Luister weer na Sondeseep


Donderdagaand (26 Mei) om 20:00 kan jy luister na Susan Marais se radiodrama, Sondeseep. Sondeseep was ‘n finalis in RSG/Sanlam se radiodrama skryfkompetisie van 2020.

Die storie

‘n Gesiene inwoner van ‘n plattelandse dorpie iewers in die Noordkaap verdwyn te midde van die gemeentesusters se beplanning van ‘n kerkbasaar ter ondersteuning van die kontrei se verarmdes. Aan die spits van hierdie filantropiese poging is Mevrou Dominee, kranige boerseep kookster. Maar is sy, inderdaad, besig met die Hemelse Koninkryk se werk?

In die rolverdeling is…

Dann-Jacques Mouton, Susanne Beyers, Antoinette Kellerman (voor), Anrich Herbst, Johann Nel, Kay Smith (voor), Frieda v d Heever en Amor Tredoux.

Susanne Beyers as Lenie Notnagel, voorste dame van die gemeente.

Haar eggenoot, Dominee Notnagel, word deur Johann Nel vertolk.

Frieda van den Heever is Sonia De Bruyn, die sekretaresse sonder ‘n wag voor haar mond.

Dann-Jacques Mouton kan gehoor word as Konstabel Karel, die ondersoekbeampte en jeugvriend van Sonia.

Antoinette Kellerman speel Marietjie Labuschagne, gemeentesuster en Lenie se regterhand.

Kay Smith vertolk die rol van Rienie de Beer.

En Anrich Herbst kan gehoor word as Stiaan Treurnicht, die gesiene boer, asook die Polisiekaptein.

 

Cassi Lowers was verantwoordelik vir die tegniese versorging.

Amor Tredoux het die regie behartig.

Regisseursvisie

Wat gebeur as onreg, misdaad en wanbestuur nie voor stok gebring word  in ‘n gemeenskap nie? As die sondebokke telkens wegkom met hul vergrypings, danksy hul sosiale status? Mens kan keelvol raak..

Op ‘n oënskynlik rustige plattelandse dorpie iewers in die Noordkaap word ‘n kerkbasaar deur die gemeentesusters beplan ter ondersteuning van die behoeftiges in die gemeenskap wat, veral in die greep van Covid, noustrop trek. Mevrou Dominee, Lenie Notnagel, is die ywerige kookster van boerseep wat op einste basaar verkoop sal word. Sy sien haar seepkokery as die werk van God se Koninkryk…

Susan Marais, skrywer van Sondeseep, is ook ‘n predikantsvrou en seepkookster, maar dis waar die ooreenkoms eindig! As landboujoernalis het sy intieme kennis oor veediefstal opgedoen en die verpletterende uitwerking daarvan op ‘n verarmde boeregemeenskap. As predikantsvrou moes sy telkens hartseerstories van vrouens en skooldogters aanhoor wat deur ‘n familielid of gesiene persoon in die gemeenskap seksueel seergemaak is. Daarom het sy gekies om hierdie kwessies aan te roer as sentrale ‘sondes’ in die storie.

In die rolverdeling van Sondeseep kan jy vir Susanne Beyers hoor as Lenie Notnagel, die ywerige seepkookster. Johann Nel speel haar niksvermoedende eggenoot, Dominee Notnagel. Antoinette Kellerman verleen grinterige tekstuur met haar vertolking van Marietjie Labuschagne, een van die gemeentesusters.  Frieda van den Heever blaas lewe in die bekkige  kerkkantoor sekretaresse, Sonia. Dann-Jacques Mouton (van Noem my Skollie-faam ) is haar jeugvriend en ondersoekbeampte, Konstabel Karel. Kay Smith is Rienie de Beer, ‘n ontnugterde enkelma.  En Anrich Herbst sorg vir koue rillings met sy vertolking van Stiaan Treurnicht.

Wie is die vark in die verhaal? Luister Donderdagaand 26 Mei om agtuur om uit te vind. En tel intussen maar jou sondes…

 

Johann Nel en Susanne Beyers vat ‘n blaaskans vat. Frieda is vrolik.

Dann-Jacques Mouton en Johann Nel laat waai.

Antoinette Kellerman in aksie vor die mic.

 

2022 se 1e dramaseisoen