesboere vroeë waarskuwingstelsels kry, en hoekom sekere rasse meer hittebestand is. Hy lug ook sy mening oor sogenaamde “laboratorium-vleis.”

‘n Tuin is vir baie mense ‘n lushof en ‘n plek om te ontspan, maar met die watertekorte in groot dele van die land is talle tuine aan die verdor. Lizma van Zyl gesels gesels met die kurator van die Stellenbosch Universiteit se Botaniese Tuin, dr. Donovan Kirkwood, oor waterslim-tuine. Hy gee handige wenke oor hoe ons tuine te midde van die wateruitdagings kan floreer.