Sterrereën = ‘n komiese studente-liefdesverhaal


Hendie Grobbelaar

Sterrereën, geskryf deur Hendie Grobbelaar, het die tweede prys in die RSG/SANLAM Radiodrama-skryfkompetisie  vir 2020 ingepalm.

Sterrereën is ‘n studente-liefdesverhaal vol komiese oomblikke.

Luister Donderdag 22 April om 20:00 na hierdie drama.

Die storie

‘n Student se ma vra hom om haar huis op te pas terwyl sy oorsee is met vakansie. Dit is ‘n gulde geleentheid vir sy pêlle om die huis op horings te neem. Waarop hy egter nie gereken het nie is ‘n beeldskone, eksentrieke meisie se bekoring met die misterie vir die buitenste ruim. Dit lei daartoe dat hy ‘n klap van die heelal kry en selfs met ‘n pratende kat sit… of is dit alles die uitwerking van eksperimentele daggarokery?!

Die regisseur is Duncan Johnson en die rolverdeling sluit in Luan Jacobs, Claudia Jones, Donovan Pietersen en Christo Compion.

Luister na die volledige drama:

Regisseursvisie

Die drama is vars en iets nuuts op RSG.

Dit was belangrik om goeie jong spelers te kry om die studente te vertolk en Luan Jacobs, Claudia Jones en Donovan Pietersen was uitstekend. Gesoute speler Christo Compion was perfek in die rol van die wêreldwyse, gesofistikeerde kat, Servaas.

As regisseur is grootste gedeelte van jou werk altyd om die regte akteurs vir die spesifieke rolle te kry, en daarna moedig jy die akteurs aan om hulle instink en talent te vertrou, want dit is eintlik hoekom jy hulle in die eerste plek vir die rolle gekies het. Al wat jy dan doen, is om hier en daar te skaaf en leiding te gee tydens die opname.

Die teks self is nie ‘n diep sielkundige drama nie, so die uitdaging was om die spel so natuurlik en realisties moontlik te hou te midde al die soms onwaarskynlike oomblikke in die drama.

Donovan Pietersen, Christo Compion, Claudia Jones en Luan Jacobs.

Christo Compion

Claudia Jones

Met maskers: Donovan, Christo, Claudia en Luan.

Donovan Pietersen

Luan Jacobs