Ontmoet Louise Jooste, RSG se nuwe Sakebestuurder


Louise Jooste

RSG het pas vir Louise Jooste as die nuwe Sakebestuurder van die stasie verwelkom. Sy vul dié stoel na die aftrede die einde van April van Magdaleen Kruger. Louise is ‘n veelsydige en vinnige raakvatter met ‘n sin vir orde en beplanning en ‘n ondersteunende gesin. Haar sterk bemarkings- en bestuursagtergrond en haar ondervinding die afgelope 14 jaar in die bestuurspan van RSG, het haar deeglik voorberei op haar nuwe taak. Ons het ‘n paar vrae aan haar gestel om meer uit te vind van die vrou wat RSG voortaan lei.

Vraag: jy is geen nuutjie by RSG nie, al was dit nie op lug as ’n omroeper of aanbieder nie, maar jy is bekend as ’n vinnige vasvatter en sterk leier agter die skerms. Vertel vir ons kortliks van jou paadjie tot by die SAUK en by RSG.

L: Ek is baie trots om te se ek’s ’n oud-PUK (Noordwes-Universiteit se Potchefstroom kampus) waar ek in die 4 jaar in Karlien-koshuis in 7 verskillende kamers gewoon het!

As deel van my prakties vir my Kommunikasiewesegraad, het ek by Western Areas Gold Mine vakansiewerk gedoen en aan die einde van my studies ’n tydelike werk in hul kommunikasiekantoor gekry waar ek selfs met myntoere ondergronds gegaan en in tonnels geklouter het!  Daarna is ek stad toe waar ek as bemarkingsassistent by ’n maatskappy wat met CAD (Computer Aided Design) sagteware vir ingenieurs werk, begin werk het. Met verloop van tyd en ondervinding het ek die bemarkingsbestuurder geword.  Toe die maatskappy uitbrei, het ek deel geword van die afdeling wat spesialiseer in meganiese- en vervaardiging ontwerp – waar ek die bemarkingshoof en later een van die direkteure van die maatskappy was.  Ná 10 jaar was die testosteroon genoeg en was ek ook gereed vir ander uitdagings – wat my pad na die SAUK en RSG geneem het.

As Bemarkingsbestuurder van die grootste Afrikaanse nasionale radiostasie was dit ’n eer om voortdurend te beplan en uitvoering te gee aan strategieë en projekte om die geliefde radiostasie nog wyer bekend te maak en meer luisteraars te lok, en diegene wat reeds luister, gelukkig te hou!  Ek het ’n sakebestuur-kwalifikasie by die Universiteit van die Witwatersrand se Sakeskool behaal en kon baie van die beginsels verder prakties uitvoer by RSG.  Ek is al vir langer as 14 jaar nou betrokke by RSG, waarvan die afgelope jaar as waarnemende Programbestuurder my veral deeglik bewus gemaak het van die operasionele deel van die uitsaaibedryf en die Afrikaanse landskap nog beter leer ken het.

Vraag: Daar was baie omwentelinge die afgelope tyd by die SAUK, en RSG is ook geraak. Wat is die situasie nou, en hoe gou dink jy kan al die vakante poste gevul word? Hoe kry julle dit wel tans reg om steeds so glad voort te gaan?

L:  Die herstrukturering en afleggings by die SAUK is einde Maart 2021 afgehandel en ons is tans 5 vaste personeel met 7 vakante poste om die totaal van 12 vaste personeel in die nuwe struktuur van RSG te verteenwoordig.  Ek werk nou saam met die Menslike Hulpbron-afdeling met die werwingsproses en ons het reeds onderhoude vir die Programbestuurder afgehandel en hoop om binnekort die suksesvolle kandidaat bekend te stel. Die fokus is om eers die vakante poste aan die programme kant gevul te kry en dit sal hopelik binne die volgende 6 weke afgehandel wees, waarna die fokus na die 3 vakante Bemarkingsposte skuif.  Indien alles volgens plan verloop, sal ons teen die aanbreek van die Lente voltallig wees.

