Renske wen gesogte radioprys met riller-radiodrama


Nes met die Muse Awards vroeër vanjaar het RSG weer eens skoonskip gemaak in die kategorie vir radiodrama tydens vanjaar se SA Radio Awards.

Dié nasionale radiopryse is onlangs aanlyn aangekondig en RSG se Renske Jacobs het die prys ontvang vir Beste Dramaprogram vir Bloedmaan, ‘n weerwolfriller uit die pen van Martyn le Roux.

Renske Jacobs

 

 

 

Die radiopryse is vanjaar vir die elfde keer toegeken, het ‘n totaal van 81 kategorieë en word deur sowat veertig beoordelaars toegeken. Die wenner ontvang ‘n sertifikaat.

“Om ‘n radiodrama te skep, is spanwerk,” sê Jacobs, wat ook die SA Radio Award vir Beste Dramaprogram in 2017 gewen het met Martyn le Roux se Bloedlyn.

“Ek is dankbaar dat Martyn le Roux besluit het om ‘n opvolg van Bloedlyn te skryf. Dit het vir ons die kans gegee om die storie behoorlik af te sluit.

“Ek was ook bevoorreg om met ‘n span uiters professionele akteurs en tegniese personeel te kon werk. Dit het vir ons die geleentheid gebied om na hartelus met die klank te kon eksperimenteer. Die kersie op die koek is dat ons dieselfde toekenning vier jaar gelede vir Bloedlyn ontvang het. Bloedmaan se toekenning het dus die sirkel voltooi – soos die volmaan – vorm en siklus.”

Wat Renske se prys besonder spesiaal maak, is dat dit geseëvier het in ‘n nasionale kompetisie vir kommersiële radiostasies, gemeenskapstasies, studente-radiostasies en openbare diens-uitsaaiers.

Luister na die volledige drama:

https://www.rsgplus.org/bloedmaan/