Student herontdek uitgestorwe plantspesie


Uitgestorwe fonteinbos-spesie ná 200 jaar in die Winterhoekberge deur ‘n UK-student herontdek

Nadat Psoralea cataracta in 1804 laas gesien is, is dit deur Brian du Preez, ’n PhD-student in plantkunde aan die Universiteit Kaapstad herontdek toe hy per ongeluk op ’n groep plante langs ’n voetpaadjie naby ’n rivier op ’n plaas in Tulbagh in die Wes-Kaap, afgekom het . Foto: Wiida Fourie

Een van die eerste bekende spesies wat in die 1800s weens bosbou- en landboubedrywighede in die Wes-Kaap uitgesterf het, ’n soort fonteinbos van die ertjie-familie wat langs bergstrome in die Tulbagh-omgewing voorgekom het, is herontdek.

Psoralea cataracta is deur Brian du Preez, ’n PhD-student in plantkunde aan die Universiteit Kaapstad ontdek toe hy onlangs per ongeluk op ’n groep van die plante langs ’n voetpaadjie naby ’n rivier op ’n plaas in Tulbagh-distrik afgekom het.

Tot op hede was P. cataracta slegs bekend as gevolg van ’n enkele spesimen wat in 1804 by Tulbagh Waterval gevind is. En in 2008, na vele vrugtelose soektogte, is dit amptelik in die Rooi datalys van Suid-Afrikaanse plante as “uitgestorwe” verklaar.

Hy het onmiddellik geweet watter vonds dit was, aangesien hy as vrywilliger reeds lid was van vorige soekpogings in die omgewing van Tulbagh Waterval saam met Custodians of Rare and Endangered Wildflowers (ook bekend as CREW -’n organisasie wat hulle beywer vir die bewaring van skaars en bedreigde veldblomme). “Toe ek daardie delikate garingagtige blomstele sien, het ek gewéét dis Psoralea cataracta,” vertel hy opgewonde.

Die delikate blom en garingagtige blomstele van Psoralea cataracta, ’n tipe fonteinbos wat slegs naby bergstrome in die Tulbagh-streek van die Wes-Kaap voorkom en in 1804 laas waargeneem is. Foto: Brian du Preez

Prof Charles Stirton van die Verenigde Koningkryk, Du Preez se medepromotor en ’n internasionaal erkende spesialis van die genus Psoralea, het sedertdien bevestig dat hy inderdaad die lang verlore spesie wat in 1804 laas gesien is, herontdek het.

“Vir my is die uitstaande kenmerke die merkwaardige steunblaartjies, baie lang draadvormige steeltjies, en die unieke blomkleur. Dit is ’n baie belangrike vonds aangesien dit wys hoe die Kaap se bergagtige gebiede nog steeds relatief min nagevors is. Gegewe die feit dat baie van die Kaapse flora slegs ná brande opkom en ’n kort leeftyd het, én dat hierdie brande soms ongereeld voorkom, is die kans om op die regte tyd in die regte omgewing te wees, redelik skraal. Welgedaan met ’n wonderlike vonds, Brian,” skryf hy in ’n e-pos uit die VK.

Die delikate blom en garingagtige blomstele van Psoralea cataracta, ’n tipe fonteinbos wat slegs naby bergstrome in die Tulbagh-streek van die Wes-Kaap voorkom en in 1804 laas waargeneem is. Foto: Brian du Preez.

Mnr. Ismail Ebrahim, projekbestuurder van CREW, beaam dat dit ’n uitsonderlike vonds is: “Dit is werklik baie ongewoon om ’n spesie te vind wat al vir so lank as uitgesterf beskou is, iets wat vir donkiejare nie gesien is nie. En met Kaapse flora is dit self moeiliker, aangesien die meeste spesies beperk is tot ’n baie klein gebied en jy dit maklik kan mis as jy nie soms die spoor byster raak nie! Dit bewys net weer die waarde van regte outydse veldekskursie-plantkunde,” voeg hy by.

Die delikate blom en garingagtige blomstele van Psoralea cataracta, ’n tipe fonteinbos wat slegs naby bergstrome in die Tulbagh-streek van die Wes-Kaap voorkom en in 1804 laas waargeneem is. Foto: Brian du Preez.

Hierdie 26-jarige student het tot dusver reeds ’n reputasie opgebou as ontdekker van lang verlore spesies. In 2016 as honneurstudent in plantkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US), het hy twee spesies van die ertjiefamilie – Polhillia ignota en Aspalathus cordicarpa – herontdek wat as uitgesterf beskou is en laas onderskeidelik in 1928 en die 1950s gesien is. Hierna het hy ook in 2017 sy MSc-graad aan die US behaal met navorsing oor Polhillia.

Vanjaar het hy reeds nuwe spesies van Aspalathus ingesamel wat op sandduine op die walle van die Rietrivier in the Swartruggensberge, noord van Ceres, groei. Hy is tans haastig om die spesie te beskryf, aangesien hierdie gebied van die Rietrivier geoormerk is vir boorduitbreiding.

“Ons kan slegs beskerm wat ons reeds beskryf het. Slegs spesies wat formeel beskryf is kan Rooidatalysstatus verkry, wat dit dan wetlik beskerm teen ontwikkeling, afhangend van die bewaringstatus,” waarsku hy.

Daarom het Brian besluit om vir sy PhD-studies ’n hersiening van die genus Indigofera in die groter Kaapse Blommeryk, aan te pak. Hierdie diverse genus bestaan uit meer as 100 spesies in die streek, met ten minste 30 nuwe spesies wat wag om formeel beskryf te word.

Hierdie boorling van George het die afgelope ses maande reeds duisende kilometers in sy Nissan-bakkie afgelê. Die gebied wat hy gedek het strek vanaf die Richtersveld, reg deur tot by die Oos-Kaap en alles tussenin. In hierdie gebied het hy alreeds oor die 60 Indigofera-spesies versamel.

Volgende week gaan hy weer op ’n ekspedisie na die Tuinroete en die Oos-Kaap. September tot November is immers die piekblomtydperk van Suid-Afrikaanse plante en Brian is ’n plantkundige in murg en been.

Die geel ertjie in die sand is die nuwe Aspalathus spesie.

Die fotoplate is van Polhillia ignota.

Die geel ertjie in die sand is die nuwe Aspalathus spesie, en die fotoplaat is van Aspalathus cordicarpa