RSG is in ’n bevoorregte posisie om baie ervare en bekwame omroepers te hê wat sorg dat die programme en aanbieding seepglad voortgaan op lug! Die luisteraars is die belangrikste deel van die radiostasie en daarom spring almal by die stasie juis nou in en doen so bietjie ekstra en meer om te sorg dat alles steeds vlot verloop. RSG is ’n merkwaardige handelsmerk met ’n sterk geskiedenis en het die afgelope 84 jaar bewys dat dit ’n radiostasie is wat ernstig is oor kwaliteit en verskeidenheid.  As een van die SAUK se strategiese handelsmerke, word daar ook hoë vereistes aan ons gestel om inkomste te genereer. Wat dít betref, is ons bevoorreg om ’n goeie verhouding met ons getroue en lojale kliënte sowel as ’n sterk verkoopsspan te hê, en ons kyk voortdurend hoe ons met innoverende aanbiedinge die stasie elke keer na hoër hoogtes kan neem.

Louise Jooste is aangestel as RSG Sakebestuurder. Louise was die afgelope 14 jaar RSG se Bemarkingsbestuurder. Louise het ook die afgelope jaar waargeneem as Programbestuurder, tesame met haar pligte as Bemarkingsbestuurder. Louise sê dis haar man en twee seuns se ondersteuning wat dit vir haar moontlik maak om haar beroepslewe met ‘n passie te kan aanpak. Op die foto van links na regs, is Reece, Lawrence, Louise & Dylan Jooste.

Vraag: Ek verneem die vorige Stasiebestuurder, Magdaleen Kruger (klik hier vir haar laaste dankie aan RSG luisteraars), het jou bygestaan in die oorgang en dit voel of die leisels inderdaad baie glad van hande verwissel het. Wat sien jy as jou eerste uitdaging? En het jy spesifieke en opwindende planne, of kyk jy eers die kat uit die boom? Moet die luisteraars hulle regmaak vir groot veranderings, of kan hulle net meer en beter verwag van dit wat gewild is met ’n nuwe gedagte of drie ingeklits?

L:  Ek beskou Magdaleen as my mentor. Die bestuurspan van RSG het nog al die jare ’n baie goeie en noue werksverhouding gehad – enigeen van ons kon enige tyd vir die ander vir ‘n kort tydperk waarneem wanneer dit nodig was. Die oomblik toe ek hoor ek was suksesvol in my aansoek as Sakebestuurder, het Magdaleen dadelik begin om my te betrek by die detail van die stasie se bestuur.

Die fokus is tans om seker te maak ons lewer steeds kwaliteit programme en musiek aan RSG se 1,3 miljoen luisteraars regoor die land.  RSG se webtuiste is stabiel en die potgooi soek-funksie is ook opgradeer.  Ons verwag om teen einde Junie nuwe mobiele toepassings vir Android en iOS platforms te he wat luisteraars ook sal toelaat om regstreekse stroming vanaf hul fone te doen.

Intussen sorg Pieter vd Berg en sy sportspan dat luisteraars gereelde sportverslae en inligting ontvang.

Die dramaseisoen en reëlings met die nuwe drama-ateljee vorder goed, en daar is nou reeds voorbereiding vir die volgende dokkie-seisoen. En dan is daar minstens twee nuwe reekse wat in Julie begin. Bly dus ingeskakel en besoek rsg.co.za vir meer inligting!

Ons is deur ‘n opdraende tyd en al lê daar nog so paar duwweltjies in die pad, maar dan loop ons sommer om dit!  Met elke luisteraar se ondersteuning en die personeel se harde en goeie werk, kan RSG net van krag tot krag gaan!

Vraag: Wat is jou sterk punte? En wat maak jou gelukkig?

L: Almal spot my oor my lysies en skoon lessenaar, maar ek sien weer my beplanning en orde as ’n sterkpunt; ek weet dan presies wat gedoen moet word, prioritiseer en doen my beplanning en aanpassing daarvolgens.  Ek is gesteld op detail en hoë gehalte.

