“Oom Willem se bankie” is langs die see opgevoer


Luister weer na RSG se eerste plekspesifieke drama, Oom Willem se bankie.

Die drama deur Magdel Brand en Appel van Rensburg, is langs die see opgevoer deur die bekroonde regisseur Eben Cruywagen.

Slegs amateurs het aan die plekspesifieke produksie deelgeneem. Dit is ook die eerste plekspesifieke drama wat op radio opgevoer word.

Die storie speel hoofsaaklik af op ‘n bankie wat oor die see uitkyk en vertel die verhaal van ‘n bejaarde man wat die laaste jare van sy  lewe op die bankie slyt ná verkeerde keuses en besluite wat hy vroeër in sy lewe geneem het.

Die storie

Dokter Willem Oberholzer leef vir drie dekades met ’n dilemma waarvoor min mense begrip het. Nie te lank ná sy aftrede nie, bevind dié vooraanstaande sielkundige hom eensklaps op die rand van die samelewing, want ook mense wat hy intiem geken het, soos Susanna en Baby, het nie begrip daarvoor nie. Selfs sy enigste kind, die pragtige Isabella, wil niks met hom te doen hê nie.

Dan daag Alma op ’n dag op en vra of sy maar op sy bankie, wat uitkyk oor die pragtige blou water van die Indiese Oseaan, mag kom sit. Hy verwilder haar, want die afgelope agt jaar al lewe hy op straat. Hy kan nie meer normaal met mense kommunikeer nie. Nog minder vertrou hy hulle. Maar sy bly terugkom en bring selfs vir hom koffie van die kafee af. Tot sy weerstand verkrummel en hy sy rare lewensverhaal aan haar begin vertel.

Dit is ’n drama wat jou sal laat lag én ’n traan wegpink. En laat dink, want soos Alma sê: Niemand laat net sleg agter nie.

’n Waarskuwing: Die volwasse tema en ván die taalgebruik mag sensitiewe luisteraars aanstoot gee.

Luister hier na die volledige drama:

’n Woord van die regisseur, Eben Cruywagen

Slegs amateurs het aan die plekspesifieke produksie deelgeneem. Dit is ook die eerste plekspesifieke drama wat op radio opgevoer word. Hier is die regisseur, Eben Cruywagen, en Donne van den Berg wat die rol van Isabella vertolk.

Ek was bevoorreg om as kind sonder televisie groot te word – die radio was ons enigste bron van vermaak. Eers was dit die stories van Siembamba wat my geboei het. Soos ek groter geword het, was dit Jongspanateljee en Tienerateljee se stories wat my verbeelding aangegryp het. En heel gou was dit die hoorspele van die destydse Radio Suid-Afrika in Radioteater, Kleinteater en die aandvervolgverhaal wat my belangstelling in radiodrama sou gaande maak. Dermate dat ek en ’n lewenslange vriend in die era van kassetmasjiene radio gespeel het en bandopnames met o.a. nuus en kort dramas wat ons self geskryf en aangebied en opgevoer het, vir mekaar gepos het.

As ’n jong omroeper in Durban in 1981, was dit die werk saam met kollegas Anton Smith en later Johann Botha, en nóg later ook Driaan Engelbrecht van die destydse Springbok Radio, wat my liefde vir die medium verder aangevuur het. Durban was destyds een van die toonaangewende streke in die land wat die produksie van hoorspele betref. Akteurs soos Jasper Schutte, Johan Potgieter, De Wet Brandt, Leonie Ross (Pauw), Adri Janse van Rensburg en ander was gereelde en bekende stemme uit Durban se drama-ateljee.

Met die afskaling van streekkantore en personeel, het Durban helaas ook gesneuwel. Vandag, byna drie dekades later, klink daar weer stemme oor die lug op uit Durban in ’n tegnies-eksperimentele drama: Die opname ter plaatse van ’n drama. Anton Smith het by geleentheid die vuurtoring in Umhlanga Rocks aan die KZN-noordkus gebruik vir tonele in ’n drama; Suzaan van Wijk en ekself het Die Kasteel in Kaapstad gebruik vir outentieke akoestiek en ruimtes. Die konsep as sodanig is nie nuut nie. Om egter ’n volledig plek-spesifieke produksie op te neem op straat, langs die strand en in ’n woonhuis, bied ’n heel nuwe stel uitdagings wat nie in ’n ateljee of selfs in ’n ruimte soos Die Kasteel in Kaapstad ondervind word nie. Veral nie onder die huidige Covid-regulasies nie.

Die grootste uitdaging vir my as regisseur was om die verskillende lokaliteite van die drama sodanig aan te wend dat die luisteraar as’t ware die gevoel van die klein kusdorpie in klank moet kan beleef. En natuurlik om ’n groepie totaal onervare akteurs letterlik binne die bestek van ’n enkele dag die medium en sy uitdagings te leer baasraak (en vir ’n paar selfs te leer toneelspeel). Net twee van die agt akteurs het amateur verhoogervaring as volwassenes gehad en een was ’n professionele radio- én verhoogaktrise.

Ook die teksskeppingsproses vir radio was ’n eerste ervaring vir Magdel Brand. Sekere konvensies van hierdie suiwerste vorm van drama, die radiodrama, is moeilik om met ’n eerste poging te bemeester. Appel van Rensburg het darem al ervaring opgedoen met kort Engelse radiodramas, maar het nog nie ’n vollengte radiodrama in Afrikaans geskep nie.

Mag hierdie luisterervaring soet op die oor val. En onthou dat elke oomblik van Oom Willem se bankie gevul is met die passie en entoesiasme van ’n groepie mense wat met die welwillendheid van die RSG-bestuur die geleentheid gegun is om deel te wees van ’n kosbare en unieke stukkie geskiedenis op RSG.

 

Agter v.l.n.r.: Thyrza Price (aankondigings); Gary Price (klankopnames); Barry Tolmay (WILLEM); Magdel Brand (medeskrywer en ALMA); Helmi White (JONG BABY). INLAS: Driekus Joubert (JONG WILLEM). Voor v.l.n.r.: Anelle Engelbrecht (SUSANNA); Appel van Rensburg (medeskrywer); Chanelle Matthee (JONG SUSANNA); Doné van den Bergh (ISABELLA); Barbara McArthur (BABY); Eben Cruywagen (regisseur)

 

Die spelers:
Barry Tolmay (WILLEM), Magdel Brand (ALMA), Barbara McArthur (BABY), Anelle Engelbrecht (SUSANNA), Doné van den Bergh (ISABELLA), Driekus Joubert (JONG WILLEM), Chanelle Matthee (JONG SUSANNA) en Helmi White (JONG BABY). Behalwe vir Barbara McArthur, maak al die akteurs hulle debuut in RSG Radioteater.

Laaste drama van ons 2e seisoen