My DDN-storie: Week#10 is ek in die Oos-Kaap


Gesondheid op RSG se Marí Hudson deel haar ervarings van die Doen Dit Net (DDN) aksieplan.

My tiende week is driekwart en ek is effe uit ritme en op Kirkwood in die Sondagsriviervallei (foto regs) in die Oos-Kaap, want my pa word Saterdag 93 jaar oud, en my ma (86 en aan die gang) draf rond om alles te reël.

Só het my week#10 tot dusver verloop:
Kopplan:
Sjoe, ek staan stil wat my gewig betref. Maar ek het geweet dit kom. My brein moet nou eers weer herprogrammeer en my nuwe gewig as die nuwe normaal aanvaar. Dus beleef ek my eerste gewigsverlies-plato, en moet ek net mooi vasbyt en deurdruk.

Oefenplan:
Sondag: Rus
Maandag: Ek oefen onder die wakende oog van Frederika en my gô is behoorlik uit.
Dinsdag: ek is in transit. Eers met ‘n bussie tot by die  Kaapstad lughawe, toe per vliegtuig tot in Port Elizabeth, en toe tot op Kirkwood, so uur se ry uit die Baai uit. Tot by my ma en pa.
Woensdag: Rus, want dit reën saggies af en aan deur die dag.
Donderdag: Ek word wakker van ‘n haantjie wat verwoed vroegdag kraai, en ‘n kalkoen se koeloe-koeloe-koelie. Ek kyk uit my kamervenster op lemoenboorde en die Rietberg, wat deel is van die Suurberg-reeks.

Ek stap 35 minute, waarvan ek 18 minute draf.

Eetplan:
Dis beslis moeiliker om gesond te eet as ek by mense kuier, al is of dalk juis omdat die mense my familie is. Dis moeilker om nee te sê vir outydse melktert met ‘n skilferkorsdeeg as almal om jou daaraan smul, of om nie ‘n tweede bord van jou ma se lamsbredie en pampoenkoekies te eet nie, maar ek probeer. Ek probeer.

Ná byna 10 weke (waarvan 2 weke oefeningloos weens griep) en 35 oefensessies:

  • is dit beslis ‘n moeilike ‘vakansie’-week,
  • probeer ek my bes om nee te sê ver allerlei lekkernye en koeke en terte

Ek is steeds 5,5 kg ligter en my middellyfmate is steeds 5 cm minder. Ek staan effe stil.

Skryf aan my by gesond@rsg.co.za en laat weet hoe jy vorder en wat jou laat vasdraai.