Dit maak my gelukkig om te weet ek het my beste gelewer en wanneer iemand dit raaksien en waardeer.

Vraag: wat is jou swak punte? En wat krap jou om?

L: Sjoe, ek dink die teenoorgestelde van my sterk punte : ek hou glad nie van ’n deurmekaarspul nie en dit krap my om wanneer iets nie behoorlik gedoen word nie, of planne op die nippertjie verander word.  Maar die ergste is, wanneer iemand vir my lieg of my vals beskuldig; dan sien ek rooi!

Vraag: Hoe lyk die Jooste huishouding? Man, kinders, katte, honde, papegaaie?

L:  Ek en my man Lawrence is nou 23 jaar getroud. Hy’t Engels grootgeword met ’n Libanese ma en Afrikaanse pa.  Lawrence is in die I.T. bedryf.  Ons oudste seun Reece is ’n tweedejaar-arbeidsterapiestudent by Wits Universiteit en ons jongste seun Dylan is in Graad 9 en soos ’n tipiese tiener eet hy ons omtrent bankrot!  My bejaarde ouers woon by ons in ’n woonstel op ons erf.  Ons is baie lief vir diere en het vier honde wat wissel in grootte – ’n Rottweiler, Labrador, Jack Russel en Mini Doberman Pincher.  Geen ander kat of voël of vis waag dit naby die erf met hulle aan diens nie!

Vraag: Hoe bring jy graag familietyd deur?

Luister wat Louise sê :

Vraag: Neem jy werk huistoe? En hoe aanvaar jou gesin dit?

L:  My loopbaan was nog altyd deel van my lewe en gelukkig ondersteun my gesin my ten volle.  Hulle is behendig agter die kospotte en baie keer wanneer ek laat by die huis kom, is die kos klaargemaak, die wasgoed weggepak en kan ons net aandete geniet.  Daar is ook baie kere wat ek vanaf die huis werk, veral sedert die inperking en dan raak die dae en aande verweef, maar ons probeer om ons balans te vind. Gelukkig is al drie van hulle kranige ‘gamers’, so hulle hou baie daarvan om op die Playstation en Xbox te speel, en dan sit ek maar die rekenaar aan …

Vraag: Wat is die vreemdste/snaakste insident wat met jou gebeur het? Wat laag jou lag?

L:  Ek kan nie aan iets spesifiek dink nie, ek’s eintlik maar ‘n ‘plain Jane’ so daar’s nie baie verleenthede nie – en die paar waaghalsige dinge wat ek wel aangevang het as student is mos maar deel van normale studentelewe….  Ek geniet dit om te lag en gelukkig te wees, so grappe en komedies is kitsopkikkers, maar dit maak my werklik gelukkig wanneer ek iets vir iemand anders kan beteken en hulle gelukkig en bly sien!

Vraag: Hoe ontspan jy?

L:  In hierdie stadium is daar nie tyd vir ontspan nie, maar wanneer ek wel kans kry om af te skakel, hou ek van ’n bederf vir my naels en voete (‘mani & pedi’), ek lees baie verskillende inligting en ’n middagslapie oor ’n naweek is natuurlik die gunsteling!

Vraag: het jy stokperdjies, of is daar nie tyd vir so-iets nie?

L:  Toe ek ’n kind was, was die tipiese stokperdjies om seëls te versamel, te brei of enige kunstige projek aan te pak – wel ek doen dit glad nie.  Ek’s nie juis ‘n stokperdjies persoon nie, en ek dink dis bloot omdat my lewe net te besig is, en ek voel skuldig as ek te lank stil sit …

(Tog ruim sy tyd in om betrokke te raak by Huis Kosmos, ‘n Umephi-satellietkinderhuis in die suide van Johannesburg wat omsien na kinders wat uit moeilike huislike omstandighede verwyder is.)

Vraag: Wat is jou lewens motto?

L:  “Doen ’n ding reg die eerste keer, dan hoef jy dit nie oor te doen nie”

Luister wat sê Louise se twee Engelse seuns van hul ma:

Dylan (15:)

 

Reece (20)