Die Lingerfelders is terug op RSG


Die Lingerfelders laat waai!  is ‘n opvolg van die kontemporêre, karakter-gedrewe “Die Lingerfelders” wat teen die agtergrond van ‘n ryk gesin, en hulle familie, vriende, kennisse en minnaars in een van Pretoria se gesogte voorstede afspeel. Die verhaal handel oor verhoudings in gesinne en families, asook  kwessies  soos aanvaarding deur gesins- en familielede van ander wat van hulle verskil, en ou wrokke wat lankal begrawe is, maar dan oopgekrap word.

Elma Potgieter en Anton Dekker.

Chris Lingerfelder (Anton Schmidt) is die patriarg wat moes leer aanvaar dat sy enigste seun gay is. Hy en sy vrou, Bets (Heidi Mollentze), het in die loop van die vorige reeks nader aan mekaar beweeg en werk nou aan hulle huwelik.

Hulle seun, Danny (Pietie Beyers), en sy skoolliefde, Drikus Lampbrecht (David Louw), is herenig, maar die verhouding is maar wankelrig.

Hulle dogter, Pearl (Eloise Cupido), is swanger en sy en haar man, Shaun Jonker (Donovan Pietersen), sit baie vas.

Bets se ma, Aletta  Naude (Rina Nienaber), het aan die einde van die vorige reeks uiteindelik vir Bets vertel wie haar pa is. Bets sukkel om dit te aanvaar. Sy en haar ma se verhouding is steeds problematies. Aletta is ‘n aktrise wat nie op die oomblik werk het nie.

Haar groot bewonderaar, Roelf le Roux (Paul Lückhoff) bly in ‘n tuinwoonsel by Bets en haar man.

Eloise Cupido, Pietie Beyers en Heidi Mollentze

Pearl se biologiese ma, Alice Edson (Ilse Klink), is ook ‘n aktrise, maar meer suksesvol. Pearl het haar eers as volwassene leer ken.

Later in die verhaal kom maak Amanda Strydom ‘n draai as Chris se ma (Janet Lingerfelder). Sy bly in ‘n versorgingseenheid en sy en haar seun het oor die jare min kontak gehad.

Elvera Strauss (Elma Potgieter) is Chris se PA en regterhand. Sy en haar minnaar, Dieter de Vos (Anton Dekker), beplan om te trou, maar daar is vele struikelblokke, o.a. sy humeur en ook ‘n bewonderaar,

Jos Ferreira (Lochner de Kock), wat ‘n oog het op Elvera.

 

Die Lingefelders laat waai ! word geskryf en opgevoer deur Mari Snyman.

Vanaf 26 Mei net ná die 15:00 nuus   op RSG.

Kyk na die foto’s wat geneem is tydens ‘n opname van die nuwe middagvervolgverhaal:  Lingerfelders laat waai. 

Paul Luckoff en Rina Nienaber

Heidi Mollentze en Eloise Cupido

Chris Smidt en David Louw (regs)

Chris Schmidt en Rina Nienaber

Lees meer oor die eerste reeks van die Lingerfelders:

https://www.rsgplus.org/behoeftes-en-begeertes-borrel-na-bo-in-nuwe-familiesage/