Caster het nie 12% voordeel soos mans nie


Caster Semeya in aksie

Die Hof vir Arbitrasie in Sport het Suid-Afrika se Olimpiese en Wêreldkampioen in die 800-meter, Caster Semenya, se appèl teen beoogde nuwe reëls vir vroue-atlete, van die hand gewys. Emosies loop hoog ná dié beslssing – wat nou beteken dat die IAAF se nuwe reëls wat ‘n perk stel op die natuurlike testosteroonvlak van vroue wat in wedlope van tussen 400- en 1500 meter deelneem – van 8 Mei in werking sal wees.

Maar wat is die wetenskaplike bewyse vir of teen die besluit? En waar pas iemand soos Caster Semenya in op die spektrum tussen man en vrou? En kan verhoogde testosteroonvlakke werlik tot beter sportprestasie lei? Hoe groot is hierdie voordeel? Geld dié voordeel vir Caster Semenya en kan die voordeel gemeet word?

Marí Hudson het met die internasionaal-erkende sportwetenskaplike, prof. Ross Tucker, gesels. Hy het self in Lausanne aan die Hof vir Arbitrasie in Sport, wetenskaplike studies voorgelê.

Hier is Deel 1 van die gesprek:

Hier is deel 2 van die gesprek:

Wat sal gebeur as Caster Semenya middels neem om haar testosteroonvlakke te verlaag? Kan haar voordeel in dieselfde asem genoem word as groot voete vir swemmers en lang lywe vir basketbalspelers? Dít is van die vrae wat beantwoord word in die tweede aflewering in die kort reeks oor die Caster Semenya/Testosteroon/IAAF-kwessie. Marí Hudson gesels met ‘n sportwetenskaplike oor dié komplekse saak.

Enkele wetenskaplike feite

  • Mans het – hoofsaaklik danksy hul testosteroonvlakke en die gevolge daarvan – ‘n konstante 12% voordeel in sportprestasie bo vroue. Die redes is kortliks omdat mans se spiermassa meer is, hul vetmassa minder, hulle meer hemoglobien het wat meer suurstof kan dra en omdat hulle spiere gouer van uitputting kan herstel en hulle dan gouer weer harder kan oefen om gouer meer spiere te bou.
  • Dit geld vir alle sportsoorte, en alle items in atletiek, en nie net vir sekere items nie.
  • In die normale ontwikkeling van ‘n baba, word fetusse met 46XY-chromosome manlik en fetusse met 46XX-chromosome vroulik. Die normale ontwikkeling vind as volg in spesifieke stappe plaas:
    1) ‘n Fetus met 46XY chromosome se Y-chromosoom gee ‘n kode aan die liggaam dat testes moet ontwikkel. (Sonder die Y chromosoom is dié kode afwesig, en ontwikkel eierstokke en ‘n baarmoeder).
    2) Die testes skei testosteroon af.
    3) As die liggaam al die testosteroon-reseptore het, bind die testosteroon aan die reseptore en gee die kode dat ‘n penis ontwikkel en dit is chromosomaal en uiterlik ‘n seun.
  • In een uit 20 000 of selfs een uit 100 000 gevalle, vind Ander Seksuele Ontwikkeling (in Engels Different Sexual Development) plaas en het die fetus se liggaam of glad nie, of onvoldoende testosteroon-reseptore nie, kan al die testosteroon nie bind nie, en is die gebinde (bruikbare) testosteroon te min om die kode te gee dat die baba uiterlike manlike geslagsorgane ontwikkel. Die baba lyk dan uiterlik soos ‘n vrou. Indien al die testosteroon onbruikbaar is, ontwikkel ‘n baie mooi en vroulike vrou (dikwels so mooi dat hulle modelle word en al is hul Testosteroonvlakke baie hoog, kan hul liggaam dit nie gebruik nie, en het hulle ook geen voordeel in enige sport bo enige ander vrou nie – hulle word vroue met Volledige Androgeen Insensitiwiteit [VAI] genoem) of as slegs ‘n deel van die testosteroon bruikbaar is, ontwikkel ‘n meer gespierde vrou, wat bekend staan as Onvolledige of Gedeeltelike Androgeen Insensitiwiteit [GAI]. Caster Semenya is só ‘n vrou.
  • Caster Semenya se testosteroonvlakke is baie hoog en selfs hoër as dié van baie mans, maar as haar liggaam dit soos ‘n man kon gebruik, sou sy as ‘n babaseun en later as ‘n man ontwikkel het. Haar liggaam kan wel ‘n deel van die testosteroon gebruik. Dit is nie duidelik watter persentasie van haar testosteroon haar liggaam wel kan gebruik nie, maar as ‘n mens haar tye oor die 800m met dié van ander vroue vergelyk, is dit tussen 1% en 2,1% beter as dié van ander vroue, en nie 12% soos dit teoreties sou gewees het indien sy wel al haar testosteroon kon gebruik.
  • Dit is interessant om kennis te neem dat ander vroulike atlete in ander items soveel as 4% beter gevaar het as al hul vroulike teenstanders. Semenya se beter prestasie is dus nie buite verhouding nie.
  • Die metodologie van die studie wat die IAAF aangehaal het om te bewys dat Semenya ‘n ongeoorloofde voordeel bo ander vroue het, word wetenskaplik sterk in twyfel getrek. Die grootste kritiek is dat die IAAF bewyse kon vind dat atlete soos Semenya ‘n voordeel het in die 400m, 400m hekkies, die 800m, paalspring en hamergooi, maar glad nie in die ander 17 items in atletiek nie. Dit stem glad nie ooreen met wetenskaplike bewyse dat mans in alle items sowat 12% beter vaar as vroue nie, en dat die voordeel van hoër testosteroon-vlakke vir al 22 atletiek-items geld nie. Die voordeel van Semeya en kie kan egter nie gekwantifiseer word nie en niemand kan sê hoeveel van hul testosteroon bruikbaar is of nie. Die bruikbaarheids-indeks is nie gemeet nie, en aannames word op raaiwerk gegrond. Voorts het die IAAF toe paalspring en hamergooi uitgehaal en 1500m bygevoeg. Dié onwetenskaplike stap lok ook kritiek van wetenskaplikes uit.
  • Vroue met VAI, wat geen voordeel van hul testosteroonvlakke kry nie, word oor dieselfde kam geskeer as vroue met GAI, wat tog ‘n voordeel kan geniet, hoewel die voordeel nog nie gemeet is nie.
  • Vroue met VAI en GAI is heeltemal verskillend as transgender vroue, wat eers volledig man was met al die ingeboude voordele van mans met testosteroon en selfs ná transformasie tot vroue dié ingeboude jarelange voordeel kan geniet.

