Hemelblou is ‘n sensitiewe verhaal


Die tweede radioteaterseisoen is volstoom aan die gang! Die eerste maand is reeds agter die rug – en die produksies tot dusver, het groot lof ingeoes van luisteraars.

Die tweede deel van die seisoen begin met Hemelblou, onder spelleiding van Frieda van den Heever.

Dit is Isabel Martinson se sensitiewe verhaal oor die verwerking van dood en verlies, en die helende krag van vriendskap.

Die stemme van Mariechen Vosloo, Elanza Swart, Albert Pretorius en Dean Balie kan gehoor word.   Dit word op 4 November uitgesaai.

Van links na regs: Elanza Swart (Karoli), Dean Balie (Man Een en Zelig), Frieda van den Heever (regisseur), Mariechen Vosloo (Amanda) en Albert Pretorius (Lian).

Die storie:

Amanda Nel en Karoli Vermeulen ontmoet mekaar op ‘n parkbankie op ‘n wolklose dag. Amanda is op dié spesifieke dag al vir twee jaar ‘n weduwee. Sy het nog nie haar verlies verwerk of daarmee geleer saamleef nie. Nie net die verlies van haar eggenoot nie, maar ook in ‘n sekere sin dié van haar jeug … want is weduwees dan nie veronderstel om oud te wees nie?..

Karoli, daarenteen, is die verpersoonliking van jeugdige, byna naïewe lewensenergie. Sy stel opreg belang in Amanda en haar “donkerte”, soos Karoli dit noem en so begin ‘n baie onwaarskynlike vriendskap tussen ‘n terughoudende ouditeur en ‘n borrelende aktrise.

Hemelblou is ‘n verhaal oor “lewe na die dood”, liefde vir een mens wat geleidelik deur Liefde se alchemie omvorm word in liefde vir alles en almal.

Video: ‘n Baie onwaarskynlike vriendskap:

Mariechen Vosloo en Elanza Swart in aksie om hierdie twee baie verskillende karakters lewe te gee.

Karakters

Amanda Nel (Mariechen Vosloo)
Amanda is dertig. Sy is ‘n ouditeur en ‘n weduwee. Haar man is oorlede tydens hulle wittebrood en ons ontmoet haar presies twee jaar later. Sy is gevolglik verbitterd, sinies en afgesluit van mense en eintlik die hele lewe.

Karoli Vermeulen (Elanza Swart)
Karoli is ‘n vyf-en-twintigjarige aktrise. Sy is ‘n optimistiese, guitige ekstrovert wat haarself deur niks laat onderkry nie. Haar glas is altyd half vol, nooit half leeg nie. Alles is vir haar “fantasties”!

Lian Nel (Albert Pretorius)
Lian is Amanda se oorlede man. Hy was ‘n selfversekerde, sjarmante, aangename mens wat die beste in Amanda uitgebring het.

Man Een (Dean Balie)
Man Een is ‘n alkoholis wat Lian se lewer deur orgaanskenking ontvang het na sy afsterwe. Hy ken die rowwe kant van die lewe en leef in dankbaarheid en sober na hy sy nuwe lewer gekry het.

Zelig (Dean Balie)
Zelig is die vriendelike, aantreklike Duitse eienaar van ‘n Griekse restaurant waar Karoli gereeld gaan vir meer as die lekker kos.

Regisseursnota

Hierdie radioteater kon vir my, om verskeie redes, “too close to home” wees. Dit was egter ook ‘n groot geskenk juis as gevolg daarvan. Groot was my vreugde weereens toe elke akteur wat ek in my kop gehoor het vir die verskeie rolle die opnamedatum kon maak en in die ateljee instap daardie dag. Die atmosfeer was gelaai met ‘n jeugdige energie, hartlikheid, oorgawe, empatie, humor en ‘n sin van bevoorregting om in baie van ons se gunsteling medium – die radio – te kan werk. En ons het weer in lewende lywe kon ervaar (of dan eerder die teendeel daarvan): “There are no small roles, only small actors.”

Wat ‘n helende ervaring wat my weereens gegun is, saam met my kajuitkaptein Cassi Lowers!

Video: Buite- en byklanke:

… en dít is hoe hard al die akteurs in die ateljee moet werk! Nie net met die stem nie, maar die hele lyf.

Die verpligte prettige “onsie” saam met Cassi Lowers, ons kajuitkaptein.

Uit die mond van die “skryweling”:

“Ek is Isabel van die Hoëveld. Die Hoëveld waar ons gereeld bederf word met kristalhelder, wolklose dae. Wanneer dit voel dat as jy jou hand uitsteek, jy aan die son sal kan raak.

Die skrywer, Isabel Martinson.

Op die dae is die lug ‘n dagdroom. ‘n Dagdroom wat begin in babablou. En dan opvloei in ononderskeibare lae tot hemelblou, reg bo jou kop.

Ek is geweldig bevoorreg om op die oomblik baie na aan die grond te kan leef. Dit is terselftertyd een van die moeilikste en ook maklikste dinge wat ek al ooit gedoen het.

Moeilik, want daar is ‘n eerlikheid aan die elemente. En as jy saam met die elemente wil leef, moet jy eerlik wees. Veral met jouself.

Hemelblou se aanvanklike oorsprong is meer as tien jaar gelede. Dit was ‘n moeilike tyd in my lewe. Daarom wil ek graag Hemelblou opdra aan almal wat vanjaar seer gehad het. Byt vas. Ons is nog hier met ‘n rede.”

Laaste drama van ons 2e seisoen