Vermaak in RSG se tuisbly-dramaseisoen


Nou, meer as ooit tevore, het RSG-luisteraars se maagspiere ook oefening nodig. Drie weke op die rusbank?

Wel, RSG Radioteater se tuisbly-seisoen skop af met pure buiklag-vermaak.

16 Apri: Sjarrap en eet jou kos! deur Ilné Fourie

Ilné Fourie

Die Vrystaatse dramaturg en aktrise, Ilné Fourie se Sjarrap en eet jou kos! is ’n komiese verhoogteks wat vir die radio aangepas is. Dit word op Donderdag 16 April uitgesaai.

Die teks is ideaal geskik vir die radio, aangesien die luisteraar die gedagtewêreld van die kelner betree en vanuit daardie uiters intieme kennismaking, die (on-)heilige, nooit gehoorde dinge (met apologie aan N.P. van Wyk Louw) hóór wat kelners moontlik hulle klante hardop sou wou toesnou. Vrae soos: Wat het julle wat lekker is? Of: Waar kan ons sit waar dit nie so warm is nie? Of: Wat is in julle lemon meringue? Dié vrae is genoeg om enige moeë kelner teen die mure uit te dryf!

Radiodrama is intiemer as die lewe en besorg dus aan Sjarrap en eet jou kos! die voordeel, aangesien die luisteraar wéét die klant hoor nie wat die kelner dink nie, en juis daarom is haar antwoorde soveel snaakser as wat dit op die verhoog is.

Die teks is só lewensgetrou, dat n mens nie anders kan as om te glo dat die skrywer eerstehandse ervaring moet hê van die belewenisse van kelners nie. Daardie geloofwaardigheid maak van hierdie drama ‘n klein juweeltjie!

Martelize Kolver is Die Kelner, en die klante is Susanne Beyers, Roeline Daneel, Gina Assanté, Leon Kruger, Chris Majiedt en Ludwig Binge.

Die regisseur (en verwerker) is Eben Cruywagen.

23 April: Genade deur Marita van der Vyver

Marita van der Vyver

Marita van der Vyver se radiodrama, Genade, word beskryf as ‘n “meesterklas in hoe om ‘n storielyn met ‘n voorspelbare en onafwendbare einde fassinerend te hou”.

Genade is met die tweede prys bekroon in RSG en Sanlam se radiodrama-skryfkompetisie vir 2015 en word op Donderdag 23 April om 20:00 in Radioteater uitgesaai.

Kas Stuurman is ‘n afgetrede koerantman en lief vir woordspeletjies, wyn, blokkiesraaisels en sy vrou. Door Stuurman is ‘n afgetrede Afrikaans-onderwyseres en lief vir lees, reis, dans en haar man. Hul seun, Vic, woon in Kalifornië en is ver van sy geliefde ouers wanneer hul lewens stadig maar seker begin verbrokkel weens Door se stadige agteruitgang.

Die radiodrama is deur die beoordelaars beskryf as ‘n “hartroerende verhaal en pragtige, pragtige teks wat die luisteraar op ‘n slim manier deur al die fases van Alzheimer se siekte neem”. Dis nugter, raak nooit sentimenteel nie en is juis daarom baie ontroerend.

“Die skrywer neem ons op ‘n reis, nie een waarop ons graag sou wou gaan nie, maar dit word so goed gedoen dat die luisteraar end-uit vasgenael bly.”

Marita van der Vyver is die skrywer van die bekroonde roman Griet skryf ‘n sprokie asook onder andere Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom en meer onlangs Die blou van onthou. Haar eerste radiodrama, Bagasie, is destyds deur Margot Luyt geregisseer. Bagasie is ook in 2014 met die ATKV Mediaveertjie vir beste radiodrama of –teater bekroon.

June van Merch kan as Door Stuurman gehoor word met Charlton George as Kas. Marvin-Lee Beukes vertolk die rol van Vic. Die regisseur is Margot Luyt.

30 April: Vergifnis deur Charles J Fourie

Charles J Fourie

Die dramaturg Charles J. Fourie se radiodrama, Vergifnis, wenner van die RSG Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie vir 2015, word Donderdag 30 April om 20:00 op RSG uitgesaai.

