Saffraan , die koning van speserye


Die mooi saffraanblom

Dié uitsonderlike speserye is baie duur, en teen meer as R500 per gram selfs duurder as goud, maar ‘n knypie saffraan gee kos ‘n baie besonderse smaak.

Soos Gordon Ramsey gesê het: dis hel-uit duur!

Renske van Zyl vertel vir Johan Rademan oor hoe saffraan verbou word.

Saffraan is ‘n spesery wat kom van saffraankrokus (Crocus sativus). Dit is ‘n krokusspesie in die familie Iridaceae en in die klas Liliopsida. Hierdie plant is inheems aan Suidwes Asië en dit was vir die eerste keer verbou in die omgewing van Griekeland.

Die saffraanplant is ‘n orgidie-agtige plant en het dun, regop groen blare vanuit die grond en maak dan stingels met donkerpers blomme in die middel van die “pol”.

Daar is min van mense wat weet hoe mooi hierdie blomme is. Die blomme is pers met lang stuifmeeldrade wat by die blomblare uitsteek.

Dit is ‘n helder blom en het gewoonlik ses blare aan die bo-punt van die steel.

Saffraan spesery

Saffraan word gebruik in kookkuns en is gekenmerk deur ‘n bitter smaak en ‘n hooi-agtige geur. Hierdie smaak word gekenmerk deur pikrokrosien en safranaal. Dit bevat ook die karotenoied kleurmiddel “krosien” wat kos ‘n ryk goudgeel skakering gee.

Die gekweekte saffraanblom is ‘n meerjarige plant wat in die herfs blom. Hierdie blomme kom nie in die natuur voor nie. Dit is ‘n bolplant en die knolle is klein bruin bolletjies van 4,5 cm in deursnee en bedek in ‘n digte mat parallelle vesels. Dit raak dormant in die warm somer maar verskyn weer voor die herfs en dan maak dit die lang groen blare en verskyn die blommetjies.

Dit moet in sonlig geplant word en vaar nie goed in skadu nie. Die plante groei die beste in los goed gedreineerde grond.

Droë saffraan wat ons in ons kookkuns gebruik, vertoon soos growwe klapperhaar. Volgens bronne moet die blomme vroeg in die oggend gepluk word omdat dit vinnig verlep.

Ongeveer 150 blomme lewer 1 kg droë saffraanstingels, om 12 gr gedroogte saffraan te lewer. Een varsgeplukte blom lewer gemiddeld 0,03 gr vars saffraan.

Saffraanbolle word geplant

Saffraanplant in blom

Saffraan kan ook medisinaal aangewend word vir maagaandoenings, hoesbuie, en om wonde te behandel.

Raadpleeg u geneesheer voordat u enige kruiemedisyne gebruik.

Volgens bronne het Cleopatra saffraan in haar badwater gebruik. Dit word egter meestal vir kleurmiddels gebruik. Daar word ook parfuum gemaak van saffraan, asook in salwe, grimmering ens.

Tuiniers, indien u nie van die smaak van saffraan hou nie, kan u gerus hierdie spesery aanplant terwille van die pragtige blomme wat verskyn.

Geniet u tuin tot volgende keer.

Saffraan, die koning van speserye

Saffraanplante

Errieda se saffraanpere resep

Saffraanpere voorgesit

Huiskok Errieda du Toit vertel vir Johan Rademan hoe jy met saffraan kook en gee ‘n saffraanpere resep.

Die bedwelmende parfuum en geure van saffraan werk baie goed met pere. Saffraanpere kan net so bedien word of met ‘n lekker roomys of sorbet, amandelkoek of vars mosbolletjies.

1 l suikerstroop*
375 ml dessertwyn
50 ml lemoenbloeiselwater
3 foelieblaadjies (mace)
1 vanieljepeul, in die middel oopgesny (opsioneel)
3 ml saffraandrade
Skil van 2 lemoene
6 pere

Bring al die bestanddele, behalwe die pere, in ‘n groot kastrol oor matige hitte tot kookpunt, verminder hitte en prut oor lae hitte vir 15 minute. Skil (indien verkies) en halveer die pere, verwyder die stronk en voeg by die kookvloeistof. Bedek die pere met ‘n vel was- of bakpapier, hou dit bedek met vloeistof om eweredig gaar te maak en nie te verkleur nie.

Prut vir 15 – 20 minute of tot sag. Haal die pere versigtig uit die stroop, hou eenkant, verhoog die hitte en kook die saffraanvloeistof af tot ‘n stroop, dreineer die stroop deur ‘n fyn sif. Indien gebruik, skraap die vanieljesaad uit in die stroop en giet die stroop oor die pere. Bedien warm of teen kamertemperatuur.

Vir die maak van die suikerstroop:

750 ml water
750 ml suiker

Bring tot kookpunt en kook tot die suiker opgelos het, sowat 5 minute. Laat afkoel voor dit in die yskas geplaas word.