Frans se vonkel – die storie van Franse vonkel in SA


Johan Rademan

Luister weer na Frans se vonkel – die storie van Franse vonkel in SA, ‘n dokumentêr saamgestel deur Johan Rademan.

Ons vier vanjaar 50 jaar van bottelgegiste vonkelwyn in Suid-Afrika. Die Franse monnike het die “sterre in wyn” reeds in 1670 die eerste keer geproe toe Dom Perignon die toevallige chemie-in-die-glas in ‘n Benediktynse klooster ontdek het. Suid-Afrika se eerste poging om bottelgegiste champagne te maak was 300 jaar later toe die wynpionier, Frans Malan van Simonsig, die eerste Kaapse Vonkel teen R3 per bottel gemaak het. Champagne is ‘n handelsmerk wat slegs uit die streek van Champagne in Frankryk op ‘n etiket aangebring mag word. In Suid-Afrika verwys ons na bottelgegiste vonkelwyn op etikette as MCC of Cap Classique. Alle champagne is dus vonkelwyn, maar alle vonkelwyn is nie champagne nie!

Kom ervaar die bruisende gevoel sedert 1670 uit St Benedictus se kloosterorde in Frankryk tot by 1971 se eerste Franse vonkel van Frans Malan teen die hange van Simonsberg in Stellenbosch en veral hoe dit tot vandag gegroei en van krag tot krag gegaan het en steeds weerklank vind by die grootste sportbyeenkomste, prestige en glans geleenthede op die planeet.

Die geduldige proses van vonkelbereiding volgens die MCC metode

Sterre in die wyn

Die Franse monnike het die “sterre in wyn” reeds in die 17de eeu die eerste maal geproe toe Dom Perignon die toevallige chemie-in-die-glas in ‘n Benediktynse klooster ontdek het.

Suid-Afrika se eerste poging om bottelgegiste “champagne” te maak was egter eers 3 eeue toe wynpionier, Frans Malan van Simonsig die eerste Kaapse Vonkel teen R3 per bottel gemaak het. Ons vier dus 50-jaar van bottelgegiste vonkel in Suid-Afrika.

“Champagne” is ‘n handelsmerk wat slegs uit die streek van Champagne in Frankryk op ‘n etiket aangebring mag word. Ons verwys na die bottelgegiste vonkelwyn op ons etikette as MCC of Cap Classique. Alle Champagne is dus vonkelwyne, maar alle vonkelwyne is nie Champagne nie!

Slegs wyne uit die streek Champagne in Frankryk mag die woord champagne op hul etikette gebruik. Wanneer ons in SA die Franse bottelgegiste metode volg noem ons dit Cap Classique MCC (Methode Cap Classique)

Anders as gekarboneerde vonkelwyn leer ons wat woorde soos cuvee, assemblage, pupitre, tirage, remuage, sur latte en ander franse terme in die chemie van die eksklusiewe wynsoort se bereiding beteken.

Van die 10,5 miljoen bottels wat volgens die metode in Suid-Afrika berei word word ongeveer 2 miljoen uitgevoer en 8,5 miljoen in die plaaslike mark gestoot.

Johan Malan, keldermeester van Simonsig en die seun van wynpionier, Frans Malan deel sy herinneringe van sy jeugervaringe en waarnemings van sy pa se werksaamhede van 50-jaar gelede in die program. Johan het toevallig die Diners Club Wynmaker van die jaar se 40ste toekenning ontvang met ‘n bottel Kaapse Vonkel 2015 in die 50ste jaar van die viering van die wynstyl in Suid-Afrika. Hy was ‘n jong tienerseun toe sy pa met talle wynmaneuvers teen die hange van die Simonsberge geeksperimenteer het.

Johan Malan, Keldermeester en seun van Frans Malan het onlangs die 40ste Diners Club Wynmaker van die jaar toekenning vir sy Kaapse Vonkel 2015 Brut ontvang. Hy sit die tradisie voort.

Wyle Jimmy Kula by die draadjie-masjien 50jr gelede op Simonsig.