In Vergifnis lei ‘n bejaarde vrou in ‘n rolstoel ‘n protesoptog van Touwsrivier na die Parlement in Kaapstad. ‘n Jong man wat haar in haar huis beroof het, het ingestem om haar in die rolstoel na Kaapstad te stoot waar sy die toenemende misdaad en gebrek aan werksgeleenthede vir jongmense onder die regering se aandag wil bring. Tydens hul reis sluit al hoe meer mense by hul aan en word dit ‘n kleurvolle optog vir verandering.

Dié “ode aan vergifnis in ‘n land waar ons daagliks sukkel met die toepassing daarvan” is ‘n boeiende, filmiese verhaal wat terselfdertyd snaaks én roerend is. Die beoordelaars beskryf dit as “betowerend” en “kostelik”.

Soos die Hollywood-rolprent Forrest Gump het die twee hoofkarakters ‘n skare wat hulle volg, ‘n element wat aan hierdie drama sy epiese bekoring besorg.

Victor Hugo se klassieke Les Misérables dien as katalisator vir Fourie se wendrama. Die regisseur Johan Rademan gebruik ook temamusiek uit Les Mis gekontrasteer met ‘n stukkie Afrikaanse flair waaraan die Hoërskool Durbanville se skoolkoor meegedoen het in die opmars parlement toe.

Fourie is onder andere die skrywer van die radiodrama Offer, wat met die Akademie vir Wetenskap en Kuns se erepenning vir radiohoorspele in Afrikaans bekroon is.

Die akteurs in die rolverdeling is Amor Tredoux, Jarrid Geduld, Charl van Heyningen, Roelien Daneel, Zenobia Kloppers, Wessel Pretorius en Leandé Valentyn met Rademan in die regisseurstoel.

Waarna jy reeds kon luister

Donderdag 2 April om 20:00:  As ons twee eers getroud is deur Gerhard J. Beukes

Dis ‘n klassieke klug.

Kallie het ‘n klein dieretuin in die sitkamer, maar dan ontsnap sy koggelmander, muis, slang, padda én spinnekop! Oupa en Kallie is boonop stil-stil besig met hul eie komplot, wanneer Frans en Malie van der Merwe op die vooraand van hul silwer huweliksherdenking besef hulle het glad nie ‘n huweliksertifikaat nie. Leef hulle al vir 25 jaar in “sonde” saam?

Hierdie spesiale argief-drama is destyds deur Margot Luyt opgevoer met onder andere Trix Pienaar, Johan van Jaarsveld, wyle Kitty Albertyn en ‘n jong Jan Ellis in die rolverdeling.

9 April: Die goue kring, deur Uys Krige

Uys Krige

Die digter, vertaler en skrywer Uys Krige se Die goue kring is ‘n argiefdrama wat deur wyle Evert Snyman opgeneem is. Krige sou vanjaar 120 jaar oud gewees het en is in 1985 met die Hertzogprys vir Drama bekroon vir al sy dramawerke.

Die goue kring verwys na die kringloop van lewe en dood. Dit is gegrond op ‘n legende uit die Portugese literatuur en Krige het dit in Spanje laat afspeel. Die argiefdrama word op Donderdag 9 April uitgesaai.

Goeie Vrydag 10 April: Die leë graf deur Helena Hugo

Op Goeie Vrydag (10 April) word Helena Hugo se Paasdrama, Die leë graf, met onder andere Lochner de Kock, Richard van der Westhuizen en Pietie Beyers gehoor. Dié nuwe drama is in opdrag van RSG geskryf en word om 13:00 uitgesaai, met ‘n herhaling om 18:00.
Van toe af tot vandag en juis vandag worstel die mens met die vraag: Hoe kan ek gered word? Die antwoord is so eenvoudig dat dit moeilik is om te aanvaar.

Die skrywer en regisseur, Helena Hugo, het vier randfigure rondom Jesus gekies om die vrae te vra en die antwoorde te kry. Kom luister na Richard van der Westhuizen as Nikodemus en Lochner de Kock as Josef van Arimatea, asook Francois Stemmet, Ria Smit, Pietie Beyers en Charlie Bougeunon in die rolle.