Uit die Swartste Modder: reeks oor hoop uit wanhoop


Esté de Klerk en Danny Booysen

Op Donderdagaand, 1 Julie, om 20:00 op RSG, begin ‘n nuwe dokumentêre reeks, Uit die Swartste Modder.

Uit die Swartste Modder is ‘n dokumentêre reeks waarin vier mense vertel hoe hulle weer hoop kon vind uit hulle eie wanhoop – soms bitter pynlike en traumatiese ervarings.

Die reeks word vervaardig en aangebied deur die Monitor & Spektrum-radiojoernalis en -vervaardiger, Esté de Klerk, en die klankontwerp vir die reeks word gedoen deur die SAUK-klankguru, Danny Booysen.

Oor vier episodes neem hulle jou op ‘n reis saam met mense wat geliefdes aan die dood afgestaan en ander trauma beleef het, maar tog weer hoop in hulle wanhoop kon vind.

In haar onderhoude, delf Esté ook dieper in die maalkolke van depressie, ook wanneer dit lei tot die neem van ‘n eie lewe, hoe belangrik dit is om oor die dood van ‘n geliefde te rou, en die verwerping, ongebondenheid en gebrek aan liefde wat iemand beleef wat tussen familie en ‘n kinderhuis grootword weens die dood van haar ouers.

“Die dood is nie iets waaroor ons graag praat nie. Ons eie onsterflikheid, ons vrees vir die dood of gemaklikheid daarmee is iets wat ons liefs in ons diepste hartskamers wegbêre,” sê Esté.

“Maar, elkeen van ons het al in een of ander stadium ‘n geliefde aan die dood afgestaan. Daardie seer sny dikwels so diep dat dit vir ons voel of dit ons uitmekaar ruk en of jy daarmee saam wil wegkwyn.

“Of dit nou die afsterwe van ‘n eggenoot, lewensmaat, ‘n kind, ‘n ouer, ‘n broer, suster of ‘n vriend is – dit bring ons dikwels so van stryk dat dit moeilik is om daarna weer een treë voor die ander te probeer gee.

“In hierdie nuwe lewe moet jy leer om sin te maak uit ‘n lewe wat soms nie meer vir sin het nie, en jy moet hoop vind uit jou wanhoop.

“Uit die swartste modder groei die witste lelie – só lui die spreekwoord, maar ons is net mense en verlies verniel ons en laat ons dikwels vasval in die modder en die maalkolke van wat ons lewens raak,” sê Esté.

Lizette Rabe

Episode 1: Lizette Rabe

In Episode 1, sê die skrywer en voorsitter van die joernalistiekdepartement aan die Universiteit Stellenbosch, professor Lizette Rabe: “In die aangesig van so ‘n dood, vra jy jouself nog meer af wat is die dinge wat regtig saak maak? As jy iemand verloor het aan die siekte van wanhoop, dan moet jy vashou aan hoop, want dit is al wat jou aan die gang hou.”

Lizette se seun, ‘n mediese student in sy vierde jaar, neem sy eie lewe weens die impak van depressie op sy lewe. “Ek dink nie ‘n ouer kan ‘n kind verloor sonder dat jy totaal en al verander na die tyd probeer voortgaan nie.”

In Episode 1, belig ons ook die verskillende tipes depressie, hoe belangrik dit is dat lyers betyds behandeling moet kry, wat is die tekens waarvoor ‘n mens moet uitkyk, en die stigma wat steeds aan dié psigiese siekte kleef. Esté praat ook met die traumatoloog, dr. Tessa van Wijk.

Dana Snyman

Episode 2: Dana Snyman

In Episode 2 deel die skrywer, Dana Snyman, sy sabbatsreis om by emosionele genesing uit te kom nadat sy verloofde, Anette Roberts, haar eie lewe neem.

“Ek dink nie enigiemand wat selfdood van naby af beleef het, kan ooit weer daarna dieselfde wees nie. So iets sal nooit verbygaan nie,” sê Dana.

“Om te rou is belangrik en om jou oor te gee daaraan terwyl daardie pyn en daardie gemis en daardie angs en sweet in jou lewe is en nie skaam te wees daaroor en verskoning te vra daarvoor nie.”

Dana vertel aan Esté oor hoe hy op hierdie reis na heling Engele in mensgewaad begin raaksien het en besef het dat sy genesing ook daarin lê deur meer van homself aan mense te begin gee.

“Die lewe is kort en kosbaar en al manier hoe jy dit sinvol kan probeer leef, is om te probeer liefhê – jouself, wat ook baie keer baie moeilik is, maar ook die mense rondom jou.”

Muriel Janse van Rensburg

Episode 3: Muriel Janse van Rensburg

In Episode 3, maak ons kennis met RSG se voormalige geleentheidskoördineerder, Muriël Janse van Rensburg. Muriël maak reeds vroeg in haar lewe kennis met die dood toe albei haar aanneemouers voor haar sesde verjaarsdag oorlede is. Daarna word sy onder moeilike omstandighede tussen familie en ‘n kinderhuis groot.

“Dit het ‘n groot leemte in my lewe gelaat. As jy ‘n jong kind is, verstaan jy nie altyd waaroor verlies gaan nie – hoekom dit gebeur nie. Ek is van baie jongs af basies alleen gelaat.”

Later in haar lewe, deurstaan Muriël ook vele ander traumatiese gebeurtenisse.

“Jy moet ‘n keuse maak: dat jy ‘n sukses van jou lewe wil maak en dit agter jou sit en nie die heeltyd daarna verwys en jouself jammer kry en sê: ‘Dit is hoekom ek dit nie kan doen nie.’ En dit was my besluit.”

In Episode 3, delf ons dieper in die gevoelens van verwerping en ongebondenheid wat ‘n kind kan ervaar wat tussen familie en ‘n kinderhuis grootword, en die trauma wat die dood van ‘n ouer meebring.

Karen Swanepoel

Episode 4: Karen Swanepoel

In Episode 4, ontmoet ons vir Karen Swanepoel wat in 2012 haar man, 5-jarige dogtertjie, en 2-jarige seuntjie in ‘n grusame motorongeluk verloor waarin sy self ernstig beseer is. Haar grootste vraag was: wat was die doel daarmee dat sy bly leef het?

“Ek is dankbaar vir my nuwe lewe, my tweede kans. As dit nie vir hierdie tweede kans was nie, sou ek waarskynlik in my verlies bly vaskyk het en nie vorentoe kon beur nie.”

 

 

Luister ook:

Hoe gaan jy aan met jou lewe as jy jou kind aan die dood moes afstaan? Christelle Webb-Joubert gesels met Mariska Robberts, wie se dogtertjie in 2013 in ‘n motorongeluk oorlede is.

Ons 2e Dokkie-seisoen 2021