Greenroom: Lear van 1971 ontmoet Lear van 2021 voor die mikrofoon


GREENROOM deur Ilne Fourie, speel af in ‘n green room waar menige akteurs al meer tyd spandeer het agter die verhoog as op die verhoog tydens repetisies om iets te drink, te gesels, deur woordrepetisies te gaan en mekaar se lief en leed te deel.

Hierdie magiese ruimte, die green room,  word dan slim benut, deur die skrywer, Ilne Fourie  tydens ‘n verhoogrepetisie van Daar woon mense, een van Athol Fugard se nie-politiese dramas. Die intertekstualiteit van die rolle van Don en Millie, met die akteurs Barry (Cobus Rossouw) en Isabelle (Antoinette Kellermann) as twee akteurs wie se rakleeftydperk einde se kant toe staan bring patos, humor en respek vir die toegewyde werk wat spelers as akteurs oor dekades in Suid-Afrika en ander lande doen. Hoewel hulle as argetipes uitgebeeld word is daar eienskappe en trekke wat teaterliefhebbers sal snap en herken.

Ten einde word ‘n mens met heimwee en deernis vervul oor die bydraes wat soveel kreatiewes agtergelaat het, maar ook weerloos laat in hul latere jare.

So, Pack up your troubles vir RSG-Radioteater Donderdagaand 20h00 in GREENROOM deur Ilne Fourie.

GREENROOM deur Ilne Fourie

Rolverdeling:

Barry:              Cobus Rossouw

Isabelle:          Antoinette Kellermann.

Akoesties:      Cassi Lowers

Regie:             Johan Rademan

Antoinette Kellerman en Cobus Rossouw tydens opnames.

Of kyk na die Video

Antoinette Kellermann

Cobus Rossouw en Antoinette Kellermann

Cobus Rossouw

Cobus Rossouw (g.1933), een van Suid-Afrika se megasterre op die verhoog, speel na baie jare weer in ‘n radioteater, saam met nog ‘n bekroonde ster, Antoinette Kellermann (g.1952).

In 1971 ontvang Rossouw die Erepenning vir Toneelkuns van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hy maak sy rolprentdebuut in 1965 in Debbie, maar is dalk meer bekend vir sy pionierswerk op die verhoog met uitdagende rolle soos die in Koning Lear, Hamlet en Oom Wanja.

In die einste 1971 speel Cobus as 28-jarige die rol van Lear in KRUIK se openingsproduksie op aanbeveling van Pieter Fourie onder regie van Dieter Reible. Ironies genoeg word Antoinette Kellermann in die rol van Lear vanjaar verfilm.

As akteurs vir die radioteater genre het beide al beeldskone en weergalose vertonings gelewer. Die 2 “Koning Lears” moet eintlik “Koning Midasse” genoem word volgens regisseur, Johan Rademan wat die twee akteurs weer voor die mikrofoon kon saamsnoer in Cobus Rossouw se 88ste lewensjaar, want hulle raakvat van ‘n teks is goudwerd.