US Woordfees: kom kuier by RSG by die Plataankafee


Die Woordfees bly ‘n hoogtepunt vir RSG en ons luisteraars. Die uittog na Stellenbosch gaan altyd gepaard met baie fyn beplanning en talle reëlings om te verseker dat RSG se aanbod van inligting en vermaak uit die boonste rakke is, laat weet Louise Jooste, RSG se Sakebestuurder.

Vanjaar se tema ‘Borrel’ is ‘n akkurate beskrywing van die gemoedstemming, die aanbiedings en die atmosfeer van RSG by die Woordfees. Dit gaan behoorlik borrel en bruis by die RSG verhoog by die Plataankafee. Spesiale gaste, gesprekke en debatte, ligter vermaak, letterkunde en die kunste is maar ‘n paar van die aanbiedinge vanjaar.

  • Kom maak gerus elke weeksdag van Maandag 9 Oktober tot Vrydag 13 Oktober ‘n draai by die RSG verhoog vir jou dosis nuus en aktualiteit met Monitor van 06:00-08:00 en Spektrum van 12:00-13:00.
  • Die Kaapse span van Driesestig sluit ook vanjaar die hele week aan en is op hul pos van 13:00-15:00.
  • Saterdag 14 Oktober se ReisSonderGrense van 10:00-11:00 word gevolg deur die gewilde Saterdagresep van 11:00-11:45 en om 12:00 is Naweekaktueel aan die beurt.
  • Die regstreekse uitsendings sluit op ‘n hoogtepunt af op Sondag 15 Oktober met Taaldinge en Hoe verklaar jy dit? van 11:00-12:00.

As ‘n bonus is die borrel ook groter vanjaar!

‘n Hele paar ekstra programme en speletjies word by die RSG verhoog aangebied wanneer ons nie regstreeks uitsaai nie.

  • Die literêre programme Vers en klank, Kortom sowel as Skrywers en Boeke word op 10 en 11 Oktober om 17:00 aangebied en opgeneem vir latere uitsending.
  • Johan Rademan vermaak die gehoor op 12 Oktober om 17:00 met Stoepstories.
  • Jy kan jou taalkennis kom toets met Ina Strydom by die Taaldinge Vasvrae op 14 Oktober om 09:00.
  • Uitgesoekte produksies uit die ryk klankargief word ook van 9-13 Oktober daagliks tussen 10:00 en 12:00 aangebied in die Beiteltjie wat in die US Museum-raadsaal plaasvind.

Kom drink ‘n koppie koffie of ‘n glasie wyn, sit terug en geniet die gehalte programme en vermaak wat die land se grootste Afrikaanse radiostasie vir jou opdis   by die RSG verhoog by die Plataankafee. Geniet vanjaar se Woordfees! Ons borrel van opgewondenheid om jou daar te ontmoet!

Die Woordfees se aanbevelingsblad: https://woordfees.co.za/aanbevelings/

Vir meer inligting, besoek woordfees.co.za.

Kaartjies by Quicket.