    Luister Woensdag 15 Mei verder na nog interessante feite rondom hierdie saak:

    Sal Caster Semenya netsoveel kan uitblink in die 3000m en 5000m as in die 800m?
    Kan Semenya se voordeel vergelyk word met die voordeel wat ‘n lang speler het in basketbal, of ‘n swemmer met groot voete?
    Wat is die oplossing vir dié moeilike kwessie?
    Is verdere navorsing nodig, en indien wel, watter soort navorsing?

Agtergrond-inligting

Hier is die nuusberigte oor dié besluit:

  • 2 Mei 2019 21:00

    Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging het die verwerping van die atleet Caster Semenya se appèl teen die Internasionale Atletiekfederasie IAAF se regulasies oor testeroonvlakke as `n oortreding van menseregte beskryf. `n Woordvoerder van die vereniging, Angelique Coetzee, sê indien Semenya appèl wil aanteking teen die beslissing, sal hulle haar ondersteun. Hulle dink die beslissing is onregverdig omdat die getuienis nie wetenskaplik genoeg was nie. Coetzee dit kan nie op `n enkele toets gegrond word nie. Sy sê meer toets moet gedoen word om te bepaal of testeroonvlakke werklik so `n groot verskil maak.

  • 2 Mei 2019 16:00

    Die Suid-Afrikaanse atleet, Caster Semenya, gaan deelneem aan ‘n wedloop more-aand wat moontlik haar laaste internasionale deelname aan die 800 meter sal wees. Haar naam verskyn op die lys van atlete wat in Doha in Katar aan die eerste Diamantliga-byeenkoms van die jaar gaan deelneem. Altesaam 12 atlete sal in die 800 meter hardloop. Almal se beste persoonlike tye is onder twee minute. Een van die deelnemers is Francine Niyonsaba van Burundi wat blykbaar ook geraak word deur nuwe regulasies van die IAAF oor ‘n beperking op die natuurlike testosteroonvlakke van vroue in sommige items. Die nuwe reëls tree Woensdag in werking wat beteken dat dié atlete medikasie moet neem of aan ander afstande deelneem.

  • 2 Mei 2019 9:00

    Die nuwe regulasies van die Internasionale Vereniging vir Atletiekfederasies wat testosteroonvlakke van vroue-atlete beperk, tree aanstaande Woensdag in werking. Dit volg nadat Caster Semenya en Atletiek Suid-Afrika hul appèl in die Arbitrasiehof vir Sport verloor het. Dit beteken dat die eerste Diamantliga-byeenkoms van die seisoen wat môre plaasvind in Doha nie geraak sal word nie. Semenya het nie ingeskryf vir die vroue 800 meter-item nie, maar twee van haar gereelde mededingers, Margaret Wambui van Kenia en Francine Niyonsaba van Burundi, is wel op die deelnemerslys. Lynsey Sharp van Brittanje wat baie uitgesproke was in haar kritiek dat Semenya ‘n onregverdige voordeel het, sal na verwagting ook deelneem. Die Arbitrasiehof in Sport het in sy uitspraak teen Semenya toegegee dat die regulasie wat natuurlik geproduseerde testosteroonvlakke by vroue beperk per definisie diskriminerend is.

