Luister weer na ‘Broodlyn’


Luister vanaand na Broodlyn deur Hein Poole. Dit is ‘n toneelstuk se teks wat verwerk is tot radiodrama.

Die storie

“Die een hand was die ander hand”
Mense lewe onder die broodlyn op ʼn daaglikse basis. Daar word gestrewe na oorlewing en daar is altyd ʼn vegter wat bereid is om ʼn verskil te maak. Dis wat Franklyn vir sy gemeenskap doen. Hy wil beter wees as die generasie voor hom en méér agter los vir die generasie na hom. Maar ten koste van wat? Hoe gemaak as jou kinders nie om een vuur sit nie, jou naastes jou in die rug steek en jy jou eie geheue jou bedrieg?

As kind het Franklyn die besluit gemaak, om nooit weer onder die broodlyn te lewe nie. Hy sal self bepaal waar die broodlyn lê, maar regverdig die doel altyd die middele? As enkel ouer het hy nog altyd sy seuns eerste geplaas, maar die twee het hulle eie agendas. En hoe gemaak as jou gesag skielik bevraagteken word, jou naastes jou verraai, en dit lyk asof jy nie eers op jou eie geheue kan staatmaak nie. Hierdie vrae maal in Franklyn se kop…

BROODLYN deur Hein Poole

Rolverdeling en akteurs

André Samuels, Hein Poole, Angelo Bergh, Ingrid Vraagom, Lee Roodt en Karli Heine.

Regie is behartig deur Chloè van Rooyen.

Agter vlnr: Hein Poole, Karli Heine, Angelo Bergh, André Samuels, en Lee Roodt. Voor: Ingrid Vraagom en Chloè van Rooyen

Van die regisseur – Chloè van Rooyen (debuteer as regisseur)

Broodlyn was oorspronklik ʼn teater toneelstuk wat verwerk is na ʼn radiodrama.

Dit het gesorg vir ʼn teks met baie lae en komplekse karakters. Die storie is ook ʼn belangrike een wat temas aanspreek soos, vaderskap, verlies, belangrikheid van gemeenskap en soeke na identiteit.  Al loop die spanning hoog van vroeg in die storie, is daar oomblikke waar die musiek en liedjies verligting bring en die Klopse musiek kleur die wêreld verder in.

Dit was my eerste keer in die regisseurstoel, en ek is halsoorkop verlief. Ek het nie besef dat ek dit so baie sou geniet nie.

Dit het ook gehelp dat die span fantasties was. Hulle was ʼn fees om mee te werk. ‘n Jong akteur soos Angelo Bergh wat ʼn natuurlike talent het, wie bereid is om te leer en aanwysings goed vat, is ʼn regisseur se droom. Veterane soos André Samuels, wat met sy jare se kennis nog steeds ruimte gelaat het vir my om hom te stuur, Karli Heine wat gereed was om ʼn  hand by te sit waar ook al dit nodig was, Ingrid Vraagom wat jou met een word aan haar lippe laat hang en Lee Roodt wat gaaf genoeg was om sy musikale talente met ons te deel.

Ek was skrikkerig om die skrywer ook in die ateljee te hê, maar Hein Poole het gesorg dat daar altyd ʼn gelag was. Natuurlik was Cassi Lowers daar om die los idees wat ek in my kop gehad het te realiseer. Ons het gelag, gedans en gesing. Ons het ‘magic’ gemaak.

Daar was oomblikke waar ek myself tussen die akteurs bevind het want ‘ek dink beter as ek langs jou staan’. Ek wou myself keer om nie te veel in die ateljee te gaan nie, maar wie het gesê ʼn regisseur kan nie tussen die geselskap wees nie?

Van die skrywer – Hein Poole

Die inspirasie vir Broodlyn het gekom vanuit ‘n gemeenskap vegters. Daar is ‘n stigma van vaders wat nie help om hulle kinders groot te maak nie . Die groot maak berus op die mammas terwyl baie vaders afwesig is. Daar is beslis uitsonderings soos Franklyn .Vaders wat hulle kosbare tyd en laaste geld aan hulle kinders spandeer. Die Engels gesegde “ it take a village to raise a child “ is gepas en dit is wat ʼn vaderfiguur doen.

Bloed of nie bloed
Die ondersteuning van gemeenskapsaktiwiteite soos die gewilde klopse kultuur is ʼn goeie voorbeeld om ʼn positiewe invloed te skep. Die talente van die plaaslike gemeenskap skep ‘n astronomiese trots. Waar “deddies” aan die stuur van die leisels is, verloop die kinders se ontwikkeling, opheffing en grootword seepglad. Die trots in “deddies” se monde, laat ore tuit. Dis die mooiheid van verhoudings tussen ʼn vader en ʼn kind, wat grootmaak en grootword, toelaat om te laat groot wees.

“Buig die boompie terwyl jy kan”
Grootmens kan jy wees, maar my kind sal jy altyd bly in liefde. Moenie terug praat nie, respekteer. Doen jou kinderlike plig met verantwoordelikheid. ʼn Vader se hartklop voel gelukkig as hy vir sy kind brood en botter op die tafel sit. In Kleiner gemeenskappe is dit tradisie om te deel wat ook al jy kan, maak nie saak van die hoeveelheid nie.

“Die een hand was die ander hand”
Die magiese element is wanneer ʼn “deddie” die hoof aan tafel is, die brood breek en met sy familie deel.

Luister ook op potgooi na afloop van die uitsending en op Spotify.