Luister weer na roerende drama ‘Voor ek Vergeet’


Luister Donderdagaand net na 20:00 na die roerende drama Voor ek vergeet. Voor ek vergeet is geskryf deur  Karen Marx en vir die radio verwerk deur Eben Cruywagen. Die regisseur is Christelle Webb-Joubert.

Amanda Strydom en Hannes van Wyk het destyds die rolle vertolk in die verhoogproduksie. Donderdagaand word die stemme van Dawid Minnaar, Nadia Valvekens en Eddie de Jager ook gehoor.

Die storie

Hendrien moet skuif van haar woonstel, na ‘n kamer in die aftree-oord waar sy bly. Sy is gediagnoseer met vroeë tekens van dimensie.

Daarby het haar pragkind, haar talentvolle seun Johan, se kanker teruggekeer.

Hierdie is ‘n storie van oud word, afskaal, twyfel, verlies en vergeet.

DIE AKTEURS

HENDRIEN Amanda Strydom
JOHAN Hannes van Wyk
LOUISE Nadia Valvekens
DS. SMIT Dawid Minnaar
PIETER Eddie de Jager

TEGNIESE SPAN: Thato Maphoroma en Frik Wallis

Die akteurs en regisseur. Voor is Amanda Strydom. Agter is Eddie de Jager, Dawid Minnaar, Hannes van Wyk, Christelle Webb-Joubert en Nadia Valvekens.

Die idee van Hannes van Wyk

Hannes en Eddie

Die hele idee wat aanleiding gegee het tot die teks, Voor ek vergeet, het alles by Hannes van Wyk begin.

Voor ek Vergeet was vir my ‘n hartsprojek en het al begin in 2011, – 12 jaar gelede, vertel Hannes. Ek wou graag ‘n toneelstuk doen oor ‘n ma en haar seun. Deels omdat ek en my eie ma, Mariet van Wyk, so ‘n wonderlike verhouding gehad het. Natuurlik was die toneelstuk fiksie, maar tog is daar ook baie raakpunte.

Ek het vir Karen Marx (van der Merwe) gekry om die teks te skryf en ter voorbereiding daarvan het ek vir haar bladsye en bladsye notas gestuur oor wat ek wil hê in die toneelstuk moet wees. Ek en Karen het mekaar goed leer ken toe sy ‘n skrywer by Egoli was en ek het groot respek vir haar skryfwerk.

Eers nadat ek die teks gekry het, het ek en Theresa du Preez (wat saam met my vervaardig het) in alle erns begin kyk na wie die ma gaan speel. Ons het baie mense oorweeg, onder andere Christine Basson en Marga van Rooyen, maar ons het saam besluit dat daar nie ‘n beter “ma” kon wees vir die spesifieke toneelstuk as Amanda Strydom nie. Ek en Amanda het regtig ongelooflik lekker saam gewerk.

Ek het ook besluit dat ek graag saam met ‘n regisseur wil werk wat ek ken, vertrou en volgens my een van die beste regisseurs in die land is, Gert van Niekerk.

Ek en Amanda was bevoorreg om reg oor  Suid- Afrika te gespeel het met Voor ek Vergeet en, kan met dankbaarheid sê voor vol sale en teaters.

Ná die toneelstuk is ons genader om ‘n filmweergawe te skiet vir Kyknet, wat met groot sukses in 2021 uitgesaai is.

En nou… Voor ek Vergeet die radiodrama waaroor ons baie opgewonde is. Dit voel vir ons of ons nou die sirkel voltooi het..Verhoogproduksie, film en nou radio.

Ek moet eerlik wees dat die radiodrama vir my die moeilikste was. Natuurlik omdat die storie, wat nogal moeilik is om te vertel, met net jou stem vertel word. Niks dekor of ligte ens nie. Ek dink egter Eben Cruywagen het dit baie goed reggekry met die verwerking van Karen Marx se teks. Dit was ook heerlik  om die bekwame radio-regisseur Christelle Webb-Joubert aan die stuur van sake te kon hê.

Ek glo en vertrou dat julle Voor ek Vergeet die radiodrama sal geniet.

Die verwerking vir radio – Eben Cruywagen vertel van sy uitdagings

Om enige teks, hetsy prosa, verhoogdrama of van die elektroniese visuele media vir die radio te verwerk, is in die eerste plek ʼn reuse voorreg en in die tweede plek ʼn uitdaging - want daar is geen resep wat alle genres oor dieselfde kam skeer nie.

