Luister weer: Kronkelpad vol ligte romantiek


Donderdagaand (25 November)/Vanaand om 20:00 in RSG se Radioteater kan jy jou verlustig in Ronel Mostert se  ligte romantiese stuk, Kronkelpad.

Die storie

Lize Rademeyer, ‘n beelskone meisie met ‘n gebroke hart, bevind haar op ‘n gevaarlike plaas grondpad, sonder petrol en oënskynlik ‘onder die invloed’ as Hugo Naudé, die dodelik aantreklike eienaar van die plaas, op haar afkom. Hy is woedend wanneer hy verneem dat sy in diens geneem is as in-huis fisioterapeut deur sy eiewys sussie, Mijke, wat die gebruik van haar bene verloor het weens ‘n motorongeluk op dié einste verraderlike pad.

Die rolverdeling

Amalia Uys in haar radiodrama debuut as die fisioterapeut met ‘n gebroke hart, Lize..

Jacques Bessinger as die wynboer, Hugo, wat die kontrei se vrouens se knieë laat swik..

Roeline Daneel as sy sussie, Mijke, wat konkel om die tweetjies se paaie te laat kruis..

Zenobia Kloppers as die getroue Triena, self-aangestelde ma van die twee jong Naudés..

André Samuels as haar goedige eggenoot en Hugo se regterhand op die plaas, Frans..

Ira Blankenberg as die wynmaker met ‘n donker geheim..

Petrus du Preez as as Stiaan, Lize se eks.

Cassie Lowers is verantwoordelik vir die tegniese versorging..
En Amor Tredoux is die regisseur.

Van links na regs is Ira Blankenberg, Zenobia Kloppers, Jacques Bessenger, Andre Samuels, Amalia Uys, Roeline Daneel, Petrus du Preez, Amor Tredoux (regisseur.)

Amor Tredoux, regisseur skryf:

Soms het ons nodig om ‘n storie te hoor met ‘n einde wat ons met die intrapslag al kan voorspel. Veral in die onsekere tye waarin ons leef… Dis covid. Dis die ekonomie. Dis beurtkrag. Dis koffieskaarste. Ensovoorts, ensovoorts. Niks is seker nie. Maar sowaar as parra manel dra, as die (onweerstaanbaar) aantreklike held van ‘n storie en die beeldskone heldin (met gebroke hart) met eerste oogopslag ‘n gly vang in mekaar kan jy verseker wees hulle gaan by mekaar uitkom. Die pad wat hulle moet loop is ‘n kronkelpad vol slaggate en hindernisse, maar jy kan rustig wees en die trippie geniet want hulle is vir mekaar bestem. En dis reg so. Want ons moet bly glo die liefde oorwin alles.

Die gedugte span spelers wat lewe blaas in die stuk bestaan uit Amalia Uys en Jacques Bessinger as die bestemde paartjie, Lize en Hugo. Dié twee spelers het ‘n besonderse ‘chemistry’. Roeline Daneel is die ondeunde, verlamde sus, Mijke, wat konkel om die tweetjies by mekaar uit te bring. Zenobia Kloppers en André Samuels iFW: nuusbrief: Onder die appelliefiebos 2 Dess die opvreetbare kloekende egpaar, Triena en Frans wat al dekades werk op Hugo se wynplaas. En dan is daar die minder opvreetbare karakters, Olivia en Stiaan… met soveel narsistiese oorgawe gespeel deur Ira Blankenberg en Petrus du Preez dat mens hul ‘n taai klap wil toedien.

Cassie Lowers sorg vir ‘n heerlike klankbaan. En siedaar, jy’t ‘n genotvolle uurtjie in die teater van die verbeelding. Moet dit nie misloop nie!

Amalia Uys, Petrus du Preez en Zenobia Kloppers.

Jacques Bessenger, Ira Blankenberg

Die gebruiklike selfie met Cassie Lowers

Die video’s hieronder is tydens die opnames wys hoe die akteurs hul rolle vertolk en ook hoe byklanke gemaak word.

 

Laaste drama van ons 2e seisoen