Die nuutste oor knievervangings


Het jy geweet daar is halwe én volle knievervangings? Met ‘n halwe knievervanging sny die chirurg nie deur spiere en sagte weefsel nie, en dus voel dit nog soos jou eie knie!

Dr Callie Ackerman met die materiaal wat vir ‘n volle knievervanging gebruik word, in die voorgrond.

Marí Hudson gesels met Dr Callie Ackerman, ortopeed by Blaauwberg Netcare Hospitaal, oor knievervangings, wat deesdae ’n baie algemene operasie geword het. Hy verduidelik hoe knievervangings gedoen word, wie kandidate is, waarom dit gedoen word, hoe die been reguit gemaak word en wat die sukses van die twee soorte knievervangingsoperasies is.

Enkele interessante feite:

Normale anatomie van die knie

1. Die meeste mense wat knievervangings kry, is weens permanente skade aan die kniegewrig weens artritis. Sowat 45% van alle mense ouer as 60 jaar ontwikkel osteo-artrtis, en van hierdie mense kry erge slytasie van kraakbeen in die knie kry. As mens oorgewig is, ontwikkel tot 66% van mense artritis, en meestal knie-artritis. As die kraakbeen in die knie só verweer het dat been om been skuur met elke tree, kan dit baie pynlik raak en is ‘n knievervanging al uitweg.
2. Pyn en ‘n onstabiele knie is die simptome wat mense ervaar vóór ‘n knievervanging.
3. In sommige gevalle, waar net die binnekant of die buitekant van die kniegewrig verweer het, kan ‘n halwe knievervanging gedoen word. Met ‘n halwe knievervanging voel die knie ná die operasie steeds soos jou eie knie, omdat glad nie deur tendons, ligamente of spiere gesny word nie. Die knieligamente moet gesond wees om ‘n halwe knievervanging te kan doen.
4. Met ‘n volle knievervanging word wel deur die kruisligamente gesny.
5. Die belangrikste is dat die pasiënte sonder pyn moet kan beweeg ná ‘n knievervanging.
6. Byna ewe veel mans as vroue ondergaan knievervangings, maar vroue op ‘n jonger ouderdom.
7. Dis belangrik dat pasiënte ná ‘n knievervanging gereeld opgevolg word en as hulle pyn of iets vreemd ervaar, hulle na hulle dokter terugkeer, omdat die plastiekskyfie van die ‘bioniese’ knie in ‘n klein prosedure vervang kan word as dit afgeslyt word, en dan hoe die hele knievervanging nie oorgedoen word nie. Dit geld vir halwe en volle knievervangings.
8. Ná ‘n halwe knievervanging, kan ‘n volle knievervanging wel later gedoen word.
9. Kies ‘n ortopeed wat al baie halwe en volle knievervangings gedoen het, sodat hy in staat is om jou die beste opsie aan te bied en nie net sy enigste opsie nie.

Iemand met bakbene se kniegewrig skaaf deur aan die binnekant van die knie, en iemand met inkapkniëe skaaf deur aan die buitekant van die knie.

‘n Volle vs ‘n halwe knievervanging

Die materiaal vir ‘n halwe en vir ‘n volle knievervanging. Die wit plastiekdeel tussen die titanium dele in die dokter se regterhand, kan vervang word sonder dat die hele vervangiging oorgedoen moet word. Dit geld ook vir die volle vervanginging. ‘n Kleiner, goedkoper prosedure kan dus gedoen word indien die pasiënt eerder gouer as later teruggaan na sy dokter, pleks van om te lank te wag.

So lyk die X-strale na ‘n halwe knievervanging.

Luister en lees ook na die onderhoud met dr Rudolph Oosthuizen by Wilgeheuwel Hospitaal oor knievervangings:

Knievervangings: soms is ‘n halwe een beter as ‘n hele