Laai waai met jou radiodrama


Die spertyd is in sig vir vanjaar se RSG Sanlam radiodrama-skryfkompetisie. Inskrywings moet RSG teen middernag op Maandag 16 Augustus bereik.

Anders as ander jare, kan inskrywings nou per e-pos ingestuur word.

Vanweë die Covid-inperkings en dat van RSG se personeel van die huis af werk, sal inskrywings wat per pos of koerier gestuur word, nie aanvaar word nie. Stuur net jou inskrywing – wat anoniem moet wees – per e-pos na radiodrama@rsg.co.za. Heg dan in ’n aparte dokument die inskryfvorm met jou kontakbesonderhede daarby aan.

Enige navrae oor die kompetisie, reëls of selfs die uitleg van die radiodrama kan ook na radiodrama@rsg.co.za gerig word.

Die kompetisie bereik vanjaar ’n mylpaal dat dit vir die 25ste keer aangebied word. En die prysgeld is R115 000 met die wendrama wat altesame R50 000 sal ontvang.

Die inskrywings moet oorspronklike, nuutgeskrewe radiodramas wees. Dramas wat in die verlede ingeskryf is of verwerkings is van bestaande materiaal sal nie kwalifiseer nie.

Die handleiding, wat die inskryfvorm insluit, is op RSG se webblad beskikbaar.

Vanjaar se wenners word op Vrydag 3 Desember tussen 15:30 en 17:00 in Spitstyd op RSG aangekondig.

Kwarteeu oud

Die RSG en Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie is vanjaar 25 jaar oud. Dié jaarlikse kompetisie kan bestempel word as die oudste dramakompetisie in Suid-Afrika wat Afrikaanse radiodrama bevorder en bekroon. Die kompetisie het oor dekades die Afrikaanse kunstebedryf gevoed, en werk geskep vir skrywers, akteurs en regisseurs.

Die prysgeld is vanjaar weer R115 000.  Die wendrama ontvang R50 000, die naaswenner R25 000 en die drama wat die derde plek beklee kry R15 000.  Die Jong Skrywer (jonger as 30 jaar) sal ook R15 000 ontvang.  ‘n Bykomende merieteprys van R10 000 word toegeken aan ‘n drama wat deur die beoordelaars gekies word uit die finaliste wat nie vir die vier topposisies kwalifiseer nie.  Buiten die prysgeld word die wendramas ook op RSG uitgesaai.

Die sluitingsdatum vir die kompetisie is Maandag 16 Augustus 2021.

Daar is geen voorgeskrewe tema nie. Inskrywings moet ‘n nuwe en oorspronklike radiodrama wees. Geen verwerkings van bestaande materiaal of verhoogdramas of stories wat al voorheen gepubliseer is, sal aanvaar word nie.

Die volle spektrum van Afrikaans se variëteite kan gebruik word.  Slegs een inskrywing per persoon word toegelaat.  Die duur van die dramas moet tussen 40 en 50 minute wees – ‘n maksimum van 45 A4-bladsye wat volgens die wedstrydreëls getik is.  ‘n Maksimum van sewe karakters word toegelaat.

‘n Volledige handleiding wat ook die reëls en inskryfvorm bevat, is gratis op RSG se webblad beskikbaar. Daar is ook ‘n spesiale blad met skryfwenke vir nuweling-skrywers, asook diegene wat graag aan hulle skryftalent wil skaaf.

In die eerste ronde van beoordeling word tussen tien en agttien tekste gekies wat dan met die hulp van ‘n mentor vir die eindronde geslyp word. Die finaliste kan daarna hulle tekste vir die eindronde van beoordeling voorlê.

Weens die coronaviruspandemie kan die gebruiklike slypskole nie vanjaar aangebied word nie.  ‘n Rubriek wat vir die duur van Junie en Julie  weekliks in Skrywers en Boeke op RSG aangebied sal word, sal egter fokus op skryfwenke vir voornemende deelnemers aan die Sanlam RSG radiodrama-skryfkompetisie.

Besoek RSG se webblad by www.rsg.co.za vir besonderhede oor die kompetisie, en om die kompetisie se handleiding af te laai.

Vir meer inligting, kontak Ina Strydom

Tel: 011 714 2713   E-pos: ina@rsg.co.za

Stem vir radiodrama-opnames in Durban