Wat gaan aan in die Sondagsriviervallei?


My hart is baie seer oor wat op die oomblik in my groen vallei aan die gang is.

Opdateer Sondag 1 Mei 2022

Alles is sedert Vrydagmiddag redelik kalm, soos ook verlede naweek. Groepe het ingestem tot ‘n wapenstilstand van 14 dae vir onderhandelings.

Vrydag29 April 2022

Hier is die prentjie

Plaaswerkers staak, brand bande, brand huise, store, trekkers en kratte met lemoene af. Meer as 100 kratte, sommige met lemoene, is aan die brand gesteek. Volgens beelde op sekuriteitskamera’s blyk dit dat twee of drie stakers verantwoordelik is vir die brandskade aan eiendom.

Intimidasie is baie hoog en die stakers sper die uitgang van Moses Mabida woongebied en ander woongebiede buite die hoofdorp af, sodat geen inwoners van dié gebiede hul werkplekke kan bereik nie.

Die skade weens vernietiging van eiendom beloop reeds R70 miljoen rand, waarvan R50m op die Habata-eiendom van Hannes Joubert. Ander sitruskwekers wat deurgeloop het onder eiendomskade sluit in Kleinjan Potgieter, Marius Jurgens, Johannes de Lange en Sydney Stiemie, wat ook met bakstene raakgegooi is.

‘n Sestigjarige inwoner, mev. Trudie Deysel, se huis is eers rot en kaal gesteel en toe aan die brand gesteek. Sy het alles in haar huis verloor.

Die skade weens die feit dat die sitrus nie gepluk en verpak kan word om die buitelandse en binnelandse markte bereik nie, beloop reeds R100m. Dié verliese verhoog daagliks. Alle plukkery op plase staan stil en alle pakhuise staan ook stil.

Die meeste winkels op die dorp is gesluit, maar die Dagbreek Spar is oop. Omdat geen plaaslike personeel opdaag vir werk nie, word personeel van die Nelson Mandel Metropool gehuur om die winkel oop te hou. Die Spar het reeds R1.3m se verliese gely, het die sakeman en eienaar, mnr Flippie Ehlers, bevestig.

Een plaaswerker is dood en twee mense is beseer tydens geweldadige protesaksie.

Die Brandweerstasie en -waens is buite werking, met een van die brandweerpersoneel as een van die opstokers. Die Brandweerstasie op Kirkwood was ten beste net tot 4 nm in werking. Die Munisipaliteit en sitruskwekers het bystand van twee tot drie brandweerwaens uit die streek versoek. Kouga munisipaliteit  en Sara Baartman distriksmunisipaliteot het gehelp met twee brandweerbakkies en personeel. Sitruskwekers en sakemanne op die dorp het hulle eie waterkarre geprakseer om verdere skade aan eiendom te probeer beperk.

Doodsdreigemente is op struskwekers se selfone aan hulle gerig, asook aan die burgemeester gerig.

In My Mooi Dorp: Ons bekyk die anatomie van ’n staking en plundering na aanleiding van die staking van plaaswerkers in die Sondagsriviervallei, om te verstaan hoekom werkers hulle tot plundering wend terwyl daar forums is om ongelukkigheid te bespreek en eise te stel.

Luister hier na die gesprek:

 

Die stakers se eise

Die stakende werkers het 2 stelle griewe en eise aan partye oorhandig.

In die stel eise aan die Sondagrivier Munisipaliteit, word onder meer die volgende ge-eis:

1. Sluit alle onwettige skrootwerwe onmiddellik om kabeldiefstal hok te slaan. (Grootskaalse kabeldiefstal lei gereeld tot kragonderbrekings en waterpompe wat nie werk nie, en belemmer krag- en watervoorsiening aan alle woongebiede.)

2. Sluit onmiddelik alle onwettige sjebeens wat byna te alle ure drank bedien.

3. Verbeter dienslewering drasties in terme van konstante watervoorsiening, kragvoorsiening en swak paaie en strate.

In die stel eise aan die sitruskwekers, word onder meer die volgende ge-eis:

1. Verhoging van die minimum-loon van R23.19 tot R30 per uur.

2. Dat plaaslike werkers eerste in diens geneem word voordat enige siesoenale werkers van ander streke soos Zimbabwe en Lesotho in diens geneem word.

Enkele feite

Die werkers op plase het skaars ‘n maand gelede dokumente geteken en die aanbod van R23.19 per uur aanvaar, plus insentiewe gekoppel aan produktiwiteit.

Sitruskwekers betaal nie werkers minder as minimumloon nie. Sitruskwekers in die vallei betaal plukkers insentiewe vir produktiwiteit sodat die meeste plukkers tussen R44 en R48 per uur verdien.

Die vallei het sowat 12000 tot 15000 plaaslike inwoners wat kan werk. Van hierdie werk heelwat in fabrieke in die metropool of buite die vallei. Sterk en fiks werkers word benodig om as plukkers te werk. Die meeste mense ouer as 60 jaar, is nie fiks en sterk genoeg om die plukwerk teen goeie produktiwiteit te doen nie. Uit die poel van sowat 12000 tot 15000 mense, bly minder as 9000 oor wat geskik is vir die benodigde seisoenale werk.

