Ontmoet Frazer Barry, ons rymkletsman


Awêh Respek, Frazer!

Rymklets is nie net iets waarvan Frazer Barry hou nie,  dit is inderwaarheid deel van hom.  Hoe dan nou anders? Hy het dié kunsvorm byna met moedersmelk ingekry.  As klein seuntjie het sy ma hom voorgestel aan elementêre rympies en ‘n liefde vir poësie by hom vasgelê.  Sy oupa was weer ’n meesterlike storieverteller en só het Frazer die bekoorlikheid van gedigte in ’n vermaaklike voordrag ontdek. Ons ken dit as Rymklets.

Frazer is die aanbieder van Rymklets Sonder Grense 2 wat Donderdagaande om 20:30 op RSG uitsaai.

Frazer Barry

Frazer komponeer, dig en skryf lirieke al van ’n jong ouderdom af.  Met sy drie ooms wat altyd kitaar gespeel het en die inspirasie van sy tuisdorp, Kleinmond, se brass orkes wat die strate vol musiek gemaak het, kon Frazer as jong musikant ontwikkel. Die skoolkoor, skoolkonserte en sy hiphop-dansgroep is deel van sy herinneringe aan sy aangename grootwordjare tussen familie wat altyd met Kersfees en verjaarsdae musiek gemaak het. Geld was skaars en op 16 was hy reeds ’n weeskind maar niks kom hom keer om voluit kunstenaar te word nie.  Na twee jaar as ingenieurstudent het die geld wat sy familie vir sy studies verskaf het, opgedroog maar sy hunkering na die kunste het ook sterker en sterker geword. “Ek het 25 jaar gelede amptelik met my loopbaan begin toe ek besef dat ek nooit gelukkig gaan wees as ek nie hierdie gawe van musiek elke dag kan uitleef nie” sê Frazer.

Frazer Barry (Foto: Nardus Engelbrecht)

Rymklets Sonder Grense is nie ’n gewone musiekprogram nie.  Dit word beskryf as ’n musiekdokumentêr wat die storie van die genre – rymklets – op ’n dokumentêre maar tog vermaaklike manier vertel. Dit word op ’n innoverende styl aangebied en neem die luisteraar op ’n reis saam met die aanbieder soos wat hy op die voetspore van die kunsvorm stap.

Luisteraars het die eerste seisoen van Rymklets Sonder Grense wat in 2022 uitgesaai is, geweldig positief ontvang en selfs voorstelle gemaak.  Nou is die tweede seisoen van dié reeks van 10 episodes op lug en kon Frazer luisteraars se voorstelle by sy program insluit.

“Die taal word gebreek, gebuig, rondgegooi, vasgedruk, opgetel en omhoog gehou op soveel wonderlike maniere dat dit ‘n jammerte sou wees indien die res van die Afrikaanse gemeenskap dit nie sou kon ervaar nie.”

Die program is van onskatbare waarde vir die rymkletsgemeenskap en terselfde tyd hoor Frazer van luisteraars, wyd en syd, wat noem dat die program hulle voorstel aan ’n wêreld waarvan hulle voorheen heeltemal van onbewus was.  Die eerste seisoen het so ’n groot invloed gehad tot in die mate dat Frazer selfs Namibië en Nederland moes besoek om die stories te vertel.

“Vir my is die dokumentering van die kunstenaars se stories onsettend belangrik omdat ons hier te doen het met ‘n subkultuur wat basies op die strate begin het en tans besig is om in verskeie sektore van die vermaaklikheidsbedryf as ‘n ekonomiese krag met baie moontlikhede ontluik het.”

Rymklets  het die afgelope 30 jaar geweldig opgang gemaak en word tans deur duisende jeugdiges beoefen en word al hoe meer gewild in die Afrikaanse populêre kultuur.

*Awêh Respek! Is ’n uitdrukking onder rymkletsers wanneer hulle iemand wil prys wat ’n wonderlike bydrae tot die kultuur maak.  Volgens Frazer bied RSG daardie ruimte waar die nuwe generasie kunstenaars saam met die baanbrekers van Rymklets hulle storie op ’n eiesoortige manier kan vertel.

Lees ook:

Rymklets Sonder Grense 2 begin op 6 Julie

Afrikaanse rymklets is verstommend groot