Ontmoet Gustav, nuuskierige radioman, reisiger, orrelspeler en fossieljagter


Gustav is ook tuis voor die TV-kamera’s.

Ontmoet vir Gustav Greyling, een van die anker-aanbieders van Op en Wakker, maar ook volledige radioman, bekende gesig op eNCA, voormalige orrelis en fossieljagter.  En hy is ook ‘n nuuskierige agie – ‘n noodsaaklike eienskap vir ‘n joernalis.

Ons het ‘n paar vrae aan hom gestel om hom beter te leer ken.

In RSG se Monitor-ateljee in Aucklandpark

Waar kom jy vandaan en wat was jou eerste werk?

Ek is gebore op Durban se Berea-rif en het die eerste 18 jaar van my lewe deurgebring in New Germany, ‘n voorstad van Pinetown, sowat 20 km na die binneland van Durban. Die lewe was taamlik groen en bedompig – ek was meestal besig met skool en buitemuurse musiek – klavier, musiekteorie en orrel.

My eerste werk was as orrelis vir die plaaslike Hervormde Kerk. En sommer vir enige kerk wat iemand nodig gehad het om in te staan of af en toe vir ‘n begrafnis te speel.

Waar kom jou belangstelling in media vandaan?

Ek was nog altyd gefassineer deur alle vorme van joernalistiek en kommunikasie. Ek het tydskrifte verslind en ‘n koerantlees-kultuur by my oupa aangeleer. Ek was ‘n redaksielid en later redakteur van ons skoolkoerant. Maar as kind van die 1980s was ek ook geïnteresseerd in die produksieproses van TV.

Ek het elke jaar tydens die Comrades-marathon die TV dopgehou vir al die bekende plekke waneer die hardlopers deur ons dorp kom. Een jaar het ek besluit om sommer self te reël dat ek in die SAUK se Topsport-vragmotor by die eindpunt in Pietermaritzburg kan gaan kyk hoe die reuse buiteuitsending aan mekaar gesit word.

Ek onthou nog goed Edwill van Aarde was die kommentator en Trevor Quirk die aanbieder aan wie die regisseur opdragte gegee het.

Hoe het die radiogogga gebyt?

Toe ek op hoërskool was tydens die oorgangsjare van die vroeë 1990s is die destydse Radio Suid-Afrika se naam en formaat verander na Afrikaans Stereo – met die slagspreuk ‘radio sonder grense’  – daardie vernuwingsproses het tot my idealistiese jong self gespreek en ek het saans wanneer ek moes huiswerk doen in die kamer geluister na uitdagende programme soos Max du Preez se ‘Klip in die Bos’, Susan Booyens se ‘Klankbord’ of Johann Botha se laataandmusiek – of dit nou blues of opera was.

Dit het my weer die foon laat optel om ‘n besoek te reël aan die SAUK se uitsaaisentrum in Ou Fortweg in Durban waar die omroeper Johannes Oosthuizen my rondgewys het – ook die ateljee van wat toe Radio Port Natal, of RPN Stereo, was – waarna ons party oggende in die motor geluister het. ‘n Paar jaar later is ek universiteit toe in Bloemfontein, en het omtrent dadelik by die kampusradiostasie en studentekoerant aangemeld.

Hoe het jou radioloopbaan van hier af rigting gekry?

Na ‘n jaar op kampusradio het ek my eerste betaalde radiowerk losgeslaan by die plaaslike gemeenskapstasie, Radio Hoogland. Dit was bedoel vir die landbougemeenskap van die Vrystaat. Ons jonges moes aanvanklik die deurnagskofte doen – ons het dit ‘Snags in Stereo’ genoem. Hierdie stasie was die slypskool waar ek min of meer alles geleer het wat mens in daardie stadium glad nie in ‘n klas of kursus kon leer nie. Mentors het ‘n belangrike rol gespeel – ons moes die mengbank in die middae dryf vir Christo Olivier (ons TV-kollega Liezl Olivier se pa) en kon hom waarneem terwyl hy uitsaai. Die baas was Kolie van Coller en die ontbytprogramaanbieder Johann Els wat ons ook touwys gemaak, en geleer het van goed soos diafragma-asemhaling.