  • 2 Mei 2019 7:00

    Die Internasionale Vereniging vir Atletiekfederasies, die IAAF, het die Arbitrasiehof vir Sport se beslissing oor Caster Semenya verwelkom. Semenya het teen die besluit van die federasie geappelleer, ingevolge waarvan vroulike atlete met verhoogde testosteroonvlakke, verbied sal word om aan sekere baanitems deel te neem, indien hulle nie hul hormoonvlakke kunsmatig verminder nie. Sommige paneellede van die hof het egter hul kommer oor die uitvoerbaarheid van die besluit uitgespreek, maar is van mening dat dit steeds nodig is.

  • 1 Mei 2019 23:00

    Reaksie stroom steeds in ná die aankondiging van die Arbitrasiehof vir Sport dat Caster Semenya haar appèl teen die Internasionale Vereniging vir Atletiekfederasies verloor het. Die federasie het vroeër besluit om ‘n beperking op vroue se testosteroonvlakke te plaas. Dit beteken as hulle steeds wil meeding in sekere baanitems, sal hulle hul testosteroonvlakke kunsmatig moet verlaag. Die regering van Limpopo het intussen aangekondig dat hy Caster Semenya sal ondersteun om teen die beslissing appèl aan te teken. ‘n Woordvoerder van die premier se kantoor sê voorts die beslissing van die Arbitrasiehof is ‘n groot terugslag vir alle vroue en die sportwêreld oor die algemeen.

  • 1 Mei 2019 19:00

    Intussen het die Departement van Sport het sy teleurstelling uitgespreek ná die besluit van die Arbitrasiehof vir Sport rakende Caster Semenya se appèl. ‘n Woordvoerder van die departement sê ‘n volledige uitspraak is aangevra en sal dan ‘n besluit neem oor wat hulle volgende gaan doen. Die departement het 30 dae om teen die uitspraak te appelleer, maar dit kan net gedoen word indien Atletiek Suid-Afrika dit aanbeveel.

  • 1 Mei 2019 18:00

    ‘n Hoogleraar in sportreg aan die Universiteit van Pretoria, Steve Cornelius, sê alles is nog nie verby vir Caster Semenya nie. Dit is ondanks die feit dat die Arbitrasiehof vir Sport haar appèl en dié van Atletiek Suid-Afrika van die hand gewys het. Hulle het beswaar gemaak teen die beperking op vroueatlete se testosteroonvlakke. Cornelius sê daar kan nog heelwat gebeur.

  • 1 Mei 2019 15:00

    Suid-Afrika se Olimpiese en Wêreldkampioen in die 800-meter, Caster Semenya, het op die nuus van haar mislukte appèl teen beoogde nuwe reëls vir vroue-atlete gereageer met die inskrywing: Soms is dit beter om liewer nie te reageer nie. Dit volg nadat die Hof vir Arbitrasie in Sport haar appèl van die hand gewys het teen die IAAF se reëls wat ‘n perk stel op die natuurlike testosteroonvlak van vroue wat in wedlope van tussen 400- en duisend-500 meter deelneem. Ondersteuners van Semenya en Suid-Afrikaners oor die wêreld heen het met skok en woede op die aankondiging gereageer. Talle mense meen daar word teen haar gediskrimineer bloot omdat sy ‘n swart vrou is. Semenya kan binne dertig dae by die Switserse Federale Tribunaal teen die beslissing appelleer.

  • 1 Mei 2019 13:00

    Die Hof vir Arbitrasie in Sport het Suid-Afrika se Olimpiese en Wêreldkampioen in die 800-meter, Caster Semenya, se appèl teen beoogde nuwe reëls vir vroue-atlete, van die hand gewys. Die IAAF se nuwe reëls sal ‘n perk stel op die natuurlike testosteroonvlak van vroue wat in wedlope van tussen 400- en duisend-500 meter deelneem. Die hof het beslis dat die nuwe regulasies nodig is om regverdige mededinging te verseker. Die hof het egter kommer uitgespreek oor die praktiese toepassing van die nuwe reëls. Die hof se beslissing beteken dat Semenya en ander atlete in dié situasie wat hoop om deel te neem aan die Wêreldkampioenskap in Doha in September, binne ‘n week sal moet begin om medikasie te gebruik om hulle testosteroonvlakke te verlaag.

    Lees en luister ook:

Vroue-atlete, testosteroon en sportprestasie