Wendramas: Luister weer na ‘‘n Blommekroon vir Belinda’


Luister Donderdagaand om 8 uur in RSG se Radioteater na ’n Blommekroon Vir Belinda, deur Almé Swart, pryswenner in die kategorie beste Jong Skrywer in die 2023 RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV.

 

 

Die storie

Elke middag om klokslag half twee kom Belinda Gouws by haar seun Barend se koffiehuis in. Dan soek sy die tafel teen die muur want sy wag vir haar man. En wanneer kom haar man? Hy kom nie.

Die nuwe kelnerin is Nadia, wat ná ‘n ontstellende gebeurtenis na die klein Karoo-dorpie gevlug het. Sy vermoed dat daar ‘n groot skroef los is en dat Belinda nooit herstel het na ‘n groot traumatiese gebeurtenis in haar verlede nie. Wanneer sy een middag ‘n blommekroon vir Belinda vleg, hoor Nadia wat werklik lank, lank gelede gebeur het. Só help Nadia om die raaisel van Belinda se jarelange gewag op haar man op te los. Maar nie voordat haar eie geheim ook op die lappe kom nie.

Die karakters en akteurs

Die spelers in die ateljee tydens die opnames. Kloksgewys van links na regs is Stefan Vermaak, Chloe van Rooyen, Ronel Geldenhuys, Elanza Swart en Anna-Mart van der Merwe. Regs agter is Melt Sieberhagen.

In die rolverdeling is:
Belinda, die vrou wat vasgevang is in die verlede, word vertolk deur Anna-Mart van der Merwe
Nadia, ‘n meisie met gewetenswroegings, word gespeel deur Elanza Swart.
Louise, haar tante, wat self ook ‘n geheim koester, word vertolk deur Ronel Geldenhuys.
Mia, die bekkige kelnerin, word gespeel deur Chloe van Rooyen.
Barend, die restaurant eienaar wat finansieel in die knyp is, word vertolk deur Stephan Vermaak.
Jakes, die oorsaak van Barend se verknorsing, word vertolk deur Melt Sieberhagen.

Tegniese en akoestiese versorging is deur Cassi Lowers.

Die regie is behartig deur Amor Tredoux.

Elanza Swart

Chloe van Rooyen

Stefan Vermaak

Die skrywer

Die prys vir Jong Skrywer (jonger as 30 jaar) is deur Almé Swart (29) ingepalm met haar tweede radiodrama, Blommekroon vir Belinda. Swart het voorheen die Jong Skrywersprys gewen vir haar debuut-radiodrama, Mot, wat ook op RSG uitgesaai is.

RSG se eerste dramaseisoen van 2024