Na ‘n jaar by Radio Hoogland is ek genader deur Albé Grobbelaar, bestuurder van OFM – toe nog Radio Oranje – die groot stasie in die stad. Hy het my ‘n skof aangebied vir weeksaande wat my beginsalarissie sommer verdriedubbel het.

Hierna was ek betrokke by wat nou die Namibiese stasie Kosmos 94,1 is en het vir ‘n ruk op Rippel 90.5fm in Pretoria uitgesaai voordat ek in 2003 by Jacaranda FM aangesluit het.

Daardie 10 jaar het my hele loopbaan verander. Ek het meestal agter die skerms gewerk as musiek- en skeduleringsbestuurder en was baie nou betrokke by verbruikersnavorsing, strategie en die kwartaallikse besoeke van die stasie se internasionale konsultante. Ek het baie geleer oor die professionele, verantwoordelike en winsgewende bedryf van ‘n radiostasie – beginsels waarmee ek nie regtig in gemeenskapsradio te doen gekry het nie.

Deelnemers aan Deutsche Welle-kursus in Bonn in 2008

My baas, Alan Khan, het besluit om my na Duitsland te stuur vir ‘n radiobestuurskursus by die Deutsche Welle-Akademie en al hierdie ervaring het my gehelp om radio baie meer holisties te benader as wanneer ek vir al die jare net ‘n omroeper of nuusleser sou wees.

Van nuusleser gepraat, jy is ook bekend van jou werk op TV?

Ek is nog altyd baie nuuskierig – die een eienskap van ‘n joernalis wat niemand vir jou kan aanleer nie. My ervaring as verslaggewer en redakteur by die skool- en studentekoerant het hierdie vaardigheid defnitief geslyp. Maar ek onthou nog hoe ons iewers in die middel 1990s vir die eerste keer CNN kon kyk in Suid-Afrika – Larry King Live vir een uur per dag, en later meer.

Die nuusgogga, wat baie nou verwant is aan die uitsaaigogga, het behoorlik gebyt. Maar dit het baie lank geneem voordat die TV-Nuus-legkaartstukkie sy plek gevind het. Ek het in 2002 ‘n kursus in TV-aanbieding by Tracy Going, die voormalige Morning Live-aanbieder, bygewoon. Ons moes vir ‘n aantal Saterdae die hele dag by die SAUK se TV-Sentrum deurbring en op die laaste dag ‘n video-opname doen vir ‘n sg. “showreel”. Die vloerbestuurder in die ateljee het daardie dag vir my gesê dit lyk asof ek daar hoort.

TV is egter ‘n vreemde medium – dit werk altyd beter wanneer die aanbieder ouer of meer volwasse is. Die lewenservaring moet op jou gesig sigbaar wees. Te jong aanbieders kry dit nie reg om met die mense aan die ander kant van die kamera ‘n opregte verbintenis te vorm nie. Op daardie laaste dag het een van die kursus-aanbieders vir ons vertel hoe baie oudisies ons gaan moet doen vir elke moontlike rolletjie in ‘n advertensie. Ek was glad nie lus daarvoor nie en het die TV-plan op die lange baan geskuif.

Gustav by eNCA

Maar 10 jaar na die kursus doen ek uit die bloute ‘n oudisie by eNuus, slaag dit, en daar is ek binne weke op die program met die hoogste kykertal in kykNET se prima-kyktyd. Regstreeks en aan die diep kant ingegooi. Die tyd en omstandighede was reg, en ek het hierdie nuwe geleentheid aangegryp vir die volgende sewe jaar – as deel van die nuusproduksie-span en ook as aanbieder op die nuuskanaal eNCA.

