Kom ons lewe anders (KOLA)-20 aksieplan


COVID-19 is besig om die wêreld te verander: hoe ‘n mens dink oor die wêreld, die natuur, siekte, gesondheid en oor jouself, die ekonomie, geld, werk, verhoudings, eet, oefen, slaap en jou kopspasie. Die inperkings het menige van ons gevang om dinge te doen wat nie noodwendig gesond is nie: sommige wil aanmekaar peusel aan soetgoed, ander het net nie dryfkrag of die lus om tuis oefening te doen nie, en baie mis hul daaglikse buitelug-aksie (of dit nou stap, draf of fietsry is) met ‘n seer hart.

Ons het die suksesvolle Doen Dit Net (DDN) aksieplan – wat saamgestel is met die hulp van geregistreerde dieetkundiges om jou te help om jou ideale gewig te bereik, meer aktief te word en om jou kop in rat te kry – aangepas vir die tyd van inperking, waar ons nie gym toe kan gaan, of in groepe saam oefen kan oefen of aan ‘n Parkrun mag deelneem nie. Ons moet dinge nou tuis en op ons eie doen, en mag vir eers net tussen 06:00 en 09:00 soggens buite (en wel binne 5 km van jou huis) stap, draf of oefen. Dis nou die KOLA-20 aksieplan. Soos die inperkingsmaatreëls verslap word, sal die program ook aangepas word.

As ons praat van anders lewe, bedoel ons nie net fisiek aktiewer nie, maar ook anders in ons eetpatrone, en ook anders en aktiewer in ons denke, dus meer bewustelik.

KOLA-20 is jou plan om weer tot aksie oor te gaan en jou voor te berei op die lewe tydens (want die virus gaan nog lank met ons wees) en ná COVID-19. Dit sal jou ná hierdie weke van vlak 5 inperking en waarskynlik minimale oefening, aanspoor tot groter selfdissipline, maar ook groter selftevredenheid, want hoe verder jy op die pad vorder, hoe makliker word dit en hoe meer genot sal jy put uit jou sterker liggaam en helderder brein. Ons help jou met raad en wenke en die wete dat jy nie alleen in hierdie bootjie is nie.

Teken hier in op die weeklikse RSG Gesond nuusbrief om elke week se KOLA-20 plan te kry.

Begin die aksieplan enige tyd. Ons gaan inligting verskaf op ‘n weeklikse grondslag vir minstens 12 weke. In dié tydperk van 12 weke, kan jy met gemak minstens 6 kg afskud, en baie fikser word. Jy kan ook jou uitkyk op die lewe verander, as COVID-19 dit nie reeds gedoen het nie.

Die aksieplan is bedoel vir almal wat oorgewig en onfiks is, en wie se middellyfmate meer as 80 cm is vir vroue en meer as 94 cm vir mans. Daar sal ook raad wees vir mense wat gewig wil optel en vir kinders en tieners en mense in rolstoele.

Hier is jou doenlysie voordat jy nog die eerste oefentree gee of ‘n nuwe eetplan-happie aanpak:

  • Hou op met dink, doen net. Hou op om te wonder of te tob of te dink of jy lus het vir die aksieplan of nie. As jou  middellyfmaat meer as 80 cm is vir vroue en meer as 94 cm vir mans, is dit jou kans om ‘n plan in werking te stel.
  • Teken in op die Gesondheids e-nuusbrief. Die weeklikse nuusbrief sal die week se aksieplan, weeklikse eetplan, inligting en raad bevat wat jou sal help. Teken hier in op die RSG Gesond nuusbrief.
  • Meet jou middellyfmaat, en vul dit op jou almanak in.
  • Kyk vir oulaas goed na jouself in die spieel. Na jou bultjies en rolletjies. Neem ‘n foto van jou as jy wil.  Jy gaan nooit weer so lyk nie.
  • Maak ‘n afspraak met jouself in jou dagboek. Jy gaan minstens vier keer per week oefen, en moet aanvanklik 20 tot 30 minute daarvoor eenkant sit, later effe langer. Tydens die inperking, is daar min rede om nie elke dag bietjie oefening te doen nie. Besluit oor die beste tyd vir jóú. Gaan dit soggens  wees, of laatmiddag? Kies ‘n tyd wanneer dit jou dag die minste gaan ontwrig, maar nie wanneer dit nie te koud of te warm is nie. Dis die heel belangrikste afspraak – die een met jouself – en mag nie verskuif of gekanselleer word nie.
  • Masker op: ‘n Bandana of oefenings-nekserp om jou neus en mond as jy dalk jou erf verlaat, kan net so goed werk as ‘n lapmasker.
  • Niks teen die regulasies nie: Onthou, ons mag na ‘n kruidenierswarewinkel stap/draf/fietsry om ‘n appel te gaan koop. Maar ons mag nie in groepe oefen en sonder ‘n masker buite ons erwe verskyn nie.
  • Die soort oefening. In die inperkingstyd gaan ons begin met oefeninge en strekke wat jy met gemak tuis kan doen. Ons gaan begin deur jou kern-spiere van jou maag en rug sterker te maak, sodat jy met die regte postuur kan stap, draf of fietsry wanneer die inperking verslap word. Ons gaan ook begin met kardiovaskulêre oefeninge om jou stadig (weer) fiks te maak.
  • Doen dit saam met iemand. As jy dit nie saam met een van jou huismaats kan doen nie, bel jou buurvrou en vra haar om dit anderkant die muur saam met jou te doen.
  • Maak seker jy het oefenklere. Haal jou sweetpak en ‘n los T-hemp uit die kas, of enige oefenklere wat gemaklik sit. Kry jou tekkies of oefenskoene gereed. Dis nie nodig om dadelik nuwe klere en skoene te koop nie, maar as jy wil/kan, sorg dat jou nuwe stap- of drafskoene een nommer groter is as jou gewone skoene. As jy nie ‘n oefenbroek het wat tot by jou knieë lekker styf sit om skaafmerke te keer nie, kan jy gerus later een aanskaf – en vergeet daarvan om later in ‘n ou rugbybroekie te stap of te draf, want jy sal jou bobene stukkend skaaf. ‘n Ligte oefehemp van sintetiese materiaal wat gou droog word, is ook ‘n plus. Vroue sal ook nooit geldmors om in ‘n goeie oefenbra te belê nie – sodra die inperkingsmaatreëls dit toelaat!
  • Bel jou dokter of dieetkundige. As jy ouer as 60 is en baie oorgewig en onfiks is, bel jou dokter om net doodseker te maak jou hart sal die beitjie ekstra las van oefening kan dra.
    As jy ‘n diabeet is, volg die eetplan wat jou dieetkundige voorgeskryf het, streng. Of volg die Skud-dit-af eetplan, wat ons ook week-vir-week sal verskaf.
  • Meet jou vordering: Byna elke soort slimfoon het ‘n spesiale toep om te meet hoe ver jy stap, of hoeveel kilojoules/kalorieë jy verbrand. Vra een van jou kinders/kleinkinders om jou touwys te maak – al is dit telefonies. Anders meet jy bloot jou vordering deur te tel en op jou horlosie te kyk.
  • Vir elke mikpunt wat jy bereik, moet jy jouself bederf, of dit ‘n klein bederf of grote is: ‘n nuwe paar oefensokkies, ‘n nuwe haarstyl, ‘n aromaterapie massering, ‘n nuwe stel oefenklere, ‘n hartspoedmonitor, ‘n nuwe sonbril, ‘n MP3-speler. Dink sommer nou-al wat jou eerste bederf sal wees ná die inperkings!
  • Tyd vir pret. Ons mikpunt is om jou fiks genoeg te kry sodat jy – sodra pretstappe, pretdrawwe, fietsrenne, RUN-Walk-for-Life, Parkruns en so meer weer toelaatbaar is – met gemak weer kan inval. Intussen skep ons ons eie pret en uitdagings.

Klik hier vir KOLA-20 week #1.

https://www.rsgplus.org/leefstyl/kola-20-week-1/

https://www.rsgplus.org/leefstyl/kola-20-week-2/

https://www.rsgplus.org/leefstyl/kola-20-week-3/

Deur Marí Hudson

© Mari Hudson