Nuwe stem by RSG wil lewens verander


Vanaf April skuif ‘n nuwe stem agter die RSG-mikrofoon in. Jaco de Waal, wat voorheen op stasies soos Overvaal Stereo en OFM gehoor is, is in Springs gebore en het al as omroeper én regisseur gewerk. Jaco, wat ook koning kraai agter die kospotte, sal voortaan elke Vrydagaand van 18:00 tot middernag op RSG gehoor word, asook sommige naweke. Kobus Burger, RSG se programbestuurder, het met hom gesels.

Waar kom jou liefde vir radio vandaan?

Jaco met sy toekennings van die World Championships of Performing Arts in Los Angeles.

My groot liefde vir radio kom van my kinderdae af. Ons het elke Junie/Julie-skoolvakansie in die Kruger-wildtuin saam met my oom en tannie spandeer en snaaks genoeg het hy net na RSG geluister. Ek onthou hoe ons op die pad na die wildtuin na RSG geluister het en ek en my nefie mag nie gewaag het om te raas as dit tyd was vir die nuus nie.

Jy was reeds by verskeie radiostasies betrokke. Wat geniet jy die meeste van radio?

My gunstelingding van radio is dat die moontlikhede van wat jy kan doen legio is. ‘n Mens kan soveel bereik. Jy kan ‘n hele nuwe wêreld vir die luisteraar skep. Jy kan lewens verander.

Jy studeer deeltyds sielkunde. Vanwaar kom hierdie belangstelling?

Ek het nog altyd ‘n belangstelling in mense gehad. Ek het aanvanklik sielkunde begin studeer omdat ek mense wou help en ek wil steeds, maar soos ek aangaan, wou ek ook mense meer verstaan en ‘n konneksie met hulle vorm.

Wat doen jy in jou vrye tyd?

In my vrye tyd lees ek graag, oefen (ek tel swaar goed om en sit dit weer neer asof dit terapie is). Ek is ook mal daaoor om Jui-Jitsu (‘n vorm van Oosterse gevegskuns) te oefen.

Vir wie het jy bewondering in die media- en uitsaaibedryf en hoekom?

Hier doen ek uit ‘n vliegtuig uit die verkeersverslag elke oggend vir die Graan SA Nampoe Oesdag.

Riaan Cruywagen is vir my ‘n groot inspirasie bloot omdat hy vir jare en jare so relevant gebly het. Ek is ook ‘n groot bewonderaar van oorlede Derek Watts. Beide hierdie mense was reuse in hulle bedryf en het deur hulle professionaliteit soveel respek vanaf die publiek gewerf. Hulle het spore gelaat wat nooit weg sal spoel nie.

Wat is vir jou die ideale wegbreek?

My ideale wegbreek sal wees in die Kruger-wildtuin (in ‘n tent, nie ‘n chalet nie). Dit is waar my liefde vir radio ook gekweek is. Ek het basies daar grootgeword en as kind baie kattekwaad ook daar aangevang saam my nefie. Die Wildtuin het ‘n baie spesiale plek in my hart.

Het jy enige spesiale vaardigheid waarmee jy jou vriende kan beïndruk?

‘n Snaakse/simpel vaardigheid is dat ek met een hand kan hande klap. Mense lag altyd vir my.

Wat maak jou gelukkig?

Jaco skenk +- 30cm se hare vir CANSA na 5 jaar se groei.

Ek is ‘n maklike mens om gelukkig te maak. Gee vir my lekker kos en opregte geselskap en ek is op my gelukkigste. Ek dink ek is een van min mense wat ook sal sê dat my werk my werklik gelukkig maak. Ek dink ek sal absoluut mal raak as ek nie by radio betrokke kan wees nie.

Hoe bederf jy jouself?

Ek bederf myself met ‘n lekker bord kos. As ‘n selfverklaarde sjef moet ek sê dat ek baie lekker kos kan maak. My Crème Brûlée is iets wat jy net moet proe! (Dit is hoekom ek die swaar goed so moet optel en neersit…)

Met watter bekende (of wyse) persoon sal jy wil aansit vir ete en hoekom?

Jaco tree op as seremoniemeester vir BZN se laaste vertoning in Suid Afrika byh Carnival City in 2019.

‘n Bekende en wyse persoon met wie ek graag aan tafel wil sit, is Joe Rogan. Hy het die grootste potgooi in die wêreld en het al onderhoude met meer as ‘n duisend verskillende mense gehad. Ek dink al die kennis en insig wat hy al deur die jare verwerf het, sal hom een ongelooflike interessante gas maak aan tafel. Dalk kan ek nog ‘n ding of twee leer.

Jaco saam met Anny Schilder en Jan Keizer van BZN

Waarsonder sal jy nooit die huis verlaat nie?

Ek sal nooit die huis verlaat sonder my St. Christopher-hangertjie nie. Dit is ‘n hangertjie wat aan my oumagrootjie behoort het, toe my ouma, daarna aan my ma en uiteindelik nou aan my. Dit is iets wat ek dag en nag dra en het soveel waarde vir my.