Ontkleedanse en ‘n vroulike pous in RSG se potgooiskatkis


Glenda Kemp nou.

Wat het geword van Glenda Kemp?
Wat het geword van die omstrede ontkleedanseres Glenda Kemp, wat eens so eg Suid-Afrikaans was soos sonskyn, Chevrolet, biltong en braaivleis? Kobus Burger, RSG se programbestuurder, het weer die RSG potgooiskatkis se deksel gaan lig en deel ’n paar lekkerluister hoogtepunte.

Glenda Kemp en haar luislang, Oupa, is in die jare 70 en 80 verskeie kere in hegtenis geneem en van openbare onsedelikheid aangekla. Tog het die Sondagkoerant Rapport haar as “Nuusmaker van die Jaar” gewys. Maar wat het van Glenda geword?

Daar is gerugte dat sy in Engeland woon, maar Mariska Spoormaker het haar hier in Suid-Afrika opgespoor.

Luister hier – https://omny.fm/shows/driesestig-1/glenda-kemp-dans-nou-net-vir-die-here

NP v W Louw

Vers en klank, elke Dinsdagaand om 21:20 op RSG, is ’n gewilde voorleesprogram met gedigte deur verskeie van Afrikaans se woordsmede. Tien jaar gelede is dié program aan toonsettings van Afrikaanse gedigte gewy. Daar was verse van Breyten Breytenbach, Petra Muller, N.P. van Wyk Louw en Ingrid Jonker gesing deur kunstenaars soos Laurika Rauch, Randall Wicomb, Amanda Strydom, Laurinda Hofmeyr, Lize Beekman en Herman van den Berg.

Luister hier –

https://omny.fm/shows/vers-en-klank/1-jan-2013

Pous Johanna II
As deel van RSG Kunstefees is Esther Vilar se omstrede toneelstuk Pous Johanna II uitgesaai met die geliefde aktrise Jana Cilliers in die titelrol.

Dit is die jaar 2033 en ‘n Amerikaner – die dogter van ‘n prostituut wat in ‘n krotbuurt in Los Angeles gewoon het – word as pous verkies. Egskeiding, geboortebeperking en homoseksualiteit is toelaatbaar en Katolieke priesters mag trou. Daar is geen dogma, doodsondes of gebede nie. Al die Katolieke kerk se geld is onder die armes verdeel. En nou lewer Pous Johanna II haar inhuldigingstoespraak op televisie, al word sy kort-kort deur advertensies onderbreek.

Die aktrise Jana Cilliers lewer ‘n kragtoer in hierdie omstrede solostuk oor geloof en godsdiens in die moderne wêreld. Ook met Sulette Thompson in die rolverdeling.

Luister hier – https://omny.fm/shows/rsg-kunstefees/pous-johanna-ii-deur-esther-vilar

Tossie Lochner

Tossie Lochner

Die geliefde omroeper Tossie Lochner en haar oproepe uit Italië is sinoniem met Afrikaanse radio. Ter viering van die 85 Jaar van Afrikaanse radio het sy met Pieter van den Berg gesels oor die dae toe sy as sportverslaggewer gewerk het.

Luister hier – https://omny.fm/shows/85-jaar-van-afrikaanse-radio/tossie-lochner-dink-terug-aan-haar-dae-as-sportver

Wen-dokumentêr oor Breyten Breytenbach
Johan Rademan is met ’n erepenning van die Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon vir sy hoorbeeld oor die digter Breyten Breytenbach.

Breyten Breytenbach in Matjiesfontein agter die klavier.

Johan Rademan het die fokus verplaas van sy skrywerskap, waarvoor hy alombekend is in Suid-Afrika, na sy skilderkuns, drama en musikaliteit. In ‘n eksklusiewe onderhoud met Breyten brei hy uit oor sy ondergewaardeerde sy in Suid-Afrika, en hoe dit eintlik ‘n onontbeerlike komponent vorm van sy kunstenaarskap. Renaissance-kunstenaars het dikwels as filosowe, digters, beeldhouers, skilders en skrywers alle genres oorskry. Breytenbach is een van die enkele Suid-Afrikaners wat so ‘n Renaissance-kunstenaar is. Luister na die kunsinnige sagte Breyten en die geharde rebel en heethoof, saamgesmelt in een program wat toegelig word met vriende en kenners, wat die genres saam met hom verken het.

Luister hier na Breyten Breytenbach – ‘n Ander skakering –  https://omny.fm/shows/rsg-dokument-r/breyten-breytenbach-n-ander-skakering-deur-johan-r

Lees en luister ook meer oor Johan Rademan en die dokumentêr:
https://www.rsgplus.org/johan-rademan-deur-akademie-vereer/