Die oorspronklike verhoogteks van Voor ek vergeet deur Karen Marx, het twee karakters gehad: Die sewentigjarige HENDRIEN in die vroeë stadium van demensie en haar veertigjarige seun, JOHAN, ʼn Hodgkinsiekte-lyer.

Om die drama radiomatig te kry, moes daar noodwendig nie net aan die oorspronklike dialoog vir die verhoog verander word nie, daar moes ook dialoog geskep word om die visuele ervaring van die teaterganger te ondervang. Daarbenewens moes nuwe karakters en nuwe tonele geskep word sodat die luisteraar deurentyd betrokke kan bly en empatie met die karakters kan hê.

Gelukkig verskaf die verhoogteks genoeg ammunisie wat die name van bykomende karakters betref, soos LOUISE, Johan se gewese verloofde, DOMINEE SMIT, die Botha-gesin se jarelange leraar, en PIETER, Johan se jonger broer wat na Australië uitgewyk het.

Vir elkeen van hierdie karakters moes daar natuurlik ook nuwe tonele geskep word sodat hulle met die nuwe gegewe van die radiodrama geïntegreer kon word.

Met elke verwerking van sulke sterk materiaal, is my enigste wens dat ek reg sal laat geskied aan die skepping van die dramaturg, die karakters en die intrige. 

Amanda Strydom vertel meer van Hendrien

Ek was 23 jaar laas in ‘n toneelstuk toe Hannes van Wyk my in 2011 genader het om die rol van Hendrien Botha te vertolk in Voor ek vergeet. Toe ek die stuk lees, het ek besef ek sal absoluut simpel wees om dié kans te laat verbygaan. Dit is só ‘n wonderlike karakter om te speel, Hendrien is ‘n volronde, lieflike vrou met ‘n heerlike sin vir humor, ‘n passie vir musiek, diep gelowig en haar seun is haar hele lewe.

Wanneer sy met demensie gediagnoseer word, klou sy verbete aan die lewe vas, eers deur ontkenning, dan aanvaarding. Sy moet haar bekende wêreldjie verruil vir ‘n kamer en dit gooi haar lewe deurmekaar. Daar is soveel fasette aan hierdie karakter en ek het elkeen probeer uitlig. Die liefde loop soos ‘n goue draad in haar wese en selfs in die magteloosheid van haar situasie, veg sy teen die onvermydelike.

Wat ‘n eer was dit om ná soveel jaar hierdie karakter weer teenoor Hannes van Wyk te vertolk. Die pluspunt was die karakters wat Eben Cruywagen bygeskryf het om die storie verder in te kleur. Dit was baie spesiaal dat Eben getrou gebly het aan die oorspronklike toneelteks. Regisseur Christelle Webb-Joubert het ons gekoester tydens die bykans vyf ure se opname en daar was tye dat ons trane vlak gelê het. Dit is ‘n storie van verlies, hoop, maar bowenal liefde. Dankie dat ek weer deel kon wees daarvan.

Regisseursnotas deur Christelle Webb-Joubert

In die vervaardigerstoele.

Hoe sê mens nee vir die geleentheid om met so ‘n wonderlike teks te werk, en saam met Amanda Strydom en Hannnes van Wyk. Die storie en teks is so deel van Hannes en Amanda, wat my werk baie makliker gemaak het.

Ek kon egter besluit wie die ander drie akteurs is om die rolle van Louise, Ds. Smit en Pieter te vertolk. Nadia Valvekens, Dawid Minnaar en Eddie de jager was so knap, dat dit voorgekomhet asof hulle nog altyd deel was van die storie.

Ek het vir die eerste keer in ons nuwe ateljee opgeneem en ook vir die eerste keer op ‘n ander manier. Waar ek voorheen alles (dialoog, byklanke en musiek) op een slag opgeneem het, het ek die keer net die dialoog opneem, met enkele byklanke. Ek kon dus fokus op spel.

Met die dag van opname het Thato Maphoroma my tegnies bygestaan, maar dit was Frik Wallis wat na die tyd gesorg het dat elke voëltjie, voetstap en musieknoot op die regte plek is.

Dit bly ‘n lekkerte om stories te kan vertel met klank. Mag jy aangeraak word deur die een!