Ontmoet Riley, Zak, McGyver en Charlie: SA se 1e Covid-reukhonde


Die K9 eenheid van die SAPS het twee weke gelede begin om honde op te lei om Covid uit te ruik. Die reukhonde word geleer om met meer as 90% akkuraatheid selfs asimptomatiese Covid-gevalle uit te ruik. Die honde behoort teen die einde van Julie hul opleiding te voltooi. Die opleiding het twee weke gelede begin nadat baie administratiewe hekkies oorbrug moes word. Reukhonde word reeds in verskeie Europese lande ingespan om met groot akkuraatheid Covid uit te ruik.

Luister na Gesondheid op RSG in Julie, want ons gaan ‘n program wy aan hoe die honde opgelei word om Covid en ander siektes uit te ruik.

Ontmoet solank Suid-Afrika se 1e 4 Covid-reukhonde in opleiding hier.

Riley is ‘n 21 maande oue Duitse Herdershond. Hy is vol woema en energiek en perfek vir die opleiding wat wag.

Zak is ‘n driejarige Labrador. Sy gretigheid om te leer maak hom ‘n ideale kandidaat vir die Covid 19 Opsporingspan.

McGyver is 3 jaar oud en ‘n Labrador. Hy het ‘n baie metodiese werkspatroon.

Charlie is ‘n 7-jaar oue Border Collie kruis wat opgelei is om die geringste spore van reuke te identifiseer. Hy het al oor die hele Suid-Afrika gewerk en sy ervaring maak hom ‘n groot aanwins vir die span.