Carla gaan Spitstyd laat ‘trend’ op sosiale media


Carla MacKenzie

“Ek sien ongelooflik uit om by RSG te werk, want dit is in my taal waarvoor ek so lief is!” sê Carla Mackenzie, wat pas as vryskut-regisseur  by die Spitstyd-span aangesluit het en ook verantwoordelik is vir die sosiale media teenwoordigheid van dié program.

“Die gesprekke en aanbieders soos Willem Pelser is van my gunstelinge. Ek is opgewonde om by dié span aan te sluit,” sê Carla.

Carla het meer as tien jaar ondervinding as  radio- en TV-aanbieder en -vervaardiger in die vermaaklikheidsbedryf.

Sy het ná haar studies aan die Universiteit van Stellenbosch, sewe jaar lank SA Top 20 by Jacaranda FM aangebied en die soiale media van hul ontbytprogram behartig. Sy bied ook die musiekprogram, Musiek Paniek, op VIA (Kanaal 147, Vrydae om 20:00) aan.

In haar vrye tyd woeker sy in die Johannesburgse eiendomsmark, en beskou haarself as ‘n amateur kuns- en rooiwynversamelaar – sy is baie trots op die oorspronklike Portchie skildery wat in haar huis in Johannesburg hang.

Carla is ‘n ywerige sportvrou en het Suid-Afrika in hokkie verteenwoordig. Sy bly fiks deur bergfiets te ry, en sokker en tennis te speel.