Pieter Ferreira is voorsitter van die Cap Classique Vereniging van Suid-Afrika en vertel van die stand van vonkel en groei in ons land. Hy deel ook staaltjies en stories van Graham Beck van o.a. oud-Presidente Nelson Mandela en Barack Obama en hul inhuldigingsvonkelwyne uit Suid-Afrika. Ons maak bottels oop met die swaard en “sabrage” soos in die Napoleontiese-tydperk en hoor selfs hoe ‘n jong Vive (weduwee) Clicquot gate in haar kombuistafel geboor het om bottels gegiste vonkelwyne te draai en die klassieke skuinsrakke wat vir champagnes benodig word te ontwerp. Die wynrakke in die vonkelkelders staan bekend as “pupitre”.

Johan Rademan en Pieter “Bubbles” Ferreira, voorsitter van die Cap Classic Vereniging in SA.

Pieter Ferreira van Graham Beck Wyne vertel graag die storie van oud-Presidente Mandela en Obama se verbintenis met hul inhuldigings vonkelwyne uit SA

Melanie van der Merwe was een van 9 leerlinge wat in haar studiejare wynbou by Stellenbosch gaan studeer het. Daar is egter ‘n slang in die gras, want sy was die enigste vrouestudent in die klas. Melanie is vandag die eienaar van Tanzanite en het miljoene liter vonkels vervaardig vir Distell by die Huis van JC le Roux waar sy globaal gesag afgedwing het met die Pongraczreeks. Sy neem ons deur haar proses van wynmaker word, maar ook deur die proses van geheimenisse, nl. bottelgegiste vonkelwyn bereiding.

Johan Rademan gesels met Melanie vd Merwe van Tanzanite. Melanie was die baanbreker vrouevonkelwynmaker by JC le Roux waar sy miljoene liter, o.a. Pongracz, gemaak het.

Paul Gerber is ‘n oud wiskunde-en-wetenskap onderwyser wat op sy dag vir die Maties in die voorry gesak het. Sy liefde vir chemie het hom by die eerste volwaardige “champagne-huis’ in Suid-Afrika, Colmant in Franschoek laat beland, nadat hy verder in die wynbourigting gegradueer het. Hy besoek Frankryk op ‘n jaarlikse basis om by die Franse se eeue oue tradisie te gaan leer om vonkel te vervaardig en kom pas die chemie dan in SA toe.

Johan Rademan en Paul Gerber van Colmant in Franschoek wat eers onderwyser was en nou vonkel berei by die eerste volwaardige toegewyde Suid-Afrikaanse vonkelwynkelder in SA

Nathan Valentine is ‘n jong entoesiastiese wynmaker by Villiera waar die methode traditionnelle hom so aangetrek het dat hy reeds op juniorvlak senior kompetisies beoordeel. In elke borrel uit ‘n verskillende bottel en oesjaar kom daar ‘n ander verhaal van terroir en oesjaar. Hy deel en ontleed dit vir ons in ‘n virtuele proe waar jy as’t ware die mousse in die mond kan voel.

Johan Rademan en Nathan Valentine van Villiera in gesprek oor die proe van method traditionnelle vonkels vir kompetisies.

Ann Ferreira van Pieter Ferreira Wyne, glo daarin dat MCC’s wat duurder as gekarboneerde vonkels kos soos haute courture hanteer moet word. Hoewel dit steeds teen ‘n appel en ‘n ei in Suid-Afrika gekoop kan word, agv ons plaaslike vervaardiging, is dit ‘n luukser produk wat heelwat tyd verg om te maak en dus ook duurder kos. Sy moedig mense aan om die regte glase te gebruik om te proe en te geniet en sluit aan by Nathan Valentine om hieroor te gesels. Sy verduidelik o.a. dat die borsmaatgrootte van Marie Antoinette se coupe-glase dalk nie die ware Jakop is vir gesogte vonkelwyne nie.

Ann Ferreira van Pieter Ferreira wyne demonstreer hoe belangrik die vorm van die glas is en hoe dit geure en smake beïnvloed

Ons 2e Dokkie-seisoen 2021