Uitsonderlik: Die storie van Angel en Nicka


Twee leeuwyfies, Angel en Nicka, het ‘n uitsonderlike verhaal:
eers is hulle as babas byna self dood is nadat hulle ma vermoedelik deur ‘n slang doodgepik is, toe is hulle gered van uithongering en daarna – vir die eerste keer sover ons kon vasstel – as klein wesies wonderbaarlik 100% wild in die natuur grootgemaak by Kuzuko Lodge. Nou is hulle self trotse moeders.

Nie net het Angel onlangs geboorte geskenk aan Gamka en Kambro nie, maar haar suster, Nicka, het ook twee welpies! Fielies is hul pa.

Nicka se welpies is nou 8 weke oud.

Angel en Nicka, die twee leeuwyfies wat as welpies skielik wees gelaat is, maar wonderbaarlik in die natuur oorleef het en heeltemal wild grootgeword het. Albei is nou ma’s.

En die storie van twee wees leeuwelpies wat teen alle verwagtinge in, in die natuur oorleef het, is ‘n nóg meer dramatiese verhaal van oorlewing as dié van Sylvester, wat nou pa is van een van die twee, Angel, se babas.

Luister vanmiddag na Tjailatyd, waar Gerhard de Lange self gaan vertel hoe hy die twee leeutjie wild grootgemaak het en leer jag het – uit sy voertuig sonder om aan hulle te raak!

Lees hier meer oor Sylvester, en oor Sylvester en Angel se twee babas, Gamka en Kambro.
Sylvester word pa (luister ook hoe hy en Fielies brul)
Gamka is ‘n mannetjie
Kan Sylvester gered word?

Die aangrypende storie van Angel en Nicka

Die storie van hoe die twee wees leeuwelpies – Angel en Nicka – in die natuur grootgemaak is, is aangrypend en ‘n verhaal van deursettingsvermoë, moed en oorwinning en is ‘n uitsonderlike bewarings-suksesverhaal.

“Die verhaal van Nicka en Angel is een van bewaring, toewyding en deursettingsvermoë en bewys dat jong leeus wel in die natuur grootgemaak kan word sonder menslike ingryping.

“Hulle storie begin in die winter van 2014 toe ‘n leeuwyfie van die Addo Olifant Nasionale Park die lewe geskenk het aan twee welpies. Maar die leeuwyfie is in Desember 2014, toe die welpies skaars 5 maande oud was, dood nadat sy vermoedelik deur ‘n slang gepik is,” sê Gerhard de Lange, algemene bestuurder van die Kuzuko Reservaat.

Gerhard vertel self die emosionele storie van Angel en Nicka:

Die park het gevrees dat die twee leeuwelpies ook dood is en het die hulp van die Suid-Afrikaanse publiek en besoekers aan die Addo Olifantpark ingeroep om uit te kyk vir die twee babaleeus, maar tevergeefs.

Weke het verbygegaan, en toe het een van die veldwagters die babaleeus gewaar. Die welpies is gevang en in ‘n boma geplaas. Hulle was brandmaer en sterwend, maar het gou gewig aangesit en herstel in die boma. Maar hul toekoms was baie onseker; dit is teen die bewaringsbeginsels van Suid-Afrika se bewaringskenners om wilde diere in gevangeneskap groot te maak.

Die bestuur van die Addo Olifantpark het toe vir Gerhard de Lange gekontak, en daar is saam besluit om die twee welpies – albei wyfies – na ‘n gebied van 300 hektaar in die Kuzuko Reservaat, aangrensend aan die nasionale park, oor te plaas. De Lange moes na die wees-leeutjies kyk en ‘n manier vind om hulle wild groot te maak; dus sonder om aan hulle te raak, of om hulle te hanteer of om met hulle te stap.

“Ons het die twee welpies Angel en Nicka gedoop. Ons kon van die staanspoor sien dat die tweetjies ‘n sterk oorlewings-wil het. Ons moes net maniere vind om hulle aan te moedig om hul natuurlike instinkte te volg sonder om met hulle in te meng ,” het de Lange verduidelik.

Só het De Lange toe sy voertuig gebruik om naby die welpies te kom sonder om regstreeks kontak met hulle te hê. Die welpies het gou die voertuig as ‘n lid van hulle trop beskou en saam met die voertuig begin jag. Hulle is eers aangemoedig om muise, rotte, ape en tarentale te jaa. In December 2015 het hulle ‘n groot mylpaal bereik met hulle eerste suksesvolle jagtog – hulle het daarin geslaag om ‘n apie te vang. Die metode het so goed gewerk dat die twee leeuwyfies op 18 maande ouderdom hulle eerste koedoebul heeltemal op hul eie kon plattrek.

“Om dié twee leeuwyfies groot te maak sodat hulle 100% wild in die natuur is en self kan jag, is die hoogtepunt van my bewaringsloopbaan,” sê De Lange. “Dit is wonderlik dat hulle steefs hierdie jaggedrag volg en heeltemal selfversorgend is, en heeltemal wild in die natuur geïntegreer is. Dít nadat hulle toekoms aanvanklik so onseker was.”

Toe die twee leeuwyfies eers heeltemal onafhanklik was, is hulle aan die bekende ontsnapper Sylvester voorgestel. Sylvester se storie is self ‘n suksesverhaal nadat De Lange daarin kon slaag om ‘n koalisie met die jonger leeumannetjie Fielies te vorm.

Sylvester en Fielies

Sylvester, Fielies, Angel en Nicka almal saam.

“Daar is geen groter beloning in hierdie industrie as om deur Moeder Natuur reg bewys te word nie. Julle kens die storie van Angel en Sylvester, wat in Junie die ouers van Gamka en Kambro geword het. Nou kan ons die storie van Nicka en Fielies met julle deel:  hulle het in Augustus die ouers geword van twee leeuwelpies,” sê De Lange.

“Die vier spesiale diere wat nou die kern uitmaak van die Sylvester-trop het in ‘n stadium ‘n donker of geen toekoms gehad nie. Vandag vier ons nie net hul oorlewing nie, maar hul intergrasie in die natuur en hul bydra tot die sirkel van lewe aangesien albei leeuwyfies nou moeders is. Die beste van alles? Ek kan nie met hulle stap nie. Ek kan hulle nie roep of aan hulle raak nie – dit is ‘n voorbeeld van ‘n seldsame bewarings-suksesverhaal en een wat ons meermale moet hoor indien ins die toekoms van Afrika se wilde leeus wil verseker,” vertel De Lange.

Die Kuzuko-span het aanvanklik ‘n paar senutergende weke beleef nadat hulle besef het dat beide leeuwyfies soogtend is, tot hulle die welpies gewaar het, maar kan nou rapporteer dat al vier welpies goed vorder. Angel en Sylvester se Gamka en Kambro is nou 14 weke oud en Nicka en Fielies se tweetjies is nou 8 weke oud. Die span sien hulle gereeld en is reeds groot gunstelinge onder die gaste van Kuzuko.