Nuwe, hipermoderne radiodrama-ateljee vir RSG 


Leon van Nierop (regisseur), Bongi Thomas (tegniese regisseur) en Evert Snyman jnr. (byklank-regisseur) in die nuwe D3-ateljee.

RSG se radiodramas, vervolgverhale en boekvoorlesings het onlangs ‘n nuwe, digitale en hipermoderne era betree toe die D3-ateljee in Auckland Park vir die eerste keer in gebruik geneem is.

RSG en radiostasies soos die destydse Springbok Radio het sedert 1977 die SAUK se D2-ateljee vir dramas en vervolgverhale gebruik. HIerdie analoog-ateljee was aanvanklik met vier bandmasjiene en ses draaitafels toegerus, totdat rekenaars en programme soos ProTools vanaf die laat jare 90 aangekoop is.

Sowat vyf jaar gelede het die SAUK egter ‘n multimiljoenrand-projek van stapel gestuur om twee nuwe radiodrama-ateljees (D3 vir RSG en D1 vir SAfm) te bou. Kobus Burger, RSG se senior regisseur mandaat, was van dag een af deel van die beplanning om te verseker dat daar ‘n soomlose oorgang na ‘n nuwe era van radiodrama gemaak kon word.

Die eerste opnames in D3 het reeds in November vanjaar plaasgevind met Leon van Nierop en sy Hartebreker-span wat vir sowat vyf ure lank opgeneem het.

Die hele Hartebreker-span in D3 se Green Room.

D3 is ‘n digitale ateljee wat onder andere met ‘n nuwe “revolusionêre” teksstelsel toegerus is. Dit bied regisseurs die geleentheid om tydens ‘n opname intyds die radiodramateks op groot TV-skerms en die spelers se tablette te wysig. Dit sal mettertyd papiertekste kan uitskakel en voorkom dat akteurs wat omblaai, tydens ‘n opname gehoor sal word.

“Die mikrofoon (in D3) bring skielik die mooiheid van die spelers se stemme beter uit. Ek het nooit geweet my spelers het REGTIG sulke mooi stemme nie,” het Van Nierop gesê. “Die mikrofoon streel dit letterlik en komplimenteer die stem-kwaliteit beter. Die monitors in die opname-ateljee is duideliker en helderder, en is beter sodat ek uiteindelik ordentlik kan hoor wat ek opneem.”

Solomon Cupido, Charlie Beuguenon, Stefan Vermaak en Pietie Beyers met die opname van Hartebreker in D3.

D3 is geskoei op van die beste, tegnologies gevorderde opname-ateljees ter wêreld en stel RSG ook in staat om ‘n radiodrama regstreeks vanuit die ateljee uit te saai. Dit is ook so opgestel dat daar met ander ateljees binne die SAUK kontak gemaak kan word vir byvoorbeeld klankstroming of redigering.

Schalk Vorster, afgetrede tegniese regisseur vir drama, sê hy het het sowat 45 jaar gelede in D2 begin werk waar hulle letterlik met magnetiese band nog moes “knip en plak” om ‘n radiodrama te voltooi. Nou, in D3, kan stem, byklanke en musiek op verskillende klankkanale digitaal opgeneem word en sonder moeite apart deur die regisseur en tegniese span geredigeer word.

Zaaheda Nell, projekleier van die SAUK wat die skep van die nuwe ateljees gedryf het, sê dit was ‘n reuse-projek met talle uitdagings. Die strewe was egter deurgaans om die beste nuwe tegnologie aan drama-regisseurs en –spanne te bied.

RSG se Kobus Burger en Ina Strydom, RSG se drama-regisseur, het toetslopies met die hulp van regisseurs opgeneem en vir ‘n paar maande lank verseker dat D3 aan al die nodige vereistes en gehalte-prosesse voldoen voordat daar met volwaardige opnames vir uitsending begin is.

Die statige D2 – waar immergewilde radiostories soos Wolwedans in die skemer en Stralerjakkersopgeneem is – is neffens die splinternuwe D3 en sal steeds vir enkele opnames gebruik word. Met D3 is RSG en sy luisteraars egter verseker van gehalte-klank en stories wat – wie weet? – dalk vir die volgende vier of vyf dekades nuwe klankgrense gaan deurbreek.

‘n Foto van D3 toe daar in 2017 met die bouwerk begin is.

Leon van Nierop in die D2-ateljee tydens RSG en Sanlam se radiodrama-slypskool in 2017. Dit is in hierdie ateljee van die SAUK, wat al sowat 45 jaar in gebruik is, waar onder andere die vervolgverhaal Wolwedans in die skemer opgeneem is.

Foto’s deur Kobus Burger