Radiodramaskryfkompetisie: ‘n aanlyn skryfskool; wenke van ‘n wenner


RSG, in samewerking met die ATKV, is verheug om die bekendstelling van die RSG Radiodramaskryfkompetisie aan te kondig. Dit is die 27ste agtereenvolgende jaar wat die kompetisie aangebied word. Hierdie gesogte kompetisie bied ʼn  platform vir talentvolle skrywers om hul kreatiwiteit ten toon te stel en hul stories tot lewe te bring deur die boeiende medium van radio.

Op 15 Julie sal ʼn aanlyn slypskool aangebied word om jou te help met die skryf van ʼn radiodrama.

Om jou plek te bespreek vir die slypskool, stuur jou naam, van en voorkeur-e-posadres vir aanlynaanmelding na radiodrama@rsg.co.za.

Ons beveel sterk aan dat die handleiding afgelaai word, die inhoud daarvan deeglik bestudeer word en skryfpogings voor die slypskool begin.

Laai af: RSG Radiodrama-handleiding 2023

Laai af: RSG Radiodrama-skryfwenke 2023

Lee Doubell

Vyf vinnige vrae met Lee Doubell, die wenner van die 2022 RSG Radiodramaskryfkompetisie

  1. Waarom verkies jy om vir radio te skryf?
    Iemand wat baie slimmer as ek is het gesê dat die prentjies op radio mooier is as iewers anders.
  2. Hoe kry mens ʼn idee vir ʼn storie?
    Moeilikste vraag om te beantwoord, maar ek weet dat die muse op enige moontlike plek kan wegkruip – ek het altyd ‘n notaboekie byderhand.
  3. Wat kan ʼn skrywer van radiodramas leer deur na radiodramas te luister?
    Jy kan nie ‘n radiodrama skryf as jy nie gereeld daarna luister nie. RSG se radiodrama potgooi argief is die heel beste leermeester vir iemand wat ‘n radiodrama wil skryf.
  4. Wat is die belangrikste ding wat voornemende skrywers van radiodramas moet weet?
    Jy sal vroeg moet opstaan en laat gaan slaap – maak nie saak hoe lank jy glo jy aan jou drama sal moet werk nie, ‘n mens onderskat altyd die tyd wat dit sal neem om klaar te skryf.
  5. Lee se vyf wenke vir die skryf van ʼn radiodrama
  • Kry ‘n gemaklike plek om te werk.
  • Maak seker jy het ‘n storie wat jou gehoor vir ‘n uur sal boei.
  • Karakters moet drie dimensioneel wees – die RSG drama gehoor is gesofistikeerd en sien vinnig deur twee dimensionele karakters.
  • Met ‘n radiodrama word jou storie deur dialoog vertel. Lees dit hardop om te kan hoor hoe geloofwaardig jou karakters sal klink.
  • Hersien, hersien en hersien.

Klik op die skakels om die handleiding, kompetisiereëls en inskrywingsvorm af te laai.

RSG en ATKV span kragte saam vir die 27ste Jaarlikse Radiodramaskryfkompetisie