Ateljee 9

Dis vreemd hoe die wêreld werk – ek het pas weer ‘n nuwe TV-uitdaging aanvaar as een van drie ankeraanbieders van die Engelse aandnuus op die SAUK se kommersiële TV-kanaal, S3. Snaaks genoeg word dit uitgesaai vanuit Ateljee 9 in TV-Sentrum – presies dieselfde ateljee waar ek 20 jaar tevore my “showreel” vir Tracy Going opgeneem het.

Is jou belangstellings en jou werk verweef?

Defnitief. Die hele konsep van openbare diens-radio vereis dat jy ‘n baie wye belangstellingsveld, algemene kennis en nuuskierigheid vir heelwat dinge moet hê.

Ek is nog altyd iemand wat wyd, wêreldwyd en ‘grensloos’ dink, lees en media verbruik  – ek hou van reis en om te verstaan hoe die wêreld werk. Ek hou daarvan om ander kulture en samelewings waar te neem.

Ek is baie visueel en sensories ingestel, en het ‘n hoë waardering vir die estetiese. Ek het in my werk myself nog nooit vergelyk met plaaslike mededingers nie – altyd met die beste in die wêreld – dis al hoe ‘n mens jouself verbeter.

Wat was jou uitsonderlikste ervaring?

Gustav by Adventures with Elephants by Bela Bela.

Waarskynlik om my hand in ‘n renoster se mond te druk en die fluweelsagte tong te voel. Dit was tydens ‘n projek in die Pilanesberg- Nasionale Park waar renosters onthoring is om hulle minder aanloklik vir stropers te maak.

Dit was ook ‘n besondere ervaring om ‘n paar mak en intelligente olifante van nader te leer ken.

Ek het as kind baie in die natuur gekom – nie net vir gewone besoeke aan die wildtuin of berge nie, maar ook wanneer ons saam met my ma die boendoes ingevaar het vir haar veldwerk toe sy ‘n meestersgraad in paleontologie gedoen het.

Ons was in onherbergsame gebiede aan die Wildekus en die verre noorde van KwaZulu-Natal, waarvan party vir gewone besoekers gesluit is. My hoërskooljare het dus ‘n hele paar fossielsoek-sessies ingesluit.

Die mees betekenisvolle plekke op aarde waar jy al was?

Daar is ‘n hele paar wat mens se asem wegslaan of waar jy nie voor die tyd besef het hoe baie dit jou gaan beïndruk nie. St.Petrus-basilika, die Sistynse Kapel en Vatikaanse kunsmuseum is meer indrukwekkend as wat ek gedink het.

Jerusalem het ‘n verrassing om elke hoek en draai opgelewer en elke denkbare voorafopgestelde idee uitgedaag.

Saam met ‘n Britse backpacker by Hole in the Wall naby Koffiebaai aan die Wildekus in 2009

Die reise tussen plekke lewer nogal goeie materiaal op vir kreatiewe skryfwerk – mens het partykeer net ‘n klein plekkie of gebeurtenis nodig om ‘n hele artikel te ontsluit – ‘n wandelgang in Amsterdam, ‘n sagte woudtapyt in Eisenach, ‘n biskop met ‘n snaakse hoed in ‘n Middeleeuse kerk in Oxford.

Gustav voor die Dome of the Rock, Tempelberg, Jerusalem.

Maar dis die plekke wat as katalisators gedien het vir skuiwe in my loopbaan wat my nogal bybly – die Deutsche Welle in Bonn en Berlyn het ‘n blywende indruk gemaak en my hele denkwêreld vorentoe geskuif.

En by Switserland se nasionale uitsaaier SRF in Zürich het ‘n hele paar RSG-idees ontkiem. Party van hule is nog op pad.

Die woestyn tussen Eilat en Egipte, Sinai, 2012.