In die plukseisoen benodig die vallei sowat 35000 tot 40000 werkers op plase en in pakhuise. Dit beteken dat minstens 25000 tot 30000 sterk en fikse seisoenale werkers (meestal uit Lesotho en Zimbabwe) benodig word om die sitrus-oes van sowat 30m kratte betyds gepluk en verpak te kry. Oor 5 jaar sal die oes 40m kratte beloop en sal selfs meer seisoenale werkers benodig word. Die vallei kan nie floreer sonder seisoenale werkers van Maart tot Oktober elke jaar nie.

Die meeste permanente werkers op sitrusplase is plaaslike mense. Dit blyk dat 25 tot 30% van dié werkers weens maatskaplik-sosiaal probleme insluitende alkoholgebruik, meestal nie Maandae, Dinsdae en Vrydae vir werk opdaag nie.

Die struskwekers het ná die vorige staking in 2018 ‘n kollaboratief, die Sundays River Valley Collaboration, op die been gebring, en sedertdien meer as R60m in die gemeenskap belê aan opheffing. Slegs een van die lede van die Collaborative het hom aan die kant van die stakers geskaar terwyl die ander lede – wat almal betrokke was by die 2018 staking – hulle sterk teen die staking uitgespreek het en ook probeer bemiddel.

Die sitruskwekers het ook ‘n ruim studiebeurs vir universiteits-opleiding en werksversekering ná opleiding vir studente uit die agtergeblewe gemeenskap, beskikbaar. Geen agtergeblewe matrikulant het egter nog sedert 2018 akademies gekwalifiseer vir die beurs nie. Kommer heers oor die standaard van laerskool-opleidiing by veral twee staats laerskole in die streek, naamlik die Rietberg Laerskool en die laerskool op Malmaison. Sommige van leerlinge wat graad sewe by die skole voltooi, kan nie werklik lees of skryf nie en ook nie wiskunde bemeester nie.

Ironies genoeg het die sitruskwekers vier weke gelede op ‘n vergadering planne voorgestel om elke jaar 2 klaskamers by swart en bruin skole in die vallei aan te bou, en sportvelde by van die skole op te rig. Daardie planne is nou van die baan weens die R100m skade wat alle sitruskwekers nou agv die staking en sitrus wat nie betyds ge-oes kan word nie, ly. Groot skade is ook berokken aan verhoudings tussen sitruskwekers en stakende en plunderende plaaswerkers.

Die Sondagsrivier Munisipalteit verdoem alle geweld en vra kalmte en onderhandelings.

Die moontlikheid word ondersoek dat die EFF, ‘n splintergroep van SANC0, en van die druglords agter die staking en eise vir hoër lone is. Dit is nog nie duidelik wie die werklike leiers van die stakers is nie, omdat die leiers van dag tot dag wissel.

Ander maatskaplik-sodiale probleme in die streek, sluit in:
– Dwelm- en alkoholmisbruik onder die jeug en ouer mense. Dwelms is geredelik beskikbaar in woongebiede en die hoofdorp.
– Tienerswangerskappe, wat moontlik gedryf word deur sugardaddies en die baba-toelaes. ‘n Vinnige informele opname in King Williams Town in die Oos-Kaap het getoon dat sowat een-derde van die toelaag gebruik word vir airtime vir die ma, een-derde vir airtime vir die baby daddy, en die laaste derde vir kos vir die baba. Die tiener-ma’s wil meestal nie borsvoed nie, omdat dit hulle dan bind en moeilik maak om partytjies by te woon. Doe meeste babas van tienermas is dan ondervoed en kry nie naastenby die nodige voedingstowwe in nie. ‘n Jaar of twee later is die tienerma weer swanger en ‘n volgende toelaag wag.
–  Armoede, werkloosheid en honger kinders en volwassenes. Engele in die vallei het daagliks ‘n sopkombuis en voorsien ook ander noodsaaklikhede. Van die boere skenk gereeld vrugte.
– Jong ‘skoppers’ in die gemeenskap wat soos mini-mikroleners optree en ‘n skrikbewind voer as hulle lenings nie teen 200% terugbetaal word nie.
– Mikroleners wat leners se ID dokumente afneem sodat die leners dan nie wetlik aangestel kan word om te werk nie. Die moontlikheid dat die Chinese winkel op die dorp ook as mikrolener optree, word ondersoek.
– TB en Vigs kom wyd voor. Kliniek/Hospitaalpersoneel doen hul bes om by alle pasiënte uit te kom om hulle te monitor en seker te maak hulle neem hul medikasie.
– Verdrinkings kom veral in die somer voor as kinders in die besproeiingskanale swem of beland. Dit volg nadat gemeenskapslede self die omheinings om die kanale steel en by hulle eie wonings gebruik.
– Gevaarlike onwettige kragverbindings hou gevaar in vir verskeie huishouding en die gemeenskap. Oop elektriese bedrading, wat onwettig aan kragbokse gekoppel is, lê selfs 100m of verder in sekere woongebiede se strate. In reënweer is hierdie verbindings dodelik. Munispale werkers word aangerand as hulle die onwettige verbindings probeer ontkoppel.
– Min of geen beheer oor die vuil en haglike stalletjies in die hoofstraat van die dorp nie. Die vermoede bestaan dat dwelms by van die stalletjies verkoop word, maar nie die Munisipaliteit of die SA Polisiediens het al hierdie sake ondersoek of daarteen opgetree nie.
– Diefstal van vee, wild, sitrus, kabels, sonpanele, sinkplate is ongebreideld.